Estimated reading time: 5 minutes
Vir minstens die volgende ses maande gaan landbouers in die Makoppa-gebied van Limpopo op geen inkomste kan staatmaak nie, en dít bedreig die werksekuriteit van minstens 1 500 produsente en plaasarbeiders. Só sê Edwin Palmer, voorsitter van die Makoppa Boere-unie, na die ergste vloedskade in mense heugenis hierdie gebied teen die einde van Februarie getref het.
Water van oral
Die Makoppa-distrik is wes van Thabazimbi geleë en strek tot bo teen die Botswana-grens. Só loop die gebied dan langs die grens teen die Limpoporivier tot waar dié rivier en die Mariko-rivier byeenkom om die Krokodilrivier te vorm.
Met soveel riviere rondom hulle, is die Makoppa-produsente redelik bewus van moontlike vloede, sê Palmer. Hulle het egter nie daarop gereken dat hulle sóveel reën uit verskeie oorde sou ontvang nie. Tussen 19 en 21 Februarie, het daar 250mm binne 24 uur neergegiet. Die hoërliggende buurdistrik, Dwaalboom, het ook soveel reën ontvang.
Die reënvlaag het toe na die binneland oorgeskuif, waar dit die Hartebeespoortdam tot oorlopens toe volgemaak het. Gevolglik moes die sluise oopgemaak word. Palmer sê Makoppa se produsente het gewoonlik ’n paar dae om gereed te maak as daardie sluise oopgemaak word, maar dié keer was dit nie moontlik nie omdat hulle reeds met ongekende hoeveelhede reën- en rivierwater gesit het. “Dwaalboom bestaan meestal uit turfgrond, wat beteken dat die water wat dáár geval het regoor daardie grond gespoel het tot by Makoppa.”
Om sake te vererger het die Bierspruitdam, wat net voor Thabazimbi geleë is, se een damwal gebreek en dit het tot nóg water gelei. Só is elke millimeter van Makoppa se 5 600km2 oorstroom.
Reuseskade
Ongeveer 10 000ha aanplantings is deur die vloedwater weggesleur. Aangesien die meerderheid gewasse nou in Maart en April geoes sou word, skat Palmer dat die distriksboere ongeveer R875 miljoen se oesskade in die proses gely het. Produsente plant meestal sojabone, mielies, suikerbone en katoen in dié gebied.
Wat vee- en wildprodusente aanbetref, het sowat 20 000ha weiding ook weggespoel, sê Palmer. Wildprodusente het verdere verliese gely, aangesien baie wild en wildheinings ook in die water meegesleur is.

Regering trek skouers op
Die reën het baie mense op strukture se dakke vasgekeer en etlike toegangsroetes het weggespoel. Die plaaslike owerhede was van min tot geen waarde tydens die onmiddellike krisis, erken Palmer. “Boere moes inspring en self ’n plan maak. Daar waar mense trekkers beskikbaar gehad het, is dít gebruik om mense te red, en ons moes op eie onkoste private helikopters huur om mense elders te red en na veiligheid te bring.”
Kort na die vloed het twee landboubesighede, OBARO en Koedoeskop Kunsmis, noodfondse beskikbaar gestel om met die herstel van vloedskade te help. “Die paaie rondom Rooibokkraal was heeltemal verspoel – daar het net klowe oorgebly. Ons het toe dié fondse gebruik om daardie paaie te herstel sodat die inwoners weer kon rondbeweeg,” sê Palmer. Talle ander infrastruktuur soos kragdrade, kon egter nog nie herstel word nie.
Te danke aan nasionale georganiseerde landboustrukture kon die Makoppa-produsente toegang tot die minister van landbou, John Steenhuisen, kry en sodoende is dié gebied tot nasionale rampgebied verklaar. Ten spyte van dié verklaring, twyfel Palmer egter sterk of produsente op enige finansiële hulp van die staat kan reken.
“Die provinsiale departement van landbou het gesê ons moet die nodige papierwerk invul, maar hulle het ook gesê daar is nie geld beskikbaar nie. So, ek weet nie waar hulle geld gaan kry om boere te help nie,” sê Palmer en voeg by dat daardie amptenare blykbaar nie eers petrolgeld gehad het om tot by die terrein te reis om die omvang van die skade te bepaal nie.

Beroep op landboubesigheidsektor
Op nasionale vlak het TLU SA namens die Makoppa-produsente met instansies soos banke en landboumaatskappye gaan gesels om te hoor of hulle moontlik verlengde grasie aan produsente sal skenk, aangesien die oeste wat nou sou inkom nie gaan realiseer nie. “Ons produsente sal ook nou verdere lenings moet aangaan om vloedskade te herstel.”
Hoewel produsente nie onmiddellik die finansiële invloed van dié ramp voel nie, gaan dit binnekort ’n wesenlike probleem veroorsaak. “Vir die volgende ses maande gaan hierdie boere géén inkomste kan genereer nie. En dít gaan minstens 1 500 produsente en plaaswerkers beïnvloed – om nie eers van hulle gesinne te praat nie,” sê Palmer. “Die produsente wil vir seker nie hul mense afdank nie, maar hulle gaan dit dalk ter wille van oorlewing moet doen.”
“Dis ook tragies dat die wildbedryf, wat baie buitelandse valuta na Suid-Afrika bring, nie beter deur die staat ondersteun word tydens hierdie skade nie. Wildboere word nie eers as landbou geag in terme van die land se rampprotokol nie. So, dié boere kan geen eise indien of hul op enige hulp beroep nie.”
Palmer sê die ergste van als is egter dat produsente kort na die vloede, Eskom-rekeninge van honderde duisende rande ontvang het. “Dit reën al vanaf Desember, so geen produsent het sedert Desember besproei nie. Tog is ons rekeninge hemelhoog aangesien Eskom hul lesings op die ses maande-gemiddeld voor Desember bereken.”
Daardie meters is egter ook deur die vloede weggesleur, so dis ’n haas onmoontlike saak om akkuraatheid van dié lesings in twyfel te trek. “Dit laat produsente in ’n verknorsing, want hulle moet nou kies of hulle daardie rekeninge wil betaal en of hulle hul werkers vir nog ’n paar maande in diens wil hou.” – Susan Marais, Plaas Media





