Tuesday, February 4, 2025
HomeMagazines’n Plaasvoerkraal voeg waarde tot jou speenkalwers toe

’n Plaasvoerkraal voeg waarde tot jou speenkalwers toe

Estimated reading time: 8 minutes

  • ‘n Plaasvoerkraal kan beduidende waarde tot speenkalwers voeg maar verg fyn bestuur en deurdagte besluitneming.
  • Goeie beplanning is nodig waarin jou bure in ag geneem moet word – hulle en jy moet verseker wees dat die afloopwater uit die voerkraal nie strome of damme sal besoedel nie.
  • Die voordeel van ‘n plaasvoerkraal is dat die kapitale uitleg van die vaste strukture heelwat goedkoper is as die waarde van die beeste en voer.
  • As die produsent egter ernstig is om diere af te rond, kan dit duur wees om goedkoop hulpmiddels mettertyd te moet vervang.
  • As die produsent ook graan verbou, gee ’n plaasvoerkraal vir hom die geleentheid om net sy grond met ’n hoë opbrengspotensiaal vir graanverbouing te gebruik en aangeplante weidings op die res te vestig.

Beduidende waarde kan tot speenkalwers toegevoeg word met ’n plaasvoerkraal. Dit verg egter fyn bestuur en deurdagte besluitneming om te verseker dat dit in ’n winsgewende vertakking van die vleisbeesboerdery ontwikkel.

Lukas Eksteen van Bufland Agri by Mookgophong (Naboomspruit) het dié paadjie self geloop en vertel van die welslae en slaggate op dié pad, asook die bestuursplanne wat ’n mens moet maak om te slaag. Sy raad is om stadig te begin en te sorg dat jou kontantvloei van so ’n aard is dat jy die eerste groep diere deur die hele siklus kan neem. Om halfpad te moet ophou en dan halfgevoerde diere te verkoop, verseker ’n baie groot verlies.

Goeie beplanning is nodig waarin jou bure in ag geneem moet word – hulle en jy moet verseker wees dat die afloopwater uit die voerkraal nie strome of damme sal besoedel nie. Verskillende regulasies geld vir kleiner en groter voerkrale en ’n produsent moet seker maak wat dié vereistes vir sy omgewing is.

Lees meer oor die waarde van voerkraalvoorbereiding van kalwers hier.

Die regte tyd

Die ideale tyd om diere self af te rond is wanneer die speenkalf- en mieliepryse laag is, terwyl die geskatte vleispryse (A-graad karkas) oor ‘n paar maande hoog gaan wees. Die voordeel van ‘n plaasvoerkraal is dat die kapitale uitleg van die vaste strukture heelwat goedkoper is as die waarde van die beeste en voer.

Produsente hoef dus nie noodwendig die voerkraal elke jaar te gebruik nie. In jare waar die prysscenario met speentyd gunstig is, is dit beter om die graan en speenkalwers te verkoop en die kraal leeg te laat staan, terwyl die kraal weer ingespan word in jare waar die pryse laag is. As ’n produsent beplan om ’n plaasvoerkraal deel van sy boerdery te maak, is daar vier blokkies wat hy moet afmerk om sy kans op welslae ’n goeie hupstoot te gee.

Hy moet:

  • Reeds met beeste boer.
  • Surplus ruvoer tot sy beskikking hê.
  • Ook met graan boer.
  • ’n Sterk kontantvloei hê wat hom minstens deur die volle eerste siklus sal dra.

Lees meer oor hoe fasevoeding voerkraalproduksie ‘n hupstoot kan gee.

Hindernisse en hekkies

Om naby vleisafsetpunte te wees, te verseker dat speenkalwers die hele jaar beskikbaar is en seker te maak daar is toegang tot slaggeriewe, is ander faktore wat bydra tot sukses. Die voordeligste scenario is om die diere regstreeks by ’n abattoir te laat slag, eerder as om hulle op vetveeveilings aan te bied.

Lukas sê iets wat hy self ondervind het, is toetree-hindernisse. Voerkrale se hardebaard-kopers gee jou as nuweling opdraande by veilings en jy betaal duurder vir die speenkalwers wat jy aanskaf. Jy moet ook vroegtydig jou slagdatums by die abattoir vasmaak, anders word jou diere in die stil tye geslag en dié van gevestigde kliënte in die tye wanneer die vleisprys hoër is.

As iemand wat nie met beeste boer nie ’n voerkraal wil begin, het hy waarskynlik nie die nodige infrastruktuur en hanteringsgeriewe nie. Voerkraalbeeste word weliswaar net drie keer tydens die siklus van afronding hanteer, maar hulpmiddels soos ’n nekklamp, lyfklamp, ’n skaal en een of ander vorm van ’n kraal is nodig.

Rek jou rande

Sy raad is om so goedkoop as moontlik te begin, aangesien jy aanvanklik nie die mees moderne en duurste hulpmiddels nodig het nie. As die produsent egter ernstig is om diere af te rond, kan dit duur wees om goedkoop hulpmiddels mettertyd te moet vervang. Sy advies: koop slim.

Die kraal kan verskeie vorms aanneem. ’n Ontwerpte, permanente staalkonstruksie of ’n paar draadkampies op natuurlike weiding gaan aanvanklik dieselfde doel dien. Die afrondingsproses kan selfs deel uitmaak van ’n strook-drukbeweidingstelsel met verskuifbare waterkrippe en voerbakke. Dit kan ook gedoen word waar voergewasse onder besproeiing met spilpuntstelsels verbou word.

