Groter getalle roofdiere knou produsente wyer

Share This Post

Estimated reading time: 7 minutes

Kommer bestaan oor die toename in groot en vreemde roofdiere wat die afgelope tyd onder veeprodusente se diere begin maai. Dit is veral luiperds, jagluiperds, vlakvarke en ratels wat hulself skuldig maak as roofdiere wat vee vang. In baie gevalle het hierdie roofdiere ‘n dekade of drie gelede selde of nooit voorgekom in die omgewings waar hulle nou skade aanrig.

Kobus Poggenpoel, wat saam met sy seuns, Phillip en Kobus, naby Setlagole boer, sê toe hy sowat 30 jaar gelede in die omgewing begin boer het, het luiperds baie selde in die gebied voorgekom. Deesdae is die roofdiere volop en het van hulle hul loopgebiede in die Molopo-omgewing gevestig.

In die afgelope tyd het ‘n luiperd agt van hul kommersiële kalwers gevang en toe die trop twee kampe verder weggeskuif is, het die luiperd ná ’n week of twee sy opwagting daar gemaak.

Al hoe meer kleintjies

Op ’n ander plaas in die omgewing is die afgelope klompie jare 22 verskillende luiperds geïdentifiseer. Kobus sê wat kommerwekkend is, is dat die wyfie elke jaar twee of drie kleintjies grootmaak wat hulle dan ook in die omgewing of aangrensende gebiede gaan vestig. As iets nie gedoen word nie, gaan die luiperdbevolking so aangroei dat dit moeilik gaan wees om nog met vee in die gebied te boer.

Hy glo van die luiperds het dalk aanvanklik uit Botswana gekom, is toe nie beheer nie. Namate meer plase onbewoon geraak het met minder plaaswerkers, menslike beweging afgeneem het en geen natuurlike vyande voorgekom het nie, het hulle hulself gevestig waar beeskalwers makliker prooi as wild is.

Die Poggenpoels probeer om koeie met kalwers weg te hou uit die gebiede waar die luiperds loop en hy glo hulle vang dan wild, bobbejane en ape om te oorleef. Die luiperds vang gewoonlik so ’n week uit mekaar en kom gewoonlik terug na die karkas toe.

Jagluiperds is by hulle nie so ’n groot probleem nie, maar is lastig laer teen die rivier af in die omgewing Van Zylsrus in die Noord-Kaap. Hulle vang vars prooi elke keer as hulle honger raak en ’n groep jagluiperds kan ’n trop springbokke uitroei. Wanneer hulle jong diere leer jag, byt hulle dikwels ’n klomp diere dood en vreet net aan een.

Laer af langs die Moloporivier is jagluiperds weer ’n lastigheid. Die diere vang ’n vars prooi elke keer as hulle honger word.

Die erns van roofdierskade vir die veebedryf het gelei tot die stigting van die Predasiebestuursforum wat in 2019 na Prestasiebestuur SA (PMSA) verander het. Dit is ’n nie-winsgewende organisasie wat ’n multisektorale platform is vir skakeling en koördinering tussen bedryfsorganisasies uit die vee- en wildbedryf, met die oogmerk om die probleem aan te pak.

Lees meer oor roof- en probleemdiere op Suid-Afrikaanse plase.

Vreemde spesies word meer

Niel Viljoen, wat jare lank navorsing doen oor roofdiere en deur PMSA as predasiespesialis aangestel is, sê dit is moeilik om die skade wat roofdiere onder vee aanrig, te kwantifiseer. Hy glo egter dat roofdiere sowat 23% van veeboere se aanteel in hul kuddes doodmaak.

Dit is vir hom veral kommerwekkend dat die getalle groter roofdiere die afgelope vyf jaar so beduidend toegeneem het en vreemde spesies wat selde voorheen vee gevang het, nou ’n groot probleem word. Sy indruk is dat die getalle van jakkalse en rooikatte, wat vroeër die grootste uitdaging was, betreklik konstant bly. Daar is bewyse dat bestuurstelsels wat produsente in staat stel om saam met dié diere te boer, werk.

Die getalle luiperds, jagluiperds en bruin hiënas het egter beduidend toegeneem. In die strandgebiede van die Suid-Kaap is ratels wat lammers vang deesdae ’n groter probleem as jakkalse. ’n Mens kan verwag dat die probleem gaan eskaleer. In die betreklike veiligheid van plase met min menslike beweging en min tot geen natuurlike vyande, raak die werpsels van die roofdiere groter en oorleef baie meer van hulle as in die natuur. Jakkals-tewe het deesdae werpsels van tot 12 kleintjies, waar die gemiddeld vroeër waarskynlik ses was waarvan nie almal volwassenheid bereik het nie.

