Tuesday, December 16, 2025

Noordwes-Jongboer boer vir die volgende geslag

Estimated reading time: 5 minutes

William Harvey, ’n jong boer van die Tlakgameng-omgewing, noord van Vryburg, is vanjaar as die Noordwes-provinsie se Jongboer van die Jaar aangewys. Vir hom is boerdery deel van sy DNS.

Harvey kom uit ’n familie wat oor die jare as leiers in die landbougemeenskap van Vryburg uitgestaan het. William se pa, Keith Harvey, was van die eerste boere in die Vryburg-area wat die idee van holistiese boerdery begin ondersoek en met presisieboerdery in die beesbedryf begin het. Dit was konsepte waarmee William grootgeword het en wat hy vandag ook self toepas.

William Harvey, ’n boer vanuit die Tlakgameng-omgewing, is aangewys as die Noordwes-provinsie se Jongboer van die Jaar. Vir hom is die boerdery ’n familiebesigheid en sy gesin werk ewe hard om van die plaas ’n sukses te maak. William is getroud met Reinette en hulle het vier kinders, Nathan (12), Haley (11), Caleb (9), en Abigail (6). (Foto: Verskaf)

William, sy vrou Reinette, en hul vier kinders boer hoofsaaklik met Bovelder-beeste. Harvey Cattle Ranches het al ’n bekende naam onder beesboere geword – nie net by boere wat nuwe teelmateriaal wil aanskaf nie, maar ook by die kommersiële mark wat goeie speenkalwers en slagbeeste aanvra. Hy bedryf ook ’n kleiner braaihoenderonderneming op die plaas, maar die beesboerdery vorm die hoofkomponent van die boerdery.

Boer met gras

Die Tlakgameng-area het uitstekende grasweiding vir beeste en daarom is dit vir William belangrik om hierdie weiding ten volle te benut om volhoubaar te boer. Hy vertel dat sy pa die vermoë gehad het om buite die boks te dink en nuwe dinge op die proef te sel, maar ook om ’n ander benadering te beproef as iets nie gewerk het nie. Hy was veral baie gesteld daarop om die weiding te beskerm, maar omdat gras onder drukbeweiding en goeie rus gedy, het William dit ook deel van sy boerdery gemaak.

Sy troppe beeste is redelik groot ten einde die beginsel van druk beweiding toe te pas, maar dan gee hy sy kampe ook goeie kans om te rus en te herstel voordat dit weer bewei word. “Om weiding te verbeter is ’n langsame proses en ’n mens moet geduld hê om dit te doen. Elke aksie het ’n reaksie en daarom moet jou beplanning van so ’n aard wees dat jy volhoubaar kan boer. Dit is die beginsel wat ek by my pa geleer het en waarvoor ek dankbaar is.

William boer met Bovelder-beeste. Dit is ’n nuwe ras in die omgewing en hy werk hard om die naam onder boere in die omgewing van Vryburg bekend te maak. (Foto: Verskaf)

“Oor die jare het baie dinge in landbou egter ook verander en ons het daarby aangepas. Vandag kry ek die resultate van die planne wat hy gemaak het, en hoewel ons aanvanklik gefokus het op die bevordering van die gras, is ons nou op ’n stadium waar beide die beeste en gras bevoordeel word. Op dié manier kan ons volhoubaar bly boer,” is sy mening.

Natuurlike seleksie

Omdat hy met groot groepe werk is dit interessant dat daar ’n natuurlike seleksie onder die diere plaasvind. Die diere word feitlike elke dag geskuif om drukbeweiding toe te pas en dit veroorsaak baie kompetisie tussen die beeste om te presteer en genoeg gras te kry vir die dag. In die proses moet hulle baie stap en fiks bly. Die gevolg is ’n natuurlike seleksie, want die swakkes begin vinnig uitval.

“Ons fokus baie op vrugbaarheid en as daar ’n koei is wat nie ’n kalf gee nie, word sy onmiddellik uitgeskot. Op die manier bewys die diere hulself en is daar nie plek vir passasiers in die kudde nie,” sê Harvey.

William het met die idee van holistiese boerdery en die belangrikheid van presisieboerdery grootgeword. Hy pas al daardie beginsels toe en poog altyd om sy veld uitstekend te hou sodat die beeste daaruit kan voordeel trek.

Dieregesondheid

Wat dieregesondheid betref, volg Harvey ’n baie eenvoudige program. Hy sê hulle sal die noodsaaklike inentings en immunisering doen om siektes uit te hou, maar as een dier ’n ernstige probleem opdoen gaan hulle nie die hele kudde behandel nie, slegs daardie een dier word behandel. Dit is deel van sy seleksieprogram. Omdat hulle op ’n baie natuurlike wyse boer is, kan die diere hulself teen siektes beskerm en hoef diere baie minder gespuit en behandel te word.

Bemarking is ’n sleutelpilaar

Bemarking is ook ’n belangrike deel van William se boerdery. “Dit is moeilik om ’n goeie naam op te bou en dit te behou. Harvey Cattle Ranches vorm deel van die Molopo Bovelder-studiegroep en ons werk baie hard om die ras se naam bekend te maak. Dit is ’n redelik onbekende bees in hierdie omgewing,” verduidelik hy.

Die studiegroep hou die afgelope agt jaar elke jaar ’n inligtingsdag om elke faset van die boerdery te bespreek en boere van die ras bewus te maak. Verder is hulle baie betrokke by die vetveeskoue in die omgewing en die verseskou in Vryburg. Die groep het die afgelope twee jaar speenkalfveilings op Piet Plessis in Noordwes aangebied, waar hulle hul beste speenkalwers bemark.

Vir William is sy boerdery nie sommer net nog ’n werk nie. Vir hom en sy gesin is dit eerder deel van hul daaglikse bestaan. Hy sê sy langtermyn ideaal is om ’n volhoubare boerdery vir sy kinders en kleinkinders na te laat. Die kennis wat hy van sy pa en oupa gekry het, is van onskatbare waarde en hy wil dit graag aan sy nageslag oordra. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak William Harvey gerus by 071 108 343.

Related

Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes Die 73-jarige verdagte, wat verbind word met die Chubby Chick-skietvoorval vroeg in November, is steeds onder polisiebewaking in ’n hospitaal...

Wheat farmers financially strained as Section 7 investigation looms

Estimated reading time: 5 minutes The Wheat Forum has applied for the establishment of a Section 7 Committee to conduct a comprehensive investigation into the...

Agri X Fusion 2026 to align research and industry for the...

Estimated reading time: 2 minutes Agri X, in partnership with the North-West University (NWU), will host the Agri X Fusion Red Meat Value Chain Event...