Estimated reading time: 4 minutes
Sedert die afkondiging van die eerste inperkingsregulasies in reaksie op Covid-19, was daar ’n drastiese toename in grootskaalse onregmatige grondbesettings in Suid-Afrika.
Ongelukkig is daar mense en organisasies wat die beperkings wat die regulasies op wettige uitsettings geplaas het, misbruik, om dit in sameloop met die groot behoefte aan behuising in Suid-Afrika uit te buit vir politieke voordeel.
Buiten die ernstige nadeel vir die grondeienaars en/of aanliggende grondeienaars tot die eiendom, is die uiteinde van grondbesettings heel dikwels die uitvoer van uitsettingsbevele. In effek beteken dit dat in gevalle waar regsoptrede geneem en uitsettings beveel word, arm mense gereeld in die spervuur kom van die regsgevolge van onregmatige besettings.
Proaktiewe voorkoming nodig
Grondbesettings het egter ’n ander dimensie, wat nie direk met die konflik tussen die staat en privaat grondeienaars en onregmatige besetters verband hou nie. Dit is hierdie dimensie wat oor die lang termyn ernstige gevolge kan hê as die staat nie dringend behoorlike maatreëls instel om grondbesettings proaktief te ontmoedig nie, eerder as om besettings telkemale te laat eskaleer totdat die enigste uitweg die grootskaalse uitsetting van mense is.
Ingevolge die Grondwet van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) en in besonder artikel 24 van die Grondwet, het alle inwoners van Suid-Afrika ’n reg tot ’n gesonde omgewing en dat die land se hulpbronne op ’n volhoubare wyse teen besoedeling en ekologiese vernietiging beskerm word. Dit beteken dat ontwikkeling vir menslike voordeel moet geskied op ‘n wyse wat gevolg sal gee aan hierdie fundamentele en grondwetlike reg.
Omgewingsimpak en beplanning
Waar menslike nedersettings (omgewings waar groot getalle mense tydelik of onbepaald vir residensiële redes vergader) ter sprake is, het Suid-Afrika verskeie wette om aan die voorgemelde bepaling van die Grondwet gevolg te gee en te verseker dat die vestiging van menslike nedersettings nie net uit ’n omgewingsoogpunt volhoubaar plaasvind nie, maar dat behoorlike toegang tot basiese dienste soos riolering, water, paaie, straatligte en vullisverwydering ook voorsien word.
Uit ’n beplanningsoogpunt moet grond gesoneer word vir die doel waarvoor dit aangewend word en volgens voorskrifte (verordeninge) van plaaslike owerhede. Hiervoor is nasionale wetgewing afgekondig en vervat in die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur, 2013 (Wet 16 van 2013) (SPLUMA). Die wetgewing en verordeninge stel plaaslike owerhede in staat om rondom uitbreiding vir bewoningsdoeleindes en die lewering van dienste te beplan.
Bykomend tot SPLUMA en die toepaslike plaaslike verordeninge, plaas die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, 1998 (Wet 107 van 1998) sekere uitdruklike pligte op enige persoon of instansie (insluitend die staat) wat nagekom moet word alvorens die vestiging van enige nedersetting mag begin.
In die Wet en regulasies word ’n groot aantal aktiwiteite, wat met die vestiging van nedersettings verband hou, gelys as aktiwiteite wat nadelig of skadelik vir die omgewing is. Omdat dit skadelik of nadelig vir die omgewing is en in die regulasies gelys word, moet daar vooraf formeel aansoek gedoen word om met dié aktiwiteite voort te gaan.
Die bestaan van die voormelde wetgewing, wat gevolg gee aan ’n grondwetlike reg, behoort te strook met maatreëls wat ingestel moet word om te verseker dat menslike nedersettings nie in stryd daarmee plaasvind nie. Grootskaalse grondbesettings en/of die toelaat daarvan, het by implikasie tot gevolg dat artikel 24 van die Grondwet en die meegaande wetgewing verbreek word.
Dit is dan nie meer bloot ’n geval van ’n dispuut tussen grondeienaars en -besetters nie. Baie meer mense word deur grondbesettings geraak, en die mense wat grond beset sonder dat aan die genoemde wetgewing voldoen is, stel hulself eerstehands bloot aan dit wat die betrokke wetgewing wil verhoed.
Grondwetlike regte en optrede in terme van grondbesettings
Die bestaan van Suid-Afrika se beplannings- en omgewingswetgewing verleen aan ’n groter groep mense (landsburgers) regte, asook ’n belang by die vestiging van menslike nedersettings en die nadelige gevolge van grondbesettings wat buite die wetlike voorskrifte plaasvind.
Artikel 38 van die Grondwet maak verder ook die deure oop vir ’n groter groep mense om die hof te nader in gevalle waar die staat versuim om die beplannings- en omgewingswetgewing af te dwing. In die toekoms gaan daar toenemend groepe wees wat hulle tot die hof wend om gesamentlik aan te dring op hul grondwetlike regte en die nakoming van wetgewing wat moet verseker dat menslike nedersettings volhoubaar geskep word.
Dit beteken ook dat die staat, as toepasser van die wetgewing, indringend moet begin optree om hul nasionale behuisingsverpligtinge na te kom en terselfdertyd te verhoed dat grondbesettings ’n politieke speelbal word, wat nie een van die partye in grondbesettingsgeskille se belange dien nie. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf
Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.
