Estimated reading time: 4 minutes
Kommersiële boegoe bedien ’n nismark, en plantasies kan tot ongeveer 80 jaar lank lewensvatbaar gehou word. In sy natuurlike vorm kan boegoe uitgroei tot bome met stamme van 30-40cm in deursnee.
Boegoe is ‘n buitengewoon-veelsydige fynbosstruik met ‘n ellelange reputasie wat terugdateer tot by die Khoisan se gebruik daarvan vir medisinale doeleindes en rituele wat glo negatiewe energie kon verdryf.
Die plant se sterk en komplekse aromatiese geur en karakter word al vir honderde jare die lof toegesing. Boegoe (Agathosma spp.) se kenmerkende reuk word dikwels as ’n “goddelike” aroma beskryf, wat aanleiding gegee het tot die wetenskaplike naam Diosma oppositifolia vir bitterboegoe – ook bekend as kanferboegoe of karooboegoe.
Daar is 140 verskillende spesies in die boegoe-familie wat inheems aan Suid-Afrika is. Hierdie redelik geharde fynbosstruik is endemies tot ’n radius van ongeveer 300km rondom Kaapstad.
Veelsydig en van antieke oorsprong
Die Kaapse Setlaars het boegoe gedurende die 1700’s en 1800’s kommersieel aan Europa en Amerika bekend gestel. Die gebruik van boegoe as ’n medisinale krui is verder deur die Britse ontdekkingsreisiger William John Burchell aan Europese medici aanbeveel, ná sy ekspedisies in Suidelike Afrika tussen 1810 en 1815.
Die eerste kommersiële distillasie van boegoe-olie het in die vroeë 1900’s in die Wes-Kaap plaasgevind. Tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) is boegoe deur die geallieerde magte as ’n antiseptiese middel gebruik om wonde te help ontsmet en behandel.
Gedurende die laat 1990’s het die kommersiële gebruik van boegoe ’n herlewing beleef, ook in die vorm van kapsules, tee en olie. Vandag word dit steeds beskou as ’n doeltreffende ontsmettingsmiddel met genesende eienskappe en word dit in ’n reeks kommersiële produkte vir mense en diere aangewend. Die gebruik van boegoe-brandewyn – ’n tinktuur wat reeds in die 1700’s deur Nederlandse setlaars in Suid-Afrika begin is – leef ook voort in talle Afrikanerhuishoudings, waar dit byderhand gehou word vir ’n verskeidenheid kwale soos verkoues, urienweginfeksies, prostaatprobleme en selfs die verlaging van hoë bloeddruk.
Die eerste kommersiële boegoe is in 1920 bo-op Piketberg geplant, waar die plant ook natuurlik voorkom. Slegs twee van al die boegoe-spesies is geskik vir kommersiële gebruik:
- Agathosma betulina (kort- of rondeblaarboegoe).
- Agathosma crenulata (langblaarboegoe).
Die genus Agathosma behoort tot die Rutaceae-familie, wat deel uitmaak van die groter sitrus-familie, Sapindales. Lede van hierdie groep is hoofsaaklik houtagtige struike en bome met blare wat welriekende oliekliere bevat.
Enkele voorbeelde van nie-kommersiële spesies sluit in:
- Haasboegoe – ’n immergroen struik wat endemies is aan die Weskus en in droë, klipperige of sanderige grond voorkom.
- Rooiboegoe of wildeboegoe – ‘n fyn, delikate plant wat onder andere langs die kontoerpad by Kleinmond in Hanneshoek aangetref word.
- Bitterboegoe, ook bekend as kanferboegoe of karooboegoe, wat tradisioneel uitwendig op kneusplekke aangewend word.
Behalwe vir kommersiële boegoe, kan ander spesies daarvan ook vir huishoudelike gebruik aangewend word. – Carin Venter, Plaas Media
Vir navrae, kontak Puris se kantoor by 021 872 4134 of info@puris.co.za; www.puris.co.za, of Elsabé du Plessis op Uitkyk by 082 800 8546.


