Dit is moeilik om te bepaal of die vestiging van weidings vir die lente lonend vir ’n veeboer is. Van die belangrikste bepalende faktore is waarskynlik die doel wat dit moet dien, hoe dit benut gaan word en die bestaande hulpmiddels wat op die plaas is.
Vir die veeboer wat ook graan kommersieel verbou, of die graanboer wat vee aanhou, is die besluit natuurlik makliker, want daar is reeds trekkers en implemente beskikbaar en slegs enkeles wat spesifiek vir voerverbouing en benutting van die voer nodig is, hoef aangeskaf te word.
Maar wat van ’n konvensionele veeplaas? In die meeste gevalle is dit ’n veeplaas omdat die grond nie vir kommersiële gewasverbouing geskik is nie, dit nie genoeg reën nie, of daar nie water vir besproeiing beskikbaar is nie.
Met die uitgerekte droogte wat die land wyd getref het, is daar produsente wat elke stukkie bewerkbare grond wil benut om voer te kan produseer en hul ondernemings teen droogtes te verskans. Dit is egter eerder ’n voerbank wat die angel uit droogtes trek, want aangeplante weidings gaan net so sukkel as dit nie reën nie.
Groenvoer vir die winter
Dit is duur om groenvoer as winterweidings te plant en die strategiese waarde daarvan sal wissel na gelang van die klimaatstoestande en die produksiepraktyke wat gevolg gaan word. Dit kan wissel van plaas tot plaas, wat meebring dat dít wat op een plek slaag, elders nie so suksesvol mag wees nie.
Gras is die goedkoopste voer vir vee. In die grootste deel van Suid-Afrika neem die voedingswaarde en smaaklikheid van gras tydens die winter dramaties af en kan groenvoer ’n welkome uitweg bied op ’n tyd wat strategies belangrik is vir reproduksie by vee. Vroulike diere se kondisie moet in ’n stygende fase wees sodat hulle in die dektyd, gewoonlik in die lente tot vroeë somer, dragtig kan raak.

makliker waarde tot die onderneming toe.
Produsente gebruik ook groenvoer om die verse in hul kuddes op ’n jong ouderdom gereed te kry vir paring en hulle ook in die volgende dekseisoen weer dragtig te kry. Meer kalwers per kalfseisoen en ’n ekstra kalf oor die leeftyd van die koei, beteken ekstra geld vir die veeboer.
Maar betaal die ekstra diere vir die koste van die groenvoerproduksie en voeg dit verdere waarde by? Indien nie, sal planne om die natuurlike weiding beter te benut waarskynlik dividende oplewer.
Is die vleis die sous werd?
Veeboere se eerste liefde is hul vee. Werktuie, implemente en die plant van voer bly dikwels agterweë. Die vraag ontstaan dan of erfgoed wat nog gebruik word omdat dit werk, voldoende is om doeltreffend groenvoer te produseer – moet daar in nuwe, gevorderde tegnologie ten opsigte van werktuie, saad en bewerkingsmetodes belê word, of is die outydse stelsel goed genoeg?
Johan du Toit, bestuurder van landbou-ekonomiese dienste by Senwes, sê daar moet in die eerste plek klarigheid wees of die produksie van groenvoer en die mate waartoe dit strategies aangewend gaan word, wel waarde tot die veeboerdery gaan voeg. Die marginale inkomste wat uit die verbouing van groenvoer voortvloei moet die marginale koste oorskry, anders kan die produksiestelsel maklik ’n stokperdjie met duur ysters raak.
Daar moet ook deeglik besin word of die toestande geskik is om ’n belegging in groenvoerproduksie te regverdig. In die meeste gebiede waar hoofsaaklik met vee geboer word, is die potensiaal om gewasse te verbou gewoonlik laag. Dit is hoofsaaklik omdat die grond nie maklik bewerkbaar is nie en lae vrugbaarheid toon, of dat reënval onvoldoende is en min of geen water vir besproeiing beskikbaar is nie.

vertrapping te voorkom.
