Korridorsiekte tref beeste na 20 jaar

Estimated reading time: 4 minutes

Die gevreesde korridorsiekte is onlangs deur veeartse van die Phalaborwa Dierekliniek gediagnoseer in beeste afkomstig uit die Oos-Transvaalse Laeveld in Limpopo en later deur Onderstepoort bevestig.

Dr Gerrit Scheepers, ’n veearts van die Phalaborwa Dierekliniek, sê dié siekte is een van die gevaarlikste dieresiekte wat vanaf buffels na beeste oorgedra kan word. Hoewel hierdie uitbreking van die siekte onder beeste kommerwekkend is, is daar egter nie rede vir paniek nie, omdat die siekte betyds geïdentifiseer is en die regte protokolle daarna gevolg is.

“Na die siekte geïdentifiseer is, is die uitbreking korrek volgens die bestaande beheermaatreëls hanteer om te verseker dat dit nie na ander plase versprei nie. Die eienaar van die plaas waar die siekte in die beeste geïdentifiseer is, het onmiddellik die erns van die situasie besef en deurentyd saamgewerk om te verseker dat die siekte tot die plaas beperk word. Hy pas die nodige beheermaatreëls (sien beheermaatreëls later in die berig) saam met ander rolspelers toe om sy plaas weer skoon van korridorsiekte te kry,” sê dr Scheepers.

Dr Gerrit Scheepers, ’n veearts van die Phalaborwa Dierekliniek, wat die jongste uitbreking van korridorsiekte geïdentifiseer het. (Foto: Verskaf deur Phalaborwa Dierekliniek)

Wat is korridorsiekte?

Volgens dr Scheepers is korridorsiekte, ook bekend as buffelsiekte, ’n aanmeldbare én beheerde siekte in Suid-Afrika. Dit word gereguleer ingevolge die Wet op Dieregesondheid, 1984 (Wet 35 van 1984). Omdat die siekte so min in beeste voorkom en ongeveer 20 jaar laas in beeste geïdentitfiseer is, is dit belangrik dat boere hulself weer van die siekte se simptome vergewis.

Die simptome van korridorsiekte in beeste sluit in aptytverlies, diarree, hoë temperatuur (>40 °C), korneale edeem en ooguitloopsel, en moeilike asemhaling met skuim wat by die neus uitkom net voor die bees se dood.

Die siekte word veroorsaak deur ’n protosoë bloedparasiet (Theileria parva) afkomstig van besmette buffels en word aan beeste oorgedra deur die byt van ’n besmette bruinoorbosluis (Rhipicephalus appendiculatus asook ander Rhipicephalus-spesies).

Vinnige vrektes

Korridorsiekte is ’n akute en gewoonlik fatale siekte in beeste. Scheepers sê korridor-besmette beeste vrek gewoonlik vinnig – binne drie tot nege dae nadat die eerste kliniese tekens waargeneem is. Die mortaliteit onder beeste is hoog (ongeveer 80%).

Een van die simptome van korridorsiekte is moeilike asemhaling met skuim wat by die neus uitkom net voor die bees se dood. (Foto: Verskaf deur Phalaborwa Dierekliniek)

Beheermaatreëls

Volgens Scheepers bepaal die Direktoraat Dieregesondheid die beheermaatreëls wat tydens ’n korridor-uitbreking van toepassing is.

Die maatreëls sluit in:

  • Sodra die siekte bevestig is word die plaas onder kwarantyn geplaas, wat beteken geen diere mag na of van die plaas beweeg word nie.
  • Al die draers van korridorsiekte (beeste of buffels) moet van die plaas verwyder word.
  • In hierdie geval is die beeste wat oorleef het onder kwarantyn-toestande in ’n kraal aangehou en aan ’n dipprogram onderwerp waartydens hulle in 14 dae vier keer gedip is om te verseker dat alle bruinoorbosluise in die verskillende lewenstadiums op die beeste dood is. Daarna is die beeste onder ’n Rooikruispermit in ’n geseëlde vragmotor na ’n goedgekeurde abattoir geneem om geslag te word.
  • Tegnies kan die buffels onder streng maatreëls na ’n ander endemiese korridor-gebied geskuif word, maar omdat dit ’n lang en duur proses is om die diere teen verskillende siektes te toets voordat dit geskuif kan word, sal die buffels heel moontlik op die plaas geskiet word.
  • Geen vatbare diere (buffels of beeste) mag vir ten minste twee jaar na die plaas teruggebring word nie, omdat besmette bruinoorbosluise tot 18 maande in die veld kan oorleef, waartydens hulle steeds die siekte kan oordra. – Hugo Lochner, Plaas Media

Vir meer inligting oor korridorsiekte kan wildsboere, buffeltelers, en beesboere dr Gerrit Scheepers kontak by  082 920 9934, 015 781 0653, of e-pos phbdierekliniek@gmail.com.

Must read

LandbouRadio: 7 April 2026

Estimated reading time: 1 minute In Dinsdag, 7 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Johan gesels met dr Bobbby van der Westhuizen, hoofbestuurder...

RSG Landbou: 7 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die gemmerbedryf, die Nasionale Wolkwekersvereniging se 100ste bestaansjaar en ons ontvang die nuuste wolmarkverslag. Gemmerbedryf Niks...

RSG Landbou: 6 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die 2026 LRF Veeskool, AFSTA se kongres en ons skop af met ons nuwe...

LandbouRadio: 6 April 2026

In Maandag, 6 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met onkruidkenner, prof Charlie Reinhardt, en hy gesels oor die...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...