Minerale-aanvullings vir die winter: Belê vandag in die prestasie van môre

Share This Post

Estimated reading time: 7 minutes

Wintervoeding is ’n bestuursinstrument wat bepaal hoe jou kudde in die volgende produksieseisoen gaan presteer.

Die produksie en reproduksie van beeskuddes word veral tydens die wintermaande onder druk geplaas, wanneer die veselryke gras lae vlakke van proteïen, energie, vitamiene en minerale bevat. Dit laat produsente dikwels kopkrap oor hoe hulle die regte voedingsaanpassings kan maak om hul kuddes deur te winter te kry. Hierdie aanpassings behels gewoonlik dat addisionele minerale en vitamiene toegedien word. Veeplaas het by twee kundiges gaan kers opsteek om te hoor hoe dit gedoen moet word.

Alheit du Toit, veekundige by Feedtek

Uitdagings soos die voortslepende bek-en-klouseer-krisis, waar kudde-immuniteit van kritieke belang is, is ‘n sprekende voorbeeld van waarom dit noodsaaklik is om veral gedurende die wintermaande in diere se vitamien- en mineraalbehoeftes te voorsien. Dit is belangrik om rumenbeskikbare proteïene aan te vul en die mikrobes in die rumen gesond te hou. Sodoende kan hierdie mikrobes droë gras gedurende die wintermaande doeltreffend verteer na ’n vorm wat vir die dier bruikbaar is.

Voer die mikrobes

Rumenmikrobes, nes ’n herkouer, benodig ’n reeks essensiële spoorminerale (sink, mangaan, koper, selenium, jodium en kobalt) en makro-elemente (kalsium, fosfor, magnesium, swael en natrium) om normaal te funksioneer. Dit word met behulp van lekaanvullings aangevul.

In vleisbeeste is die korrekte verhouding van swawel tot stikstof uiters belangrik vir mikrobeproteïenproduksie. Wanneer te veel swawel toegedien word, kan dit die beskikbaarheid van ander minerale beperk, die rumenwand beskadig en selfs dodelik vir mikrobes wees.

Herkouers se soutbehoefte is eenvoudig; die natriumkomponent daarvan is nodig vir die normale fisiologiese prosesse, sowel as vir die mikrobes wat vertering laat plaasvind. Aangesien die hoeveelheid natrium in ruvoer gewoonlik selde beskikbaar is, moet die korrekte hoeveelheid sout aangevul word, sonder om ander normale prosesse te benadeel. Te veel aanvulling is egter nadelig, aangesien die uitskeiding daarvan tot onnodige energieverliese lei.

’n Natuurlike groeibevorderaar

Hoewel fosfaat duur is, is die aanvulling daarvan in balans met ander minerale en spoorminerale noodsaaklik vir optimale kalfpersentasies, melkproduksie en jong diere se groei. Fosfaat is verantwoordelik vir onder meer goeie energiemetabolisme in diere en behoort reg deur die jaar as ’n natuurlike bevorderaar aangevul te word.

Suider-Afrika is arm aan fosfaat, en die beskikbaarheid daarvan in weidings of ruvoer beloop slegs 60 tot 65%. Magnesium, wat in verhouding tot fosfaat benodig word, maak onder normale omstandighede slegs 15 tot 20% van ruvoer uit.

Fosfaatlekke vir die winter

’n Algemene wanpersepsie is dat beeste slegs in die somer fosfaatlekke benodig en gedurende die wintermaande proteïenlekke met lae fosfaatvlakke. Navorsing bewys egter die teendeel. Die meeste vleisbeeskoeie is tydens die wintermaande dragtig, en laatdragtige koeie benodig gewoonlik 20 tot 25% meer fosfaat as vroegdragtige koeie. Indien koeie in dié tydperk te min fosfaat inneem, word dit uit hul skeletreserwes onttrek, wat toekomstige produksie en reproduksie benadeel.

Gegewe die veronderstelling dat ’n koei gedurende die somermaande voldoende fosfaat ingeneem het, benodig ’n vroegdragtige medium-raam vleisbeeskoei vroeg in die winter steeds ’n minimum van 4 tot 6g aanvullende fosfaat per dag, en tydens laatdragtigheid minstens 6 tot 9g.

