Tuesday, December 16, 2025

2024 Textile Exchange-kongres: ’n Saak van verandering

Estimated reading time: 6 minutes

Die vinnig-veranderende produksie- en verwerkingsomgewing, tesame met die implementering van nuwe regulasies in die tekstielbedryf, was die hooftema van Textile Exchange se jaarkongres wat in Oktober 2024 in Kalifornië gehou is.

Behalwe vir verskeie groot internasionale modehuise, handelsmerke, kettingwinkels, navorsers en akademici, is Suid-Afrika se wolbedryf deur Deon Saayman, hoofbestuurder van Cape Wools, Dan Kriek, hoofbestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en Billy van Zyl, die NWKV se nasionale voorsitter, verteenwoordig.

Billy van Zyl, links, nasionale voorsitter van die NWKV, en Deon Saayman, hoofbestuurder van Cape Wools.

Veeplaas het Saayman gepols oor sy ervaring van die geleentheid wat meer as 1 300 individue by die Pasadena-konferensiesentrum net buite Los Angeles, tesame met 400 aanlynbesoekers, verwelkom het. “Ons het die kongres bygewoon omdat dit belangrik is om die volle prentjie te kry van wat aan die ander kant van die plaashek gebeur, vanweë die direkte impak wat dit op standaarde en herlewingslandbou op plaasvlak het,” sê hy.

“Ons het ook die geleentheid gebruik om deel te neem aan in-diepte gesprekke wat ’n groot invloed kan hê op die aankoopbesluite binne die onderskeie handelsmerke. Dit was ’n waardevolle oefening waar ons meer te wete gekom het van die werk wat op Internasionale Wol- en Tekstielorganisasie (IWTO)-vlak gedoen word en hoe dit by Textile Exchange inskakel. Sekere knelpunte by Textile Exchange en die moontlike impak van nuwe wetgewing deur die Europese Unie (EU) op die Suid-Afrikaanse wolbedryf is ook bespreek.”

Saayman glo groot uitdagings lê voor, maar ook vele geleenthede vir Suid-Afrikaanse produsente in terme van die volhoubaarheidstatus en gehalte wol wat Suid-Afrika aan die wêreld bied. “Ons wolskeersel is uniek en word wêreldwyd erken. Dit is wel belangrik dat die storie van Suid-Afrika se wol meer en beter vertel moet word, om sodoende handelsmerke korrek in te lig oor die produksieproses op plaasvlak.”

Tydens die gesprek oor klimaatsverandering en die doelwitte wat deur die EU en Textile Exchange voorgestel is, was dit duidelik dat die doelwitte nie realisties is nie en nie suksesvol geïmplementeer kan word nie.

Brandpunte en realiteite

Een van die besprekingspunte was wetgewing in die Europese Unie (EU) vir die implementering van die Materials Matter Standard (MMS). Volgens modehuise en handelsmerke is dit onmoontlik om al die tipes materiaal in hul produkte te etiketteer, en daarom sal die MMS al die verskillende soorte materiale in die produkte wat hulle gebruik, insluit.

Sodra die wetgewing goedgekeur word, sal die begrip ‘verantwoordelike’ nie langer van krag wees nie wat, volgens Saayman, ’n groot impak op Suid-Afrikaanse produsente sal hê wat betref ons Verantwoordelike Wolstandaard en Verantwoordelike Sybokhaarstandaard. MMS sal ’n groot hoeveelheid vesel en onder meer herwonne poliëster insluit.

Die gesprek het ook aan die toeganklikheid en opdatering van standaarde geraak. Saayman meen sommige modehuise en handelsmerke verloor die realiteit van wat werklik op grondvlak gebeur, soms heeltemal uit die oog. “Dit kom wel voor asof dit by hulle begin insink dat nuwe standaarde en reëls nie net gedikteer kan word nie. Daar was ook interessante gesprekke vir beter samewerking tussen lande ten opsigte van standaarde soos die Volhoubare Cape Wools-standaard, wat positief vir Suid-Afrikaanse produsente kan wees.”

Cape Wools SA en die NWKV het ’n baie goeie sessie gehad met Clair Bergkamp, Textile Exchange se nuwe uitvoerende hoof. Daar kon sekere frustrasies vanuit die Suid-Afrikaanse kamp oor die nuwe standaarde en praktiese probleme met die implementering daarvan, aan haar oorgedra is. Daar was ook ’n gesprek oor beter samewerking met Cape Wools SA se blokketting en integrasie met Textile Exchange se dTrackit- en eTrackit-stelsels wat nog ontwerp word. Saayman sê dit is nie altyd so maklik om sulke integrasie te doen nie, maar Textile Exchange is nou minstens bewus van wat Suid-Afrika kan bied.