Die meeste groenvoergewasse het fyn saad wat vereis dat ’n mens ’n goeie, fyn saadbed, wat onkruidvry is, voorberei en dat daar onder droëlandtoestande genoeg vog in die ondergrond opgegaar is sodat die saad kan ontkiem en die gewasse sonder veel reën tot volwassenheid kan groei. Daar is nie ’n verskil tussen die verbouing van kleingrane as ’n kontantgewas en groenvoer vir vee nie.
Omdat die meeste groenvoergewasse eenjarig is, moet dit elke jaar hervestig word. Indien die werktuie wat daarvoor nodig is, nie ook vir ander take soos die sny en insameling van meerjarige grasweidings gebruik word nie, staan die implemente vir die grootste deel van die jaar stil en stoot die koste van groenvoerverbouing op.
Hy glo vir die meeste boerderye wat nie ’n volwaardige gewasverbouingsvertakking het nie, sal ’n belegging in duur voerproduksiewerktuie en -implemente moeilik haalbaar wees. Indien die werktuie nie meerdoelig aangewend kan word nie, kan dit lol.
Uitkontrakteer is ’n opsie
As ’n mens die verskillende scenario’s in oënskou neem, sal dit in baie gevalle meer voordelig wees om byvoorbeeld kontrakteurs te gebruik om die voerbewerking en -insameling te doen, eerder as om self duur toerusting aan te skaf.
Veronderstel die veeboer besluit om eenjarige voergewasse te vestig en dit uiteindelik deur die vee te laat afvreet. Hiervoor moet hy net die grond bewerk, die saad plant of saai, en bemes. Hy moet dus noukeurig bepaal of sy erfstukke vir die taak opgewasse is, of hy werktuie sal moet koop en of ’n kontrakteur dalk voordeliger sal wees. As hy egter die voer wil sny, baal en berg om ’n voerbank op te bou, het hy nóg meer werktuie nodig.
Dieselfde geld vir meerjarige voer- en hooigewasse. In dié geval is daar betreklik omvangryke grondvoorbereiding nodig wat slegs elke vyf tot tien jaar gedoen hoef te word, wat dit aantrekliker maak om liewer ’n kontrakteur te gebruik as om die implemente vir so ’n lang tyd nie optimaal te benut nie.
Sulke meerjarige weidings moet in tussenposes met ’n skeurploeg losgewerk word, wat ook deur ’n kontrakteur gedoen kan word. Daar is dus alternatiewe beskikbaar om die strategiese voordele wat groenvoer bied, te benut, sonder om die belegging in duur implemente te maak.
Ontbossing as alternatief
’n Ander moontlikheid wat ondersoek behoort te word, is of dit nie dalk voordeliger is om ontbossing te doen met die geld wat aan groenvoerverbouing bestee sou word nie, veral in dele waar bosindringing ’n wesentlike probleem en groenvoerverbouing riskant is.
Net soos wetenskaplikes dekades werk en miljoene rande bestee om veerasse geneties te verbeter om meer kostedoeltreffend te kan produseer, werk hul kollegas in die gewasvertakking ook onverpoos om kultivars en basters te verbeter om voedsamer en smaakliker voer te produseer. Om dié potensiaal te ontsluit, is dit noodsaaklik om bewerkings, bemesting en die insameling van die voer só te doen, dat die beste en meeste voer vir die diere beskikbaar is of in die voerskuur beland.
Voervloei- en kuddebestuur
Wintergroenvoer is duur en dit moet met die regte voervloeibeplanning optimaal benut word. Vertrapping en vermorsing kan sinvolle benutting van die stelsel en die geleentheid om waarde tot die veevertakking toe te voeg, onder druk plaas.
Veevloei moet ook daarby aangepas word. Die kondisie (gewig) wat diere op die aangeplante weiding aansit, moet benut word deur beter reproduksie of hoër speen- of slaggewigte. Dit kan gedoen word deur geneties meerderwaardige diere te gebruik, wat die voordeel van die weiding werklik kan benut en in geldwaarde kan omskakel. – Andries Gouws, Veeplaas
Kontak die landbou- of saadmaatskappy in jou streek vir raad oor gewasse, kultivars, bewerkingsmetodes en benuttingsplanne vir groenvoer.
