Estimated reading time: 7 minutes

Daar is voldoende wetenskaplike bewyse dat die wisselvalligheid van die klimaat oor die afgelope twee dekades die produksie-omgewing en -basis van veeboerdery in Suider-Afrika dramaties verander het. Oor die lang termyn sal dit ’n potensieel ontwrigtende uitwerking op veeproduksie en voedselsekerheid hê.

Read it in English.

Na verwagting sal daar ’n toename van 1°C in die gemiddelde temperatuur per jaar oor Suidelike Afrika (teenoor 0,65°C wêreldwyd) wees, asook meer wisselvallige en uiterste reënval, met nat tydperke wat natter word en droë tydperke droër, en ’n ongekende toename in die CO2-konsentrasie in die atmosfeer.

Vir veeboere beteken dit vee wat verhoogde hittespanning moet verduur, toenemende afloop en verliese aan reënwater, versnelde gronderosie, asook langer en meer intense droogtes, maar gelukkig nie méér droogtes nie.

Klimaatslim landbou = die toekoms

Veeboere wat by die uitdagings van hierdie wisselvalligheid kan aanpas, sal ryklik beloon word. Diegene wat nie die nodige klimaatslim aanpassings maak nie, sal waarskynlik van die voorgrond af verdwyn en slegs ’n klein bydrae tot toekomstige produksie maak. Veeboere moet maniere vind om, ten spyte van ’n toenemend wisselvallige klimaat, meer volhoubaar en veerkragtig te word.

Baie ontleders is van mening dat sogenaamde klimaatslim landbou die antwoord is. Per definisie pas klimaatslim produsente beginsels en praktyke toe wat biodiversiteit verhoog, die grond se gesondheid herstel, die watersiklus verbeter en ekostelsels tot hul volle produksiepotensiaal herstel, met die resultaat van verhoogde opbrengste per hektaar, beter en meer stabiele winste, en ’n laer gevoeligheid vir wisselvallige klimaatspatrone.

Die verwagte verhoogde wisselvalligheid in reënval, tesame met langer en meer intense droogtes, is die spreekwoordelike olifant in die vertrek as dit by klimaatslim veeboerdery kom. Dit is ook veral die doeltreffendheid van reënwatergebruik wat uiteindelik die deurslag sal gee en nie noodwendig die hoeveelheid reën wat val nie.

Neerslag in die watersiklus

Om die konsep van reënvaldoeltreffendheid beter te verstaan, is ’n basiese begrip van die watersiklus nodig (sien Figuur 1). Kom ons begin met die neerslag-gedeelte in die watersiklus.

Klik hier vir die weeklikse weerverslag.

Neerslag vind plaas wanneer die waterdamp in die lug as wolke kondenseer en in een of ander vorm onder swaartekrag vanaf die wolke terug na die aarde toe val. Die vorms waarin neerslag voorkom, is reën, motreën, ysreën, sneeu en hael.

Figuur 1: ’n Basiese voorstelling van die watersiklus. (Verwerk vanaf www.westfield.ma.edu)

Neerslag kan twee lotgevalle hê – dit kan verdamp voordat dit die grond tref of dit kan Moeder Aarde bereik. Tot by hierdie punt het die produsent geen beheer oor wat gebeur nie. Hy speel wel ’n groot rol oor wat daarná gebeur met die water wat op sy grond val.

Die neerslag wat op die grond val, kan óf in die grond insypel óf afloop en in riviere en strome beland. Die water wat afloop is ’n verlies vir die veeboer, aangesien hierdie neerslag nie bydra tot die veld se produksie nie, alhoewel dit in die reënmeter gemeet is.

Invloedsfaktore tot infiltrasie

Die hoeveelheid water wat in die grond insypel, word deur ’n paar faktore bepaal. Eerstens, hoe digter die plantbedekking, hoe stadiger vloei die water oor die grond en hoe meer tyd het die water om in die grond te sypel. Die digtheid van die plantbedekking word deur die veld se toestand bepaal, die voorkoms of afwesigheid van kaal kolle en die voorkoms of afwesigheid van erosieslote en dongas.

Die digtheid van die plantbedekking kan gemaksimeer word deur goeie weidingsbestuur toe te pas. Kaal kolle kan herstel word deur hoefaksie daarop toe te pas, deur die bogrond meganies los te maak met behulp van implemente soos ’n skeur-, vlek- of happloeg, of deur die kaal kolle met organiese materiaal te bedek, soos tuinafval en verrotte hooibale.

Die doel van al hierdie aksies is om die spoed waarteen die water oor die veld en kaal kolle vloei te verlaag asook om water op te vang, sodat dit mettertyd in die grond insypel. Erosieslote en kleiner dongas kan met die pak van klippe en ou buitebande gestabiliseer word, terwyl klipmandjies (sogenaamde gabions of skanskorwe) in kleiner dongas aangewend kan word.

Die erosieslote sal mettertyd tot so ’n mate met slik opvul dat dit volledig oortrek met plante raak, wat weer die insypeling van afloopwater verbeter in plaas daarvan dat dit verder afloop.