As deel van ’n gebalanseerde profiel by die vleisbeeskoei, is die korrekte verhouding van magnesium- en kalsiumaanvullings tot fosfaat ’n basiese behoefte by ekstensiewe herkouers. Balans is altyd die wagwoord by veevoeding, en veral wat mineraalvoeding betref.

Dr Johann Stadler, veearts by Vlakte Veeartsenydienste

Die liggaamskondisietelling (LKT) waarmee diere die winter ingaan word dikwels onderskat. Beeste wat reeds in ’n swak kondisie is (LKT< 3) het nie voldoende energiereserwes om die onvermydelike wintertekorte te oorbrug nie. Hulle verloor massa, en hul immuniteit en reproduktiewe funksie neem aansienlik af. Die gevolge hiervan word eers werklik sigbaar in die daaropvolgende produksieseisoen, en sluit in laer konsepsiesyfers, langer tussenkalfperiodes, swak biesmelkproduksie en laer kalfgewigte by geboorte én speen. In uiterste gevalle kan dit lei tot verhoogde kalwermortaliteit en deurlopende swak kuddeprestasie.

Waarom winteraanvullings?

Wintervoeding is ’n bestuursinstrument wat bepaal hoe jou kudde in die volgende produksieseisoen gaan presteer. Die kombinasie van swak veld, lae vitamienvlakke en mineraaltekorte lei tot produksieverliese. Daarom begin suksesvolle wintervoeding nie by aanvullings nie, maar met die doelbewuste bestuur van liggaamskondisie vóór die winter, aangesien dit die basis vorm waarop alle verdere voedingsprogramme bou.

Die doel van winteraanvullings is nie noodwendig om groei te stimuleer nie, maar om tekorte aan te vul, gewigsverlies te beperk en metaboliese funksies te ondersteun. ’n Goed-gestruktureerde aanvullingsprogram kombineer proteïenbronne, minerale (veral fosfaat) en vitamiene. Deur proteiënaanvullings soos ureum, fosfaat en ander minerale, asook vitamien A en inspuitbare aanvullings strategies aan te wend, kan produsente hierdie uitdagings proaktief bestuur.

Soos grasse volwasse raak en saad skiet, neem hul voedingswaarde drasties af. Belangrike voedingstowwe word teruggetrek na die wortels, terwyl die oorblywende plantmateriaal minder verteerbaar raak. Dit het verskeie praktiese implikasies, insluitend lae ruproteïenvlakke wat tot swak rumenfunksie lei, lae energie wat stadige vertering tot gevolg het, beperkte vitamiene (veral vitamien A) asook fosfaat- en spoormineraaltekorte. Hierdie kombinasie dra by tot gewigsverlies, swak reproduksie, verhoogde siektevoorkoms en swak groei by jong diere.

Praktiese proteïenaanvulling

Een van die belangrikste beperkings van winterweiding is ’n tekort aan beskikbare stikstof vir rumenmikrobes. Hier speel ureum ’n kernrol, omdat dit ’n nie-proteïen stikstofbron is wat deur die rumenmikrobes na mikrobeproteïen omgeskakel word. Hierdie mikrobes is verantwoordelik vir die afbreek van vesel en bepaal die tempo waarteen voer verteer word.

Prakties beteken dit dat ’n groter hoeveelheid mikrobes vertering versnel. Vinniger vertering lei weer tot ’n hoër inname van droë gras, wat uiteindelik bydra tot beter instandhouding van liggaamskondisie. Dit is belangrik om in ag te neem dat ureum nie diere laat groei of hul kondisie verbeter nie, maar die tempo van gewigsverlies verminder.

Riglyne vir ureumaanvulling behels basies:

  • Gee ‘n maksimum van ±70 tot 100g/koei/dag (tot en met 150g).
  • Dit moet minder as 1,5% van die totale dieet uitmaak.
  • Dit moet altyd saam met ’n energiebron gevoer word.
  • ‘n Aanpassingstydperk van sewe tot 14 dae is noodsaaklik.

