Estimated reading time: 5 minutes
Bek-en-klouseer (BEK) het die fondasies van die Suid-Afrikaanse veebedryf geskud en daarom is samewerking – tussen vee-eienaars, die staat én buurlande – belangriker as ooit. Só het die adjunk-direkteur-generaal vir landbou, Dipepeneng Serage, tydens die Rooivleisprodusente-organisasie (Nasionale RPO) se nasionale kongres gesê.

“Hierdie siekte is almal se probleem. Selfs verbruikers moet weet dat hulle ‘n óók ‘n rol het om te speel, want elke keer wanneer hulle vleis koop, koop hulle nie net ‘n produk nie – hulle belê in die sektor,” het Serage tydens die geleentheid, wat by die WNNR se internasionale kongreslokaal gehou is, gesê. Elke keer wanneer iemand vleis koop, is dit immers ‘n inkomste waarvan ‘n gedeelte weer vir siektebeheer ingespan kan word.
Regeringsplanne
Na afloop van die afgelope BEK-indaba het die regering ‘n strategie in plek gesit om BEK-entstof stelselmatig te versprei. “Ons toekomsplan is om eerstens entstof gratis aan kommunale boere te verskaf, sodat ons kan verseker dat hulle diere veilig is en nie ’n risiko vir ander diere inhou nie,” sê Serage en voeg by dat die entstof dan aan kommersiële produsente beskikbaar gestel sal word. “Op die oomblik voorsien ons aangekoopte entstof gratis aan beide kommersiële en kleinboere, maar die staat het ongelukkig nie ‘n onuitputbare beursie nie. Daarom moet ons ‘n manier vind dat die kommersiële sektor self vir hul entstof kan betaal.”
Serage sê die entstof is egter ‘n baie sensitiewe middel en dat die staat dit steeds sal hanteer, maar die kommersiële sektor sal die rekening betaal. “Veral melkboere het aangedui dat hulle bereid sal wees om vir hul eie entstof te betaal.”

Hoewel Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) steeds die amptelike verskaffer van entstof is, is die regering besig om te kyk hoe die Landbounavorsingsraad (LNR) weer entstofvervaardiging kan laat herleef. Tewens, Serage sê nuwe toerusting is reeds deur die LNR aangeskaf om hierdie rol te vervul. “Ons hoop dat die eerste besending entstof van hierdie nuwe vervaardigingsaanleg aan die begin van Maart 2026 beskikbaar sal wees.”
Steun van die privaatsektor
Die regering kan egter nie alleen die BEK-oorlog wen nie en daarom moet die rooivleisbedryf nóg sterker ondersteuning bied om dié virussiekte ‘n nekslag toe te dien. Só het Frik van Rooyen, nuutverkose voorsitter van die Nasionale RPO gesê.
“Die bedryf sal moet besin oor ons toekomstige verhouding met die regering,” het Van Rooyen gesê, terwyl hy benadruk het dat daar ook met meer erns gekyk moet word na diere wat buite die formele waardeketting is. “Ons het nie baie inligting oor aspekte soos kulturele slagtings nie, maar blykbaar is sowat ‘n miljoen huishoudings afhanklik van dié inkomste.”
James Faber, uittredende voorsitter, het Van Rooyen se woorde ondersteun. “Die huidige uitbreking is sekerlik die een wat die bedryf nog die meeste skade berokken het. Dit was egter ook die een wat beide die regering en die bedryf nader aan mekaar laat beweeg het, welwetende dat nuwe planne gemaak moet word om nie net die huidige situasie nie, maar ook die toekoms, te bestuur.”
Dr Dirk Verwoerd, hoofveearts van Karan Beef, sê dié besigheid is bereid om te betaal vir die entstof, omdat dit ‘n baie klein uitgawe is in vergelyking met die reuse-skade wat BEK aanrig.
Inenting, afsondering en naspeurbaarheid
Dr Verwoerd het bygevoeg dat die beheer van aansteeklike siektes, soos BEK en brusellose, die kwessie is wat oor die afgelope 15 jaar die meerderheid van sy tyd as voerkraalveearts in beslag geneem het.
Aansteeklike siektes is soos ‘n ketting en om ‘n ketting te breek moet ‘n mens op die swakste skakel fokus, het dr Vervoerd verduidelik. “Om die ketting (van aansteeklike siektes) suksesvol te breek, moet die oordrag van infeksie-agente gestuit word.”
Daar is twee maniere om dié ketting te skei – deur bio-insluiting (biocontainment) of deur bio-uitsluiting (bioexclusion). Eersgenoemde fokus op sake soos kwarantyn, siektebeheerareas (DMA’s) en bewegingsbeheer. Laasgenoemde fokus op toegangsbeheer, lyndrade, infeksies en PPE-drag.
In die toekoms gaan naspeurbaarheid nie onderhandelbaar wees nie, het dr Verwoerd gesê en produsente gewaarsku dat hulle die nodige stelsels in plek moet kry indien hulle voortaan aan die waardeketting wil deelneem. Hy het benadruk dat dit tot voordeel van die produsent sal wees, omdat die bedryf besig is om te werk na ‘n naspeurbaarheidstelsel wat vir uitvoere gerat is. Dit is dus nie net op ‘n enkele besigheidseenheid, soos een plaas of boerdery, gemik nie, maar op die totale waardeketting. “Enige naspeurbaarheidstelsel gaan uiteraard met ‘n premie gepaard,” sê dr Verwoerd. – Susan Marais, Plaas Media


