Estimated reading time:10 minutes
Nadat hy ’n paar jaar as tegniese adviseur by SA Stamboek gewerk het, het Clynton Collett in 1972, op 26-jarige ouderdom, die plaas La Rochelle in die Venterstad-omgewing gekoop en voltyds begin boer. Sy skoonseun, Mario du Preez, boer al die afgelope 17 jaar saam met hom. Waar Mario na die dag-tot-dag bestuur van die boerdery omsien, spits Clynton hom op teling en seleksie toe. Die boerdery bestaan uit Meatmasterskape en Boranbeeste, en hulle produseer ook lusern.
Gedurende sy tyd by SA Stamboek, sê Clynton, het hy die geleentheid gehad om baie plase te besoek en kon hy baie leer oor wat om te doen en wat nié. “Destyds was ek baie sterk in die stoetbedryf betrokke en oor die jare het ek met ’n hele klomp rasse te doen gekry, onder andere die SA Vleismerino en Dorper. Ek het ook gehelp met die ontwikkeling van die Afrino.
“Later het ek Damaras gehad, maar oor tyd het ek begin sien dat die stoetbedryf eintlik ’n soort spel is wat gespeel word. Die skouring en veilings is die speelveld, en die spel bestaan uit die manipulering van die voorbereiding van jou diere ten opsigte van die voorkeure en smake van die beoordelaars en rasstandaarde. Dit het egter niks te doen met die winsgewendheid van daardie betrokke ras nie.”
Teling vir winsgewendheid
Mettertyd, sê Clynton, het hy besef die pad na werklike winsgewendheid slaan ’n totaal ander rigting in as wat hy sy lewe lank geglo het.
“Ek was, uit die aard van my agtergrond, altyd behep met rekordhouding. Dit was hierdie rekords wat my tot ander insigte gebring het. Ek het byvoorbeeld gekyk na die rekords van die Suid-Afrikaanse kampioenram van die vorige jaar asook sy ouers se prestasies. Daar was vir my geen verband tussen daardie diere, en selfs hul families, en die werklike winsdrywers soos vrugbaarheid, groei en lae insetkoste nie.

“Ek het besef dat ek nie net myself nie, maar ook my kliënte bluf, en dat ek eintlik geen bydrae lewer tot die verbetering van die bedryf nie. Die groot uitdaging is om ’n werklik winsgewende dier te teel.”
Aanvanklik het hy probeer om die diere waarmee hy reeds geboer het, deur teling te verander in hoogs winsgewende diere. Dit het egter dikwels met die standaarde van die spesifieke rasse gebots.
“Dit het vir my al hoe moeiliker geword om my oortuiging te volg en steeds binne die riglyne van die ras te bly. Die implikasie was dat die tipe dier wat ek wou teel, doodgewoon nie vir die telersgenootskap aanvaarbaar was nie en ek dus geen rol meer in die stoetbedryf gehad het om te speel nie. Dit het my gedwing om te kyk na die teel van ’n ras waarvan die standaard ooreenstem met my beginsels oor winsgewendheid.”
Ontwikkeling van die Meatmaster
Clynton sê hy was van die begin af, in die vroeë 1990’s, betrokke by die ontwikkeling van die Meatmaster. Die aanvanklike oorweging was glad nie om ’n nuwe ras te teel nie. Dit was bloot ’n poging om ’n tipe skaap te teel wat in ekstensiewe, semi-droë omstandighede winsgewend sou wees.
“Ek wou doodgewoon ’n skaap teel waarmee ek hier op my plaas kon geld maak en wat nie deur enigiemand anders beïnvloed kon word nie. Regdeur die ontwikkeling van die Meatmaster was ons uitgangspunt dat, sou ’n eienskap nie ’n positiewe invloed op winsgewendheid hê nie, dit nie deel van die kriteria mag wees nie. Die enigste bepalende eienskappe moes ons óf help om meer geld te maak, óf help om geld te spaar.”
Die rede waarom hulle uiteindelik in 2005 ’n nuwe ras geregistreer het, was omdat die vraag na hul ‘basters’ al hoe groter geraak het.