Ander gesprekke op die agenda was oor kreatiewe vennootskappe om die gaping tussen produsente, vervaardigers en handelsmerke te vernou en suksesverhale met die betrokke handelsmerke te deel. “Ons het na ’n opkomende produsent in die sybokhaarbedryf in Suid-Afrika geluister oor die uitdagings en realiteite op plaasvlak,” sê Saayman.

“In baie gevalle weet die mense by groot handelsmerke en maatskappye nie regtig wat die produksietoestande op plaasvlak behels nie. Dit is belangrik dat hulle na die plaas kom om die omstandighede waaronder wol en ander natuurlike vesels geproduseer word, beter te verstaan en ’n begrip te ontwikkel dat dit nie oor dieselfde kam geskeer kan word as katoen of herwonne poliëster nie.”

Die kort en lank van ’n nismark

Hoewel die kongres nie eintlik ’n boer se wêreld is nie, het Billy van Zyl, nasionale voorsitter van die NWKV, vanjaar ook die kongres bygewoon waar hy ontwerpers en kleremakers se vrae oor wolproduksie in Suid-Afrika help beantwoord het. Veeplaas het hom gevra wat vir hom as produsent uitgestaan het.

“Wat ek daar geleer het, is dat katoen en herwonne poliëster baie vinnig opgang gemaak het. Katoen kan byvoorbeeld vernietig word sonder om ’n negatiewe uitwerking op die omgewing te laat. Wat ek ook agtergekom het, is dat kledingstukke nie meer so lank hou soos in die verlede nie en al hoe meer mense benodig klere. Ek glo dit gaan daartoe lei dat die prys van natuurlik vesels die hoogte gaan inskiet, wat sal beteken dat die vraag na wol, as ’n natuurlike produk, sal toeneem.”

Iets waarvan Billy nou baie seker is, is dat Suid-Afrika se wolprodusente ’n goeie storie het om te vertel. “Dit tel in ons guns dat wol streng volgens sekere riglyne, soos klas- en skeerstandaarde, geproduseer word. Die probleem is egter dat die wêreld daarbuite nie regtig van hierdie volhoubare praktyke bewus is nie. As ’n mens ’n nismark soos Suid-Afrikaanse wolskeersel in ag neem, sal ons as bedryf meer moet doen om ons produk hoër op die wêreldranglys te plaas.”

Textile Exchange se 2024-kongres is gelei deur kundiges op hul gebied, asook organisasies sonder winsbejag en bekende handelsmerke. Die fokus, wat die landbou betref, was grootliks op volhoubare praktyke in herlewingslandbou, die herwinning van gebruikte materiaal en afvalstowwe, sertifisering en dies meer.

Van die gesprekke tussen produsente en bedryfsleiers het onder meer ingesluit:

  • Die rol van veerkragtigheid en strategieë om volhoubare produksie te bewerkstellig.
  • Die impak van doeltreffende dataversameling binne ’n sekere aangepaste konteks.
  • Die behoefte binne alle bedrywe om die vraag en aanbod na volhoubare produkte en materiaal te stimuleer.
  • Die vraag na aanpasbare en toeganklike volhoubaarheidstandaarde, asook groter inklusiwiteit by produksertifisering.
  • Proaktiewe beleidsbetrokkenheid as dryfvere vir ’n volhoubare toekoms.
  • Buigsaamheid by besighede in die lig van toenemende klimaatrisiko’s.
  • Ondersoeke na ’n manier waarop risiko’s en dividende in produksie eweredig op alle vlakke versprei kan word.
  • Die waarde van verbruikersopvoeding om ’n positiewe opvatting te skep oor die nut en gehalte van volhoubare produkte, met die nodige respek en erkenning vir diegene in die produksieproses.
  • Die noodsaaklikheid van vennootskappe om die gaping tussen produsente, vervaardigers, handelsmerke en verbruikers te oorkom, vordering te vier en suksesverhale met mekaar te deel. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Cape Wools SA by 041 484 4301 of capewool@capewools.co.za, of die NWKV by 041 365 5030 of nwga@nwga.co.za.

Must read

Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes Die 73-jarige verdagte, wat verbind word met die Chubby Chick-skietvoorval vroeg in November, is steeds onder polisiebewaking in ’n hospitaal...

RSG Landbou – 16 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels ons oor handelsooreenkomste met Wolfe Braude van Agbiz en dr Ben Greyling van die Landbounavorsingsraad bespreek die wenners...

Wheat farmers financially strained as Section 7 investigation looms

Estimated reading time: 5 minutes The Wheat Forum has applied for the establishment of a Section 7 Committee to conduct a comprehensive investigation into the...

Agri X Fusion 2026 to align research and industry for the future of South...

Estimated reading time: 2 minutes Agri X, in partnership with the North-West University (NWU), will host the Agri X Fusion Red Meat Value Chain Event...

RSG Landbou: 15 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels Agbiz oor hulle fokuspunte vir 2026, ons vind uit wie die 2025 Nasionale Meestersuiwelboer wenners is en dr...