HomeMagazinesKopervergiftiging by skape: Tree voorkomend op

Kopervergiftiging by skape: Tree voorkomend op

Estimated reading time: 5 minutes

  • ’n Siekte waarmee skaapboere in die Karoo, en veral in ysterklip-areas, dikwels te doen kry, is geelsiekte of kopervergiftiging.
  • Volgens kenners kom kopervergiftiging veral voor in verskeie distrikte wat aan die Nuweveldberge en die Sneeuberge grens, asook dele van die Noord-Kaap en Suid-Vrystaat.
  • Geelsiekte is nie iets wat skielik sy kop in jou kudde uitsteek nie.
  • Geringe toestande soos diere wat uitsak in die trop of ’n swak eetlus het, is faktore wat die rooiligte kan laat aangaan, maar dit is nie spesifieke simptome van geelsiekte nie.
  • Geelsiekte het tot dusver nie werklik ’n suksesvolle behandeling nie. Volgens dr Jaco Pienaar, ’n afgetrede veearts in die Beaufort-Wes omgewing, lê die geheim daarin om die weiding op jou plaas te ken en voorkomend op te tree.

’n Siekte waarmee skaapboere in die Karoo, en veral in ysterklip-areas, dikwels te doen kry, is geelsiekte of kopervergiftiging. Skape is makliker vatbaar vir die siekte as Angorabokke.

Volgens kenners kom kopervergiftiging veral voor in verskeie distrikte wat aan die Nuweveldberge en die Sneeuberge grens, asook dele van die Noord-Kaap en Suid-Vrystaat. Die moontlike rede is omdat koper (Cu) in hierdie gebiede gemyn word en die plante in die omgewing maklik Cu opneem.

Dr Jaco Pienaar, ’n afgetrede veearts in die Beaufort-Wes omgewing, het baie met geelsiekte te doen gekry. Hy verduidelik dat Cu ’n swaarmetaal is wat in die skaap se lewer versamel as dit in té groot hoeveelhede deur die diere ingeneem word.

“Hoë Cu-vlakke in die grond veroorsaak dat die plante die swaarmetaal opneem en die diere dit weer uit die plante opneem,” sê hy. Die verwagting is dat Cu in die diere se water sal voorkom, maar dr Pienaar sê die versameling van Cu kom eintlik hoofsaaklik van weiding af en water speel nie juis ’n groot rol hierin nie.

Lees meer oor die behandeling van peestersiekte hier.

Geelsiekte het ’n lang aanloop

Geelsiekte is nie iets wat skielik sy kop in jou kudde uitsteek nie. “Dit is ’n siekte wat oor ’n lang tyd opbou en dit is veral jou volbek- en ou diere wat hiervan sal vrek. Enige spanningstoestand, soos lamtyd, gevalle waar die diere oor ’n lang afstand aangejaag word, of waar hulle in skeerhokke staan, kan veroorsaak dat die lewer ’n groot hoeveelheid Cu in die bloed vrylaat wat dan ’n toestand veroorsaak wat ons ’n hemolitiese krisis noem – wanneer die dier se rooibloedselle bars,” verduidelik hy.

Hoewel dit ’n kroniese aanvang het, is dit ’n akute siekte en diere vrek maklik, meestal sonder enige simptome, as gevolg van hierdie anemiese toestand.

Kopervergiftiging ’n siekte wat volgens kenners veral in verskeie distrikte wat aan die Nuweveldberge en die Sneeuberge grens, asook dele van die Noord-Kaap en Suid-Vrystaat, voorkom.

Volgens literatuurstudies is daar ‘n aantal faktore wat kopervergiftiging kan beïnvloed. Oorbeweiding is een moontlikheid. In gebiede waar die Karoobossie voorkom is bevind dat hierdie bossie hoër vlakke van Cu bevat. Weiding in die ysterklip-areas waar kopererts voorkom, is ook ’n faktor wat die siekte kan beïnvloed. Selfs weiding waar vark- of hoendermis as bemesting aangewend is, kan ’n groot invloed op die voorkoms van die siekte hê. Hoendermis bevat gewoonlik hoë vlakke van Cu.

Kliniese tekens

Dr Pienaar sê geelsiekte het nie juis duidelike simptome nie. Geringe toestande soos diere wat uitsak in die trop of ’n swak eetlus het, is faktore wat die rooiligte kan laat aangaan, maar dit is nie spesifieke simptome van geelsiekte nie. Dit is slegs met ’n nadoodse ondersoeke dat die siekte werklik bevestig kan word.

“Die meeste produsente weet gewoonlik al of die siekte op sy/haar plaas voorkom of nie. Die Cu-vlakke in die lewers van ou diere kan van abattoirs gekry word om te bepaal of dit ’n probleem op jou plaas is.”

Behandeling

Geelsiekte het tot dusver nie werklik ’n suksesvolle behandeling nie. Volgens dr Pienaar lê die geheim daarin om die weiding op jou plaas te ken en voorkomend op te tree.

Sink en molibdeen het ’n onderdrukkende effek op Cu-absorpsie. Daar is verskillende maniere om hierdie spoorminerale in die dier se liggaam te kry.

“Sinksulfaat teen ongeveer een teelepel in 50ℓ water vir ten minste twee maande, veral in die wintermaande wanneer die spanningsepisodes meer is, is ’n goeie manier om voorkomend op te tree. Onthou egter dat sinksulfaat baie giftig kan wees indien te hoë dosisse gegee word,” waarsku hy.

Indien dit nie moontlik is om die diere se water te behandel nie, kan die skape weekliks met natriummolibdaat gedoseer word. Meng vier teelepels daarvan in 1ℓ water en doseer elke skaap met 5 tot 10mℓ.

“Wat baie produsente ook op plase doen waar die siekte voorkom, is om die skape gereeld met Multimin sonder Cu in te spuit om sodoende die sinkvlakke te verhoog. Daar is ook ander ongeregistreerde molibdeeninspuitings beskikbaar waarmee daar in die verlede reeds goeie resultate gekry is,” vertel hy.

Lees meer oor vleisskaaprasse hier.

Tree voorkomend op

Volgens dr Pienaar is die vrektesyfers in ’n kudde nooit baie hoog nie en met goeie beplanning en goeie boerderymetodes kan geelsiekte uit jou kudde gehou word.

“Hou jou kudde jonk en vermy sover as moontlik situasies wat die diere gespanne laat. Laat toets ook gereeld ou diere se lewers vir Cu-vlakke by ’n laboratorium indien jy onseker is of die siekte by jou diere voorkom, sodat jy voortydig kan weet om voorkomend op te tree. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Jaco Pienaar by 082 907 1140.

Must Read

Boere verheug oor nuwe koringtarief

Estimated reading time: 3 minutes ’n Nuwe koringtarief van R176/ton is op 18 Julie in die Staatskoerant aangekondig en is sedert 19 Julie aktief. Dit...