Die vaslê van eienskappe
“Ons het van die begin af besluit dat ons nie ’n sekere persentasie van hierdie of daardie ras wou gebruik nie. Ons wou eienskappe vaslê, en watter ras ons ook al op ons Damaras gebruik het, was met die doel om spesifieke eienskappe in te bring. Dikwels moes ons leer om van sekere eienskappe te hou, omdat sommige van die ekonomiese eienskappe nie noodwendig vir ons ’n mooi skaap gegee het nie.”
Voorbeelde van eienskappe waarvan hulle moes leer hou, is die Meatmasters se boude wat nie so groot is soos wat hy dit sou wou gehad het nie, en dat hulle dalk sterker in die lende moes wees. Dié eienskappe kan egter weer tot ander probleme lei, soos moeilike geboortes en swak loopvermoë.
“Ons het dus streng geselekteer vir eienskappe van oorlewing, hoë vrugbaarheid, lae vrektes en goeie veldbenutting – eienskappe wat ’n direkte invloed op ekonomiese doeltreffendheid het. Ons het ons eie voorkeure van ’n ‘mooi’ skaap in ons sakke gesteek. Die eienskappe waarna ons gesoek het, het ons veral by die Afrika-rasse gevind, en die Damara het vir ons heelwat van daardie eienskappe gegee.”
Die volgende stap was om vleisproduksie by hierdie rasse te voeg, want dit is immers wat hy moes wees – ’n vleisskaap. Die Dorper het hierdie vleiseienskappe ingebring. “Wat vleiseienskappe betref, moes ons ’n baie fyn balans probeer bereik, want té veel vleis veroorsaak dat ons weer van die ander eienskappe inboet.”
Benadering tot vleisproduksie
Waar die algemene opvatting is dat ’n skaap se vleisopbrengs hoofsaaklik in die boude en lende sit, glo Clynton ’n goeie ooi se waarde staan op twee pilare. Eerstens moet sy hoogs vrugbaar wees, wat bepaal word deur hoe vroeg sy vir die eerste keer lam, hoe gereeld sy lam en hoeveel meerlinge sy produseer. Die ander pilaar is dat haar lam moet kan oorleef, genoeg melk kry en goed kan groei. Dít, sê hy, is sy definisie van vleisproduksie: ’n lam wat oorleef en groei.

“As ek dus vleis wil produseer, moet ek ramme gebruik wat dogters teel wat aan hierdie vereistes voldoen. Vleisproduksie lê nie in die grootte van die individuele lam se boude en lende nie, maar in die aantal lammers wat ek kan speen. Ons kyk dus na hoe jy vleis die doeltreffendste kan produseer, of dan die vermoë van ’n moeder om te kan produseer, eerder as na die hoeveelheid vleis per dier.
Seleksie en kuddebestuur
“Ek noem my bestuursfilosofie die 25/75%-benadering. Hiervolgens is ek gemaklik daarmee as 25% van die kudde jaarliks uitval weens ons strawwe toestande. As meer as 25% swaar kry, dan weet ek daar is geen weiding oor nie en moet ek begin dink aan voer of lek aankoop, of om my diere te verminder. In die laaste 20 jaar was dit gelukkig net drie keer nodig.
“ ’n Mens kan, na gelang van jou spesifieke plaas, hierdie grense verander na 20/80% of selfs 30/70%. Die beginsel bly dat jy by jou eie riglyn hou en elke jaar die swakkes uitskot. Só bou jy ’n robuuste, ekonomiese kudde. Oor die jare teel jy dus ’n ál taaier dier.”
Hy glo dit sal ’n fout wees om net jou beste diere te identifiseer en hulle nóg beter probeer maak. “Jou beste diere is goed genoeg. Dis jou swakste diere wat jy wil identifiseer en uithaal. Die oomblik as jy byvoeding begin gee, kan jy nie meer die swakstes identifiseer nie en vermeerder jy die swak genetika in jou kudde.
“As jy op lekke begin staatmaak om prestasie te kry, raak jou boerdery kwesbaar en hardloop jou insetkoste maklik met jou weg. As jy al voerende ’n droogte binnegaan, kan jy nie bekostig om op te hou voer nie, want jy moet jou voerkoste verhaal. As jy daarenteen ’n droogte ingaan sonder dat jy voer, mag jy dalk met minder diere anderkant uitkom, maar jy sal finansieel sterker wees.