Vlakvarke kom al hoe meer in die Vrystaat en Karoo voor, en hoewel hulle eintlik plantvreters is, vang hulle nou lammers en val selfs groot skape aan. Die kleintjies leer om lammers te vreet en sal dit waarskynlik aanhou doen as hulle groot is.

Die ander probleem met vlakvarke is dat hulle strukture soos jakkalswerende heinings beskadig en vernietig, wat dan weer makliker toegang vir die kleiner roofdiere bied. Hy glo al oplossing vir die vlakvarkprobleem is om hulle uit te skiet.

Subsidies kan help

Daar bestaan ʼn siening dat produsente roofdiere net wil doodmaak. Daar is baie produsente wat graag ander beheermetodes sou verkies. Dit is egter soms duur, tydrowend en dikwels moeilik om toe te pas. Dit sou ’n goeie opsie wees as die miljarde rande wat die staat verloor as gevolg van die skade wat veeprodusente weens roofdiere ly, in die vorm van subsidies teruggeploeg kon word om die probleem te verlig.  

Jare gelede is subsidies aan produsente gegee om jakkalswerende heinings op te rig. Hierdie heinings tesame met ’n roep-en-skietstelsel het verseker dat produsente die beste speenpersentasie uit hul kuddes kon kry. Pryse het egter so geëskaleer dat dit vandag moeilik bekostigbaar is om net die heinings in stand te hou.

Die permitstelsel om diere wat aanhoudend skade aanrig te vang of skiet, werk net nie en daarby het die betrokke owerheidsinstellings ook nie die mannekrag om diere wat gevang word, te hervestig nie. Produsente se hande is vasgebind, veral ten opsigte van die groot en beskermde roofdierspesies. Al wil die produsent die roofdier self vang, kan hy dit nie sonder ’n permit doen en die dier hervestig nie.

Niel sê syns insiens is afsondering in beskermde kampe tesame met die roep-en-skietmetode die doeltreffendste manier om roofdiere wat aanhoudend skade aanrig, te beheer.

Produsente kry egter min aanmoediging en hulp. Daar is ’n daadwerklike poging en behoefte van baie produsente om te help om die spesies te bewaar en reg te bestuur, maar alleen is dit vir hulle ’n opdraande stryd. Dit is dalk ook tyd dat die hiper-bewaringsbewustes ophou om net geraas te maak, hul hande in hul sakke te steek en daadwerklik tot die bewaring wat hulle bepleit, by te dra.

Beter veebestuur

In ‘n artikel oor die bestuur van roofdiere, skryf Siphiwe Tshabalala en Meyer van der Merwe van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, dat veeverliese verminder kan word as die fokus van roofdierbestuur na doeltreffende veebestuur verskuif.

Donkies, alpakkas en Anatoliese herdershonde kan dikwels saam met afsonderingstelsels verhoed dat roofdiere in gebiede ingaan en loopgebiede daar vestig. Anatoliese herdershonde is bekend daarvoor dat hulle vlakvarke verhoed om die heinings van afsonderingskampe te beskadig wat toegangsplekke vir roofdiere skep.

Om die ware impak van roofdierskade te verstaan, is verdere navorsing nodig. ’n Beter begrip van die onregstreekse uitwerking van roofdierskade op veeproduksie en -prestasie sal voorsiening maak vir ’n akkurater beoordeling van die impak daarvan. Dit kan progressiewe bestuur en beleidsgesprekke bevorder, skryf hulle.

Groter werpsels

Dr Liaan Minnie, ’n lektor aan die Skool vir Biologie en Omgewingswetenskappe aan die Universiteit van Mpumalanga, sê in ’n artikel sy navorsing oor jakkalse het getoon dat dodelike beheermetodes eintlik die probleem kan vergroot pleks van oplos, omdat die jakkalsbevolking kompenseer vir die verhoogde dodetal deur groter werpsels op jonger ouderdomme te kry. Naburige jakkalse kan ook inbeweeg in die beskikbare areas wat deur die dodelike metodes veroorsaak is.

Sommige produsente het gesê hulle ervaar dat as ’n jakkalspaar in hulle gebied gelos word wanneer hulle nié kleinvee doodmaak nie, sal daardie paar sorg dat nuwe jakkalse van naburige grond nie hul gebied binnekom nie. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Kobus Poggenpoel by 082 946 9677 of pogtaxidermy@webmail.co.za, of Niel Viljoen by 082 381 8227 of nielviljoen@gmail.com.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 12 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...