FarmBiz Online het onlangs op uitnodiging van Tru-Cape in die Langkloof gekuier. Ons wou hoor hoe dit met die appel- en peerprodusente gaan en wat vanjaar se oes opgelewer het.

Toer-toer deur die Langkloof

Op dag een van die media-landboutoer het die media-span en Tru-Cape se verteenwoordigers, Calla du Toit en Brian Berkman, die Matt Zondagh-landgoed in Avontuur besoek. Daar het Ben-Pierre Stemmet en Matt Zondagh vertel hoe die produksielyn werk. Jimmy en Magdel Zondagh het die groep by Belle-Vue-opstal ontmoet – dit is waar wyle Dalene Matthee se legendariese boek, Kringe in ’n Bos, die lig gesien het.

Robin Baldie se familie het die plaas Misgund Boerdery in 1904 gekoop en die eerste appelboord met 3 000 bome wat uit die Kaap gebring is, geplant. Die bome is destyds vanaf Kaapstad na Port Elizabeth verskeep en van daar af per ossewa na die plaas vervoer. Op die foto is Chris en Patricia Jooste (Landbouweekblad), Glenneis Kriel (Farmer’s Weekly), Robin Baldie (produsent, Misgund Boerdery), Brian Berkman (Tru-Cape) en Calla du Toit (Tru-Cape).

Op dag twee het ons by die Baldie-familie van Misgund Boerdery ingeloer waar die hoof ossewaroete destyds tussen die plaas se eikebome na die Kaap en Port Elizabeth deurgeloop het. Daarna het ons koers gekies na Tulpieskraal waar André Kritzinger ons deur die pakhuis geneem het, en daarna na groot vrugteblokke wat letterlik in die berge geplant is.

Die wind van voor en agter

Een van die dinge wat elke produsent en plaaswerker sekerlik die meeste vrees, is ’n droogte. Dit is die drama wat homself die afgelope vyf jaar of langer, in die Langkloof afgespeel het.

Die Langkloof se produsente het in 2016 nog ’n goeie oes gehad, maar daarna het vrugset en die oeste se tonnemate dramaties as gevolg van die droogte afgeneem. Op 12 Januarie 2020 het ’n vernietigende haelstorm groot skade veroorsaak en baie plase se totale oes het tussen 50 tot 70% skade gely, terwyl ander tussen 30 en 50% totale oesskade gehad het. Later in dieselfde jaar, het ’n sneeustorm haelnette en algehele blokke appel- en peerboorde vernietig.

Tru-Cape
Hoewel die oprigting van netstrukture aanvanklik ’n duur operasie is, dra dit by tot ’n beter kwaliteit vrug. Die wit nette word op die bome met rooi appels (blos variëteite) gesit en die swart/donker nette is bedoel vir die groen variëteite. Die nette word ná oestyd vir die winter opgerol sodat die bye die blomme kan bestuif om sodoende beter gehalte vrugte te vorm. As die blomme nie bestuif word nie, val dit gewoonlik af, wat groot produksieverliese kan meebring.

En toe kom die reën einde 2021 en die vallei se mense skep weer moed, veral in die lig daarvan dat dit wil blyk asof vanjaar se appel- en peer-oesskatting tonne beter gaan vaar. Baie van die ou appel- en peerblokke is intussen tot niet gemaak en daar word nou gewoeker met nuwe aanplantings.

Kernvrugproduksie

Appels en pere hou van gematigde temperature en daar word algemeen daarna verwys as ‘kernvrugte’, wat dui op die holte of kern in die middel van die vrugte.

Die hoof appelproduserende deel van die Langkloof is in die suide van die vallei geleë. Hier vind ’n mens kultivars soos Fuji, Pink Ladies, Cripps Red (Sundowner, Joya), Granny Smith (GRS), Golden Delicious (GDL), Royal Gala, Starking en African Carmine.

Tru-Cape
Die Langkloof is 160km lank en is die tweede grootste vrugteproduserende streek in Suid-Afrika. Dit is geleë tussen die Kammanassie- en Kougaberge in die noorde, en die Outeniqua-, Langkloof-, Tsitsikamma-, en Kareedouw-berge in die suide.

Die hoof peerkultivar in Suid-Afrika, Packham’s Triumph, word ook in die Langkloof geproduseer. Van die ander kultivars sluit in Bon Chrétien (BC), Rosemary, Forelle, Abate Fetel en Doyenne du Comice.

Bedrywighede in die Langkloof neem waarneembaar toe tussen Januarie en Mei wanneer die appels en pere geoes word. ’n Tipiese produserende plaas, soos Misgund Boerdery, pak gedurende hierdie tydperk tussen 20 000 en 25 000 kratte vol vrugte wat op die plaas gesorteer, verpak en in ’n pakhuis verkoel word. Hul uiteindelike bestemming sluit lande soos Europa, die Midde- en Verre Ooste, Kanada en Afrika in.

Vrugte wat ‘hiberneer’

Volgens Du Toit, Tru-Cape se verkrygingsbestuurder, is dit nie so maklik as wat dit klink om vir twaalf maande van die jaar appels en pere aan winkels te verskaf nie. Vandaar die tegniek van beheerde atmosfeer- (BA) opberging wat dit moontlik maak om die vrugte langer in die stoorkamers te hou, waar die rypwordproses vertraag word met lae temperature en verlaagde suurstofvlakke.

’n Goeie peer-oes word vanjaar in die Langkloof verwag. Foto verskaf deur Brian Berkman, Tru-Cape.

Behalwe vir BA-opberging, word vrugte ook in koelkamers opgeberg sonder dat die suurstofvlakke gemanipuleer word, en dit staan as gewone atmosfeer-opberging bekend.

Die eienskappe van chlorofil wat lig weerkaats, word nageboots met dinamiese atmosfeer-opberging. Dit beteken dat as suurstofvlakke in die stoorkamer té laag raak, die weerkaatste lig wat deur sensors opgetel word se golflengte verander, wat dit moontlik maak om die vrugte teen ’n baie lae suurstofkonsentrasie op te berg.

’n Hawe-dilemma

Die Langkloof se vrugte word deur die Coega-hawe uitgevoer, maar logistieke probleme soos houer-tekorte is op hierdie stadium nog steeds ’n probleem in die Oos-Kaap. Die oorsaak hiervan is die ondoeltreffende hawe by Kaapstad en die feit dat baie skepe verbyhou, en bederfbare uitvoerprodukte nie van daar af na ander lande verskeep kan word nie.

Volgens Du Toit bestaan die hoop dat die situasie op die ou end uitgestryk sal word sodat sake na normaal kan terugkeer.

Kontak Calla by Tru-Cape by 082 327 4621 vir meer inligting oor die Suid-Afrikaanse appelbedryf, die ontwikkeling van nuwe appelkultivars, of wanneer spesifieke kultivars geoes word en beskikbaar sal wees. – Carin Venter, FarmBiz Online