Ureum kan baie gevaarlik wees indien dit verkeerd toegedien word. Dit is reeds toksies teen sowat 0,3 tot 0,5g/kg, terwyl ’n dosis van 1 tot 1,5g/kg dodelik kan wees. Kliniese tekens sluit spierbewerasie, moeilike asemhaling, skuimerige speeksel en skielike vrektes in. Behandeling behels onder meer die toediening van asyn om die rumen-pH te verlaag.

Die vergete wintermineraal

Hoewel baie produsente op proteïen fokus, is fosfaat (fosfor) een van die belangrikste minerale gedurende die winter, aangesien dit verskeie noodsaaklike funksies ondersteun. Dit speel ’n sleutelrol in energiemetabolisme (ATP-produksie), konsepsie en vrugbaarheid, groei en beenontwikkeling, sowel as melkproduksie. Stadige groei, swak kondisie, pika (eet grond, kou bene) en swak reproduksie dui op ’n fosfaattekort.

In die praktyk word fosfaat dikwels by winterlekke ingesluit, met ’n kombinasie van fosfaat en ureum wat algemeen is. In ernstige gevalle kan inspuitbare fosforprodukte toegedien word.

Vitamien A is noodsaaklik

’n Tekort aan vitamien A is een van die grootste winterrisiko’s wat dikwels oor die hoof gesien word. Beeste neem dit indirek in deur betakaroteen in groen plante, wat gedurende die wintermaande opdroog. Vitamien A is verantwoordelik vir immuunfunksie, voortplanting, sig (voorkom nagblindheid) en slymvliesintegriteit. Tekens van ’n tekort sluit ’n verswakte immuniteit, met ’n verhoogde voorkoms van siektes soos longontsteking en mastitis, swak konsepsie, aborsies en stilgeboortes, nagblindheid, sowel as swak biesmelkproduksie in.

’n Praktiese riglyn is om aanvulling sowat twee maande nadat die gras begin geel word, te begin. Dit behoort daarna elke twee tot drie maande herhaal te word. Produsente behoort veral die belangrikste produksiefases – laatdragtigheid, pre-dekseisoen en speentyd – in gedagte te hou.

Inspuitbare aanvullings

Hoewel lekke en voermengsels noodsaaklik is, speel inspuitbare produkte of aanvullings ’n unieke rol in moderne kuddebestuur. Voordele hiervan sluit ’n akkurate dosis, onafhanklikheid van voerinname en vinnige beskikbaarheid in. Dit is veral sinvol vir gebruik by diere in swak kondisie, tydens laatdragtigheid, by die speen van kalwers, voor inentings om die immuunrespons te verbeter, en in veld met bekende mineraaltekorte.

Die belangrikste inspuitbare komponente sluit vitamien A, D3 en E, asook fosfor, sink, selenium, koper en mangaan in. Hierdie spesifieke kombinasie ondersteun immuniteit, reproduksie, spierfunksie en antioksidantbeskerming.

Volg ’n holistiese benadering

Die grootste fout wat produsente kan maak is om slegs op een komponent te fokus. ’n Doeltreffende winterprogram behoort uit verskeie elemente te bestaan, insluitend proteïen (ureum) vir rumenfunksie, energie vir mikrobiese benutting, minerale soos fosfaat en spoorelemente, vitamiene (veral vitamien A) en waar nodig ook inspuitbare ondersteuning. Wanneer hierdie elemente gekombineer word, ondersteun dit reproduksie, verbeter voerbenutting, stabiliseer liggaamskondisie en verlaag die voorkoms van siektes.

Praktiese wenke

  • Begin vroegtydig en moenie wag vir sigbare tekens van gewigsverlies nie.
  • Pas diere stadig by ureumlekke aan.
  • Monitor innames, omdat individuele diere se behoeftes van mekaar verskil.
  • Gebruik inspuitbare aanvullings strategies.
  • Fokus op kondisietelling vóór die winter. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Alheit du Toit by alheit@feedtek.co.za, of dr Johann Stadler by 072 482 4909 of vet@stadlers.co

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutesPlaashekpryse/Farm gate pricesDie jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minuteJohan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 34 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutesPathisani Ncube has a wholly...

Ontwikkel ’n skerp oog vir rasstandaarde en die metodiek van kleinveebeoordeling

Estimated reading time: 7 minutesDie vertoning en beoordeling van...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutesRabbit meat is not as...