“Waar die norm waarskynlik is om te vra hoe jy kan voer om die meeste produksie uit jou diere te kry, is óns benadering om te kyk hoe ons die minste kan voer om die meeste geld te maak. ’n Dier wat op hierdie plaas ekstra voer moet kry, het reeds sy kaartjie van die plaas af gekoop.”
Die enigste uitsondering is dat stoetramme van ses weke voor ’n veiling ingebring word om gevoer te word. Die primêre rede hiervoor is nie uitsluitlik om kondisie te bou nie, maar om die diere te leer om uit ’n voerbak te vreet.
Veld- en waterbestuur
Die vermoë om veld doeltreffend te benut is vir Clynton ’n uiters belangrike eienskap. “Ek wil hê my skape moet soos ruspes op die veld wees en eenvoudig alles vreet wat beskikbaar is. Dit is my verantwoordelikheid om die veldbestuur toe te pas, sodat hulle nie my veld verniel nie.”

Hul veldbestuurstelsel berus op die gereelde skuif van die vee, óf op ’n maandelikse óf tweeweeklikse basis, afhangend van die grootte van die kudde. Elke kamp word elke jaar benut. “Ons belaai die kampe volgens die reënval in daardie spesifieke jaar – hoe meer dit reën, hoe hoër die belading en andersom. As jy egter ’n norm wil hê, is dit min of meer twee hektaar per skaap.”
Oor die jare het hulle baie daarop gefokus om reënwater op die plaas te hou, deur middel van strategiese walle wat hulle gebou het. Die mikpunt was nie soseer om water op te dam nie, maar eerder om dit oor die hele plaas te probeer versprei.
“Dit het gemaak dat die plaas baie waterryk is en het die watertafel baie positief beïnvloed. Ons beskou ons waterbestuur as deel van ’n holistiese benadering wat daarop gemik is om ons so ver as moontlik weerbaar te maak teen droogtes. ’n Mens beplan vir ’n droogte 20 jaar vóór dit jou tref.”
Lamseisoen en bemarking
Juis omdat reënval toenemend wisselvallig raak, het hulle twee lamseisoene – in die lente en in die herfs. Die uitwerking daarvan, glo Clynton, is dat risiko daadwerklik versprei word. Lampersentasie word hoofsaaklik deur die klimaat bepaal. In goeie jare styg dit so hoog as 170%, terwyl dit in swak jare na rondom 115% kan daal. Verlede jaar was hul syfer 167%.
Stoetlammers word op 100 dae gespeen sodat die rammetjies nie die ooie begin dek nie. Speenouderdom vir die kommersiële lammers word totaal deur die seisoen bepaal. In ’n goeie jaar, wanneer daar baie kos is, bly die lammers selfs tot vyf maande by die ooie en word hulle dan direk aan die abattoir bemark. In ’n gemiddelde jaar word hulle op vier maande gespeen en 80% word direk bemark, terwyl die laaste 20% in ’n voerkraal afgerond word.

“In swak jare sal ons tipies net 20% van die lammers direk bemark en die oorblywende 80% eers afrond. Dit is spesifiek hiervoor dat ons die lusernlande aanwend. In goeie jare sal ons surplus lusern verkoop, maar ons hou altyd ’n groot voerbank vir die moeilike jare.
“In die groot droogte van 2015/16 het ons byvoorbeeld lusern gevoer wat al vir meer as 20 jaar in ons skure gelê het. Dit het gemaak dat dit nie nodig was om ’n sent aan voer te bestee nie. Na my mening is dit presies wat langtermynbeplanning beteken.
“Ons hele boerderybenadering is daarop gemik om in die swakker tye steeds geld te maak. Dit doen ons deur eerstens ons insetkoste so laag as moontlik te hou. In die proses teel ons ook diere wat geneties in staat is om sonder baie insette te floreer.”
Vir meer inligting, kontak Clynton Collett by 082 463 5936 of crc@collettgroup.com, of Mario du Preez by 081 489 0198 of mario@superiorgenetics.co.za.