Die grootte van die kampies of verskuifbare krale sal bepaal word deur die produsent se eie oogmerk met die stelsel.

Met laasgenoemde stelsels is dit dan ook makliker om diere net sekere tye van die jaar te voer. So ’n stelsel kan vereis dat die boer dalk effens langer moet voer en ’n paar rand van sy wins moet afstaan, maar dit sal verhoed dat duur infrastruktuur vir tye in die jaar leeg staan. Die stelsel kan dit ook makliker en goedkoper maak om te begin en soos wat die stelsel gevestig raak, kan dit meer permanent gemaak word, meen Lukas.

Optimale benutting van landerye

As die produsent ook graan verbou, gee ’n plaasvoerkraal vir hom die geleentheid om net sy grond met ’n hoë opbrengspotensiaal vir graanverbouing te gebruik en aangeplante weidings op die res te vestig. Dié weiding kan hy sny, baal en verkoop of sny, baal en gebruik of as staandehooi benut.

Omdat ruvoer ’n groot volume het en relatief lig is, is dit duur om dit oor lang afstande te vervoer. Om dit te koop is ook nie altyd ’n goeie opsie nie; ’n mens weet nie altyd wat die gehalte daarvan is nie. Lukas praat uit ondervinding. Hy het in 2014 van die jong bulle van die Bufland Bonsmarastoet ’n fase D-toets laat deurloop in klein kampies met verskuifbare bakke. Hy het gou besef daar is ’n groot behoefte aan ’n toetsstasie in Limpopo en het in 2017 so ’n stasie gebou waarin honderd bulle van telers oor ’n wye gebied die afgelope vyf jaar getoets is.

Tydens die toets word die bulle se groei en voerdoeltreffendheid gemeet. Hy gebruik ’n skandeerder om die oogspieroppervlakte en vetheidsgraad van die diere te meet. Met die afhandeling van die toets keur amptelike keurders van die betrokke telersgenootskap die bulle om te verseker dat hulle aan die minimum rasstandaarde voldoen en dat die syfers hoër is as die minimum wat vir die betrokke ras gestel word.

Terwyl hy met die toetsstasie se beplanning besig was, het hy besef dat ’n geleentheid gaan ontstaan om diere wat in die toets afgekeur word in ’n voerkraal verder slaggereed te maak. Hy maak aan telers van dié afgekeurde diere ’n aanbod volgens ’n formule waarin hy die diere se genetiese vermoë, die skanderingsinligting en die feit dat die diere tydens die toets feitlik tot slaggereedheid gevoer is, in ag neem.

Só kan hy aan die eienaar ’n billike prys aanbied wat ook vir hom ’n geleentheid inhou om ’n wins te maak. Daarby hoef die produsent nie die diere na sy plaas of ’n abattoir te vervoer nie. Nog ’n voordeel is dat die telers speenkalwers saam met die bulle na Bufland se voerkraal kan bring, wat die rit met die toetsbulle meer kostedoeltreffend maak.

Lees meer oor hoe om speenkalwers voor te brei vir die voerkraal.

Terreinkeuse

Lukas het die voerkraal aangelê op ’n terrein met van die swakste weiding op die plaas en wat ver van sy bure en oop water geleë is. Dit is ontwerp om ’n staanruimte van 15m² en ’n vreetspasie van 330mm per dier te voorsien. Daar word nou sowat 500 diere per siklus slaggereed gemaak.

Om die diere te kan hanteer, is ’n drukgang wat effens opdraande en om ’n draai loop gebou; dit is omdat die diere makliker teen ’n helling uitstap. Die drukgang het ook ’n nek- en ‘n lyfklamp.

Aangeplante weidings is op al die marginale landerye op die plaas gevestig en die boerdery voorsien ook die graan wat in die rantsoene gebruik word. ’n Voedingkundige stel aanvangs-, groei- en afrondingsrantsoene saam wat onderskeidelik in die eerste sowat 36 dae, dan 90 tot 100 dae en die laaste 30 dae gevoer word.

Al die uitskotspeenkalwers van die Bufland-stoetery gaan reguit voerkraal toe en bulkalwers uit hul kommersiële kudde word ook in die voerkraal opgeneem. Deur die jaar moet speenkalwers gekoop word – Lukas sê hy verkies om by telers te koop wat hul bulle in die toetssentrum laat toets, omdat hy weet dat die kalwers oor die algemeen die genetiese potensiaal het om goed te vaar in die voerkraal.

Lees hoe jy jou voerkraal reg kan oprig.

Beplande slagtings

Lukas sê hy beplan sy slagtings om saam te val met maandeinde en wanneer pensioene en toelaes betaal word. Dan is die vleisprys volgens sy waarneming van R1,50 tot R2 per kilogram hoër as in die middel van die maand.

As die pryse van speenkalwers en graan relatief laag en die vleisprys hoog is, kan ’n mens tot R1 800 se waarde tot elke speenkalf toevoeg, maar as die pryse andersom draai, kos dit fyn bestuur om nie ’n verlies te ly nie, sê hy. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir verder inligting, kontak Lukas Eksteen by 082 458 7787 of lukas@bufland.co.za.

Must Read

Regsadvies en landboukennis op Plaas TV

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: Die produksie van melkkoeie...