Estimated reading time: 4 minutes
- Die belangrikste deel van die voermengwa is die lemme.
- Dit is beter om die lemme om te draai as dit stomp begin word of dit heeltemal te vervang, sodat die masjien steeds funksioneel en doeltreffend kan wees.
- Dit is maklik om die toestand van voermengers na te gaan as jy elke dag daarmee werk.
- Van die onderdele wat gereeld vervang moet word, kan die produsent self doen.
- ’n Voermengwa se leeftyd kan met baie jare verleng word as dit goed hanteer en in stand gehou word.
Om jou eie voer te meng is ’n voorreg, maar soos met elke voorreg is daar verantwoordelikhede en een daarvan is behoorlike instandhouding. Jaco Pieters, eienaar van Rumax, sê die produsent wat sy eie voer kan meng spaar geld en tyd, maar dan moet die voermengwa in stand gehou en gereeld gediens word.
Hou die lemme skerp
Hy sê die belangrikste deel van die voermengwa is die lemme. Die lemme kan verloor of stomp raak. Daarom is dit beter om die lemme om te draai as dit stomp begin word of dit heeltemal te vervang, sodat die masjien steeds funksioneel en doeltreffend kan wees.
Om dit te probeer slyp is nie ’n besparing nie. Hy verduidelik dat die voermenger soos ’n biltongkerwer werk. As jy die lemme slyp, raak dit korter en is dit verder van die cutter bar af. Die gevolg is dat dit die gras net buig en nie behoorlik sny nie. As die lemme doeltreffend werk, sal die masjien minder tyd nodig hê om die gras te kerf en spaar jy op tyd en diesel.
Slytasie is onvermydelik
Net soos die lemme wat kan verloor, is daar dikwels moere en boute wat met die geskommel van die masjien losdraai en verlore raak. Dit is belangrik om hulle gereeld na te gaan en vas te draai.
Pieters sê dit is maklik om die toestand van voermengers na te gaan as jy elke dag daarmee werk. Dan is dit nie so noodsaaklik om die masjien elke dag skoon te maak nie. As dit egter nie elke dag gebruik word nie, moet die masjien behoorlik skoongemaak word sodra die werk afgehandel is. Dit is egter goed om elke dag ’n paar minute af te knyp en ’n inspeksie op die voermengers te doen.
Inspeksielys
- Is die bande op beide kante reg? Omdat die masjien gereeld rondgeskuif word, kan ’n pap band op ’n ongeleë tyd voorkom.
- Ghries alle punte gereeld. Wees egter versigtig dat jy nie die laers (bearings) te veel ghries nie. Dit kan ook op die lang duur skade veroorsaak.
- Is die olievlakke reg?
- Is die hidrouliese pype in goeie werkende toestand?
- Maak die sluis maklik oop en toe?
- Is die uitlaaimeganisme stewig?
- Is die spanning op die kettings korrek?
- Is die elektriese harnas wat van die trekker na die skaal gaan stewig vasgemaak?
- Is alle elektriese drade skoon? Omdat die voermenger beweeg en skommel, kan die drade deurskuur. Gebruik cable ties om die drade aan mekaar vas te heg sodat dit nie in die bewegende dele kom nie.
- Is alle hegtings op elektriese drade stewig?
- Is die kragaftakkas (PTO) se skerm op om veiligheid te verseker?
- Is die snylemme skerp?
- Is die skaal geyk?
- Is die kruiskoppelings (universal joints) geghries?
Van die onderdele wat gereeld vervang moet word, kan die produsent self doen. Daarom is dit wenslik om van die onderdele in voorraad te hê. Dit sluit in die snylemme, ontlaaiketting, kruiskoppelings, die load cell wat die gewig van die menger bepaal, en die laers wat mettertyd slyt en vervang moet word.
Lees oor die instandhouding van heinings hier.
Groot diens
Dit is ook noodsaaklik dat ’n voermenger, net soos ’n motor, een of twee keer per jaar deur ’n kundige gediens word. Met hierdie groot diens behoort die skaal weer gekalibreer te word. Dit kan gebeur dat modder aan die skaalstelsel kleef of stof in die load cell kan meebring dat die stelsel nie meer korrek funksioneer nie.
Goeie diens waarborg minder tyd op die menger en minder diesel. Dieselfde geld vir die skaal wat nie meer korrek funksioneer nie. Voermengsels is dan foutief en dit kan langer neem vir die diere om op die regte gewig te kom. ’n Voermengwa se leeftyd kan met baie jare verleng word as dit goed hanteer en in stand gehou word. – Koos Du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel Jaco Pieters van Rumax by 082 335 3970.

