Estimated reading time: 4 minutes
Dit gebeur dikwels in die praktyk dat ’n grondeienaar ’n hofbevel teen ’n plaasbewoner kry om hom/haar te verbied om byvoorbeeld onwettige boubedrywighede te staak of om onwettige strukture af te breek en die boumateriaal te verwyder, waarop die plaasbewoner dan dikwels bloot die hofbevel ignoreer. Wat staan ’n grondeienaar te doen om gehoorsaamheid aan ’n hofbevel af te dwing?
Lees ander artikels deur die outeur.
Daar bestaan ’n gevestigde prosedure in ons reg, naamlik minagtingsverrigtinge, waarvolgens ’n grondeienaar wat ’n bevel teen ’n plaasbewoner bekom het, die hof wat die bevel verleen het kan nader en bestraffing teen die plaasbewoner vir sy/of haar minagting kan aanvra, om sodoende gehoorsaamheid af te dwing.
Die situasie kan natuurlik ook omgekeerd wees, in die opsig dat die plaasbewoner ’n hofbevel teen die grondeienaar bekom en die grondeienaar versuim om aan die bevel gehoor te gee.
’n Welbekende juris en akademikus, prof Carel Rainier Snyman, definieer minagting van die hof as “die wederregtelike en opsetlike aantasting van die waardigheid, aansien of gesag van ’n regterlike amptenaar in sy regterlike hoedanigheid, of van ’n regsprekende liggaam”.
Minagtingsverrigtinge
Hoewel die versuim om aan ’n hofbevel te voldoen ’n misdryf is, het siviele howe ook die mag om minagtingsverrigtinge aan te hoor en wye bevoegdhede om die nodige regshulp toe te staan om voldoening aan die hofbevel te verseker.
Die doel van minagtingsverrigtinge is om ’n straf op te lê wat die hof se eer sal herstel, en om nakoming van die eerste bevel te verplig. Die hof kan, in die geval waar ’n hofbevel geminag word, ’n verklarende bevel verleen – ’n bevelskrif dat die persoon op ’n spesifieke manier moet optree – of ’n boete of gevangenisstraf oplê ten einde voldoening aan die bevel af te dwing.
’n Onlangse voorbeeld van die werking van die gevestigde prosedure (en een wat groot opspraak in ons land gemaak het en aanleiding tot grootskaalse skade en anargie gegee het), is die skuldigbevinding van die voormalige president, Jacob Zuma, deur die Konstitusionele Hof en Zuma se daaropvolgende gevangenissetting weens sy versuim om aan die Konstitusionele Hof se bevel te voldoen.
Nog ’n voorbeeld is die ongerapporteerde beslissing van die Grondeisehof in die saak van De Jager en Een Ander vs. Mazibuko LCC57/2020B (‘die De Jager-saak’). Die feite in die De Jager-saak kan as volg opgesom word:
Mnr de Jager en een ander, het die Grondeisehof genader vir ’n bevel dat me Mazibuko aan minagting van die hof se tussentydse bevel (wat haar gelas het om verdere bouwerk te staak, hangende die afhandeling van die aansoek om ’n interdik), skuldig bevind word, en het versoek dat Mazibuko vir ses maande gevangenisstraf gevonnis word.
Toe die balju die tussentydse bevel op Mazibuko beteken het, het die balju aan haar verduidelik dat sy onmiddellik die boubedrywighede op die plaas moet staak. Mazibuko het aan die balju bevestig dat sy bewus is daarvan dat sy die boubedrywighede moet stopsit en het selfs die bouers opdrag gegee om nie verder op die plaas te bou nie. Die bouers het bevestig dat hulle nie verder sal bou nie.
Die gevolge van minagting
Nodeloos om te sê, het Mazibuko nie die boubedrywighede gestaak nie en het sy, ondanks die tussentydse bevel, aanhou bou op die plaas. Mazibuko is by verskeie geleenthede, nadat die tussentydse bevel op haar beteken is, versoek om aan die bevel te voldoen en gewaarsku dat haar optrede op minagting van die hof neerkom en ook wat die gevolge van haar optrede sal wees.
Lees meer oor vier foute met vastetermynkontrakte.
Die hof het bevind dat die betekening van die bevel en kennis van die bevel, sowel as die mala fide en opsetlike nie-voldoening aan die bevel, bo redelike twyfel bewys moet word, ten einde met minagtingsverrigtinge te slaag. Die Grondeisehof het bevind dat De Jager homself suksesvol van die bewyslas gekwyt het en het Mazibuko aan minagting skuldig bevind. Sy is ’n boete van R2 500 opgelê.
Uit die voorgenoemde is dit duidelik hoe belangrik dit is om in die geval waar ’n hofbevel teen die plaasbewoner verkry is, seker te maak dat die plaasbewoner die aard en inhoud van hofbevel verstaan, en dat hy/sy ook kennis dra van die gevolge van nie-voldoening. Dit is belangrik om te onthou dat hofbevele nagekom moet word en dat tronkstraf, of ’n boete, die voorland is van enige persoon wat die howe se bevele opsetlik minag. – Clarissa Pienaar, Moolman & Pienaar Ingelyf
Vir meer inligting, kontak Clarissa Pienaar by 018 297 8799 of stuur ’n epos na clarissap@mmlaw.co.za of hj@mmlaw.co.za.




