Estimated reading time: 4 minutes

Op watter hulpbronne en dienste kan plaasbewoners en huurarbeiders aanspraak maak, en wat is die staat se verpligtinge rondom die lewering hiervan?

Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg het onlangs ’n opspraakwekkende uitspraak gelewer in die saak van Zabalaza Mshengu en Ander vs. Msunduzi Munisipaliteit en Sewe Ander [11340/2017P] (‘die Zabalaza-saak’). Die drie munisipaliteite in KwaZulu-Natal is gelas om toegang tot basiese sanitasie, voldoende water en die verwydering van vullis aan huurarbeiders en plaasbewoners binne hul jurisdiksie te verleen.

Die Zabalaza-saak opgesom

Mnr Zabalaza het op ’n plaas binne die jurisdiksie van die Msunduzi plaaslike munisipaliteit gewoon voor hy oorlede is. Sy familie woon steeds in die handgeboude modderstruktuur wat hy saam met sy seun en twee kleinseuns bewoon het.

Toegang tot water kom vanaf ’n gemeenskaplike kraan op ’n buurplaas ongeveer 500m van die modderstruktuur af. Die gemeenskaplike kraan is aan die voet van ’n heuwel geleë en die huis op die heuwel. Dus, wanneer die okkupeerders en huurarbeiders water gaan haal, moet hulle 25ℓ-kanne met kruiwaens afstoot en die vol kanne weer na hul woning opstoot.

Me Ngema woon op ’n plaas binne die Umshwathi plaaslike munisipaliteitsgebied. Haar huis is een van twaalf op die plaas en is oud, verwaarloos en die dak lek wanneer dit reën. Die huise het ook geen ablusiegeriewe nie. Daar is net twee krane op die plaas wat 60 mense moet diens en vullis word ook nie verwyder nie.

Mnr Zabalaza, me Ngema en die Vereniging vir Landelike Bevordering (AFRA) – die applikante – het die Hooggeregshof genader en aangevoer dat hulle en verskeie plaasbewoners en huurarbeiders nie toegang tot voldoende water, basiese sanitasie, vullisverwydering en ’n skoon omgewing het nie. Dit is hul grondwetlike reg ingevolge die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996). Hulle het verder aangevoer dat die respondente ’n grondwetlike plig het om hierdie regte te verwesenlik.

Die Msunduzi-munisipaliteit het onder meer aangevoer dat, aangesien plaasbewoners en huurarbeiders op privaatgrond woon, die munisipaliteit nie die nodige dienste kan verskaf sonder die toestemming van die grondeienaar nie. Die munisipaliteit het ook aangevoer dat die plaasbewoners en huurarbeiders se regte teen die grondeienaar lê en nie teen die munisipaliteit nie.

Daarmee saam het die munisipaliteit aangevoer dat dit nie oor voldoende hulpbronne beskik om dienste aan alle plaasbewoners en huurarbeiders te bied nie.

Beslissings van die hof

Die hof het beslis dat die grondeienaar geen direkte statutêre verpligting het om water en sanitasie te verskaf nie en dat die munisipaliteit steeds daarvoor verantwoordelik is waar die eienaar dit nie lewer nie.

Die hof het verder bevind dat grondeienaars nie toegang tot sy/haar plaas aan die munisipaliteit mag weier nie, ten einde die nodige infrastruktuur en verskaffing van dienste te verseker.

Die hof het, met verwysing na plaasbewoners se regte in terme van die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997) om nie van toegang tot water, onderrig en gesondheidsdienste ontneem te word nie, bevind dat die munisipaliteit alle redelike stappe moet doen om sy verpligtinge teenoor alle inwoners na te kom, in samewerking met die grondeienaar.

Die hof het ’n bevel verleen waarvolgens die respondente se volgehoue versuim om aan inwoners wat binne hul areas van jurisdiksie op plase woon, toegang tot voldoende water, basiese sanitasie en vullisverwydering te verskaf, in stryd met die Grondwet verklaar is.

Die hof het die respondente gelas om onder andere die volgende te verseker:

  • Installasie van voldoende aantal watergebruikersaanskakelings met ’n minimum van 25ℓ water per persoon per dag, alternatiewelik 6kℓ per huishouding per maand.
  • Dat die aanskakelings water moet verskaf teen nie minder nie as 10ℓ per minuut.
  • Dat die aanskakeling binne ’n radius van 200m van die okkupeerder se huishouding is.
  • Installasie van een toilet per huishouding, wat aan sekere spesifikasies voldoen.
  • Lewering van vullisverwyderingsdienste.
  • Dat plaasbewoners en huurarbeiders toegang tot basiese munisipale dienste en, meer spesifiek, sanitasie en vullisverwydering het.

Appèl is teen die Zabalaza-saak aangeteken en dié is nog hangende. Die werking van die bevel was egter nie opgeskort nie en die betrokke munisipaliteite moet dus aan die bevel gehoor gee, tensy dit omvergewerp word. – Clarissa Pienaar, Moolman & Pienaar Ingelyf

Klik hier vir soortgelyke artikels.

Vir meer inligting, kontak Clarissa Pienaar by
018 297 8799 of clarissap@mmlaw.co.za of hj@mmlaw.co.za.