Estimated reading time: 4 minutes
Agri Limpopo is bekommerd oor ‘n ernstige besoedelingsinsident van die Limpoporivier verlede week. Hierdie rivier dien as ’n lewensaar vir die landbou, gemeenskappe, en ekostelsels in die streek.
Die situasie het reeds ‘n omvattende reaksie van nasionale en provinsiale owerhede ontlok.
Boere langs die rivier, van die Tom Burke-gebied wes – vanaf die Pontdrif grenspos tot by die Platjangrenspos – asook die gedeelte tussen die Nzhelele– en Sandrivier, het sedert verlede week ontstellende veranderinge in die watergehalte gerapporteer, volgens ‘n Agri Limpopo persverklaring.
Produsente het waargeneem hoe die rivierwater tot ’n helder turkooisgroen verkleur. Dit het gepaard gegaan met ‘n sterk, aanstootlike reuk. Daar is aanvanklik gespekuleer dat die moontlike bron naby die Zimbabwiese grens geleë is. Kommunikasie van die Vhembe-distriksmunisipaliteit het aangedui dat die oorsprong moontlik voor die deur van ‘n myn stroomop van Musina gelê kon word. Die betrokke myn word glo deur ‘n Chinese-maatskappy bestuur. Die bewering is intussen weerlê.
Duistere oorsprong
Dit het intussen op die lappe gekom dat die besoedeling baie verder stroomop ontstaan het. Agri Limpopo is steeds besig om die oorsprong te probeer opspoor deur verslae van boere wat die eerste verkleuring opgemerk het te versamel.
Hierdie voorval het groot ontsteltenis in die landbougemeenskap veroorsaak aangesien boere in hierdie semi-droë streek sterk van die Limpoporivier vir besproeiing afhanklik is. Enige besoedeling van hierdie kritieke waterbron bedreig nie net plaaslike lewensbestaan nie, maar ook breër voedselveiligheid en Suid-Afrika se landbou-uitvoere.
Saak word geëskaleer
Agri SA het die saak met die DWS se nasionale direkteur van voldoening, monitering, en wetstoepassing, Thandi Mopai, opgevolg. Mopai het bevestig dat die voorval geregistreer is en dat dit deur die nasionale wetstoepassing-saakbestuurstelsel ondersoek sal word.
Agri SA wag tans op die uitslag van hierdie ondersoek en het die staat versoek vir riglyne oor enige voorsorgmaatreëls wat riviergebruikers moet tref. Die Vhembe-distriksmunisipaliteit het op 14 Julie 2025 ’n kennisgewing uitgereik waarin inwoners van Musina gemaan word om versigtig te wees wanneer hulle water uit die Limpoporivier gebruik – ’n duidelike aanduiding van die potensiële erns van die situasie.
Hulle is ook bewus daarvan dat Jacques Smalle, lid van die Limpopo-provinsiale wetgewer, dringende vertoë aan Tshitereke Matibe, LUR vir Limpopo Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing en Toerisme (Ledet), gerig het waarin hy ’n volskaalse ondersoek na die oorsprong en omvang van die besoedeling eis. As provinsiale owerheid het Ledet beide die mandaat en die wetlike bevoegdheid ingevolge die Nasionale omgewingsbestuurswet, 1998 (Wet 107 van 1998) om vinnig en daadwerklik op te tree.
Ongeag die oorsprong eis Agri Limpopo ’n deursigtige ondersoek en die implementering van onmiddellike versagtingsmaatreëls om verdere ekologiese en ekonomiese skade te voorkom.
Besoedeling van hierdie omvang mag nie ongemerk voortduur nie. Agri Limpopo doen ’n beroep op alle betrokke owerhede – provinsiaal en nasionaal – om hierdie ondersoek te prioritiseer, openlik met alle geraakte belanghebbendes te kommunikeer, en beslissend op te tree teen enige party wat verantwoordelik bevind word. – Agri Limpopo persverklaring geredigeer deur Plaas Media
In reaksie op dié persverklaring het die DWS die volgende boodskap aan Agri Limpopo gestuur:
Neem asseblief kennis dat die Limpopo-Olifantsrivieropvangsbestuuragentskap (Locma) se waterhulpbronbeplanningspan op die toneel is om rivierwatermonsters te neem wat na verwagting môre by die DWS se inligtingsdienste vir hulpbrongehalte te Roodeplaat afgelewer sal word.
Die DWS se rekenaaranalise met behulp van Google Maps-satellietbeeldmateriaal toon dat die dominante groen kleur hoofsaaklik van die volgende riviere afkomstig is:
- Krokodilrivier in Suid-Afrika.
- Ngotwanerivier in Botswana.
- Matlaba-, Mokolo-, Lephalale-, en Mogalakwena-rivier. Al dié riviere is in Suid-Afrika geleë.
Die intense groen kleur is van net duskant ’n keerwal in die Limpoporivier naby die Saamboubrug-polisiestasie bespeur.
Die DWS stel voor dat die regering die besoedeling naspeur en daadwerklike oplossings ter tafel bring om die besoedeling van die betrokke riviere onder beheer te bring. Amptenary van Gauteng, Noordwes, en Limpopo moet saamwerk om die probleem op te los.
Vir verdere besonderhede kan lesers Deidre Carter, hoofbestuurder van Agri Limpopo kontak by ceo@limag.co.za.