Tweedens, hoe groter die verskeidenheid van die plantspesies wat die grond bedek (biodiversiteit), hoe hoër die voorkoms van mikroörganismes en organiese materiaalinhoud binne-in die grond, en hoe beter vind insypeling van die reënwater plaas. Dit verhoog ook die grond se vermoë om water in die grondprofiel te berg voordat dit versadig is.

Hoe beter die veld se toestand is, hoe meer plantspesies sal daarin voorkom. Produsente het ’n direkte invloed op die veldtoestand van hul plase en dus ook biodiversiteit bo-op en onder die grond, deur goeie beweidingspraktyke toe te pas.

Dreinering en verdamping

Die water wat in die grond insypel, kan óf baie diep dreineer en die grondwater aanvul (diepdreinering), óf dit kan direk vanaf die kaal grondoppervlakte verdamp. Dit kan ook deur die plante opgeneem word en dan, deur middel van transpirasie, terug na die atmosfeer gaan.

Diepdreinering word nie as ’n verlies aan water beskou nie, aangesien dit die ondergrondse water aanvul. Dit is eintlik ’n enorme bate. Hoe meer water die grondprofiel binnedring, hoe beter is die kans op diepdreinering en hoe minder sal produsente probleme met opgedroogde boorgate hê.

Die water wat deur die plante opgeneem en getranspireer word, is noodsaaklik vir die proses van fotosintese. Hoe meer water getranspireer word, hoe meer voer word geproduseer. Die water wat dus deur middel van die plantegroei terug na die atmosfeer gaan, is die enigste gedeelte van die neerslag wat tot plantproduksie bydra – dit is die doeltreffende gedeelte van die reën.

Die water wat direk vanaf die grondoppervlak verdamp is vir die veeboer verlore, aangesien dit nie deur plante opgeneem word nie en dus nie tot veldproduksie bydra nie.

Die rol van veldtoestand

’n Mens wil natuurlik hê dat die water wat transpireer, so doeltreffend as moontlik na voer omgeskakel word. Wanneer ongewenste indringerbosse die water opneem en transpireer, produseer hulle tonne plantmateriaal, maar weinig voer. Eweneens is daar grasse wat byvoorbeeld aansienlik minder voer as ander grasse produseer, alhoewel hulle ewe veel water verbruik.

Eenjarige grasse wend hul water hoofsaaklik aan om saad in plaas van voer te produseer, want saad is hul meganisme van oorlewing. Daarteenoor, wend goeie weidingsgrasse ’n baie groter deel van hul waterverbruik vir die produksie van voer aan. Hulle het dus ’n beter waterverbruiksdoeltreffendheid. Hoe beter die veld se toestand, hoe groter deel maak hierdie produktiewe plante van die spesiesamestelling uit.

Produsente het beheer oor die spesiesamestelling van hul veld. Eerstens, deur die ongewenste indringers te beheer en tweedens, om te sorg dat die veld in ’n uitstekende toestand is, aangesien daardie plante met die beste waterverbruiksdoeltreffendheid in goeie veld voorkom. Dit verg noukeurige weidingsbestuur.

Produsente het ook beheer oor die diere wat toegang tot die geproduseerde voer het. Wat help dit om ’n plaas te hê met uitstekende voerproduksie, maar wat deur swak gehalte vee of swak kuddebestuurspraktyke vermors word? Klimaatslim veeboere sal altyd daarna streef om maksimum wins uit elke kilogram geproduseerde voer te realiseer.

Laat elke druppel vir jou werk

Die water wat verdamp vanaf die kaal grondoppervlakte of oop waters (die see, mere en damme), plus die water wat deur die plante transpireer, versamel in die atmosfeer en kondenseer om wolke te vorm en neerslag te veroorsaak, wat die watersiklus voltooi en herhaal.

Hierdie model bied ’n baie basiese verduideliking van die watersiklus, maar wat daaruit duidelik is, is dat slegs daardie gedeelte van die reënval wat in die grond insypel en deur die goeie en gewenste weidingsplante getranspireer word, tot doeltreffende voerproduksie en dus doeltreffende reënval bydra.

Dit is die enigste gedeelte van die watersiklus wat tot voerproduksie lei. Die res gaan verlore deur afloop, diepdreinering of verdamping vanaf die grond se oppervlak.

Die reën in die reënmeter is dus nie al wat tel nie, maar die water wat uiteindelik in die grond beland en wat deur goeie plante benut word om voer te produseer. Dit is die doeltreffende reënval en die fokus van klimaatslim veeboere. Hulle laat elke druppel water vir hulle werk!

In die volgende vier aflewerings in hierdie reeks word daar in meer detail na klimaatslim veldbestuur, radikale veldverbetering, klimaatslim kuddebestuur en klimaatslim droogtebestuur gekyk. – Dr Louis du Pisani, independent agricultural consultant

Vir meer inligting en bronverwysings, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.