Tuesday, December 16, 2025

Graanhandelaars pleit vir groter deursigtigheid

Estimated reading time: 5 minutes

In ’n poging om groter markdeursigtigheid te bewerkstellig het die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Graan- en Oliesade-handelaars (Sacota) ’n beroep op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) en die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) gedoen om ’n handelaarsposisieverslag, oftewel ’n COT-verslag, van stapel te stuur.

Daar was al baie gesprekke rondom hierdie kwessie in die verlede, maar die formalisering van só ’n verslag bly die bedryf ontwyk, volgens dr André van der Vyver, uitvoerende direkteur van Sacota.

Minder onstuimig, meer deursigtig

Landboukommoditeitspryse staan bekend vir hul hoë wisselvalligheid en onvoorspelbare neigings – ’n verskynsel wat in die bedryf as ‘volatiliteit’ bekend staan. Die hoofrede hiervoor is blootstelling aan klimaatsomstandighede en die belangrikheid van voedselsekuriteit. ’n Goeie voorbeeld van hierdie volatiliteit was toe Suid-Afrika tydens verlede jaar se droogte voedselsekuriteit moes verseker deur voldoende voorrade mielies, sojabone, en sojaboonmeel van Argentinië, Brasilië, en die VSA in te voer. Pryse het die hoogte in geskiet.  

Omdat Suid-Afrika se kommoditeitspryse grootliks van globale pryse afgelei word, speel die rand/dollar-wisselkoers ook ’n belangrike rol in prysbewegings. Wat egter verder tot hierdie volatiliteit bydra, is spekulatiewe handel. Volgens dr Van der Vyver,  het handelaars geen probleem met hierdie volatiliteit nie, mits daar ’n logiese verklaring vir drastiese prysbewegings is.

“Wanneer jy graan verhandel sal daar amper altyd volatiliteit in pryse wees weens die klimaatsomstandighede en globale faktore wat bly wissel. Vir hierdie rede het jy dan ook ’n verskeidenheid spelers wat deelneem en tydig pryse vir graan wil vasmaak. Sommiges mag produsente wees wat bekommerd is dat die prys gaan val, ander is aankopers wat bekommerd is dat die prys mag styg. Daar is egter ook spekulante of beleggers wat ’n bepaalde siening huldig dat graanpryse gaan styg of val, en daarvolgens graan koop of verkoop met die doel om ’n wins te maak.”

Dit, beklemtoon hy, is alles in orde solank dit binne perke is.

Spekulasie ja, manipulasie nee

“Wat jy nie wil hê nie is dat beleggers die mark begin manipuleer. Dit gee noodwendig aanleiding tot buitengewone beweging in pryse sonder enige verklaarbare rede. Ons as handelaars het geen probleem as pryse baie beweeg solank daar ’n redelike verklaring daarvoor is. Byvoorbeeld, as daar ’n strawwe droogte is en pryse verdubbel, is dit verstaanbaar. As daar egter voldoende graan is en dieselfde beweging vind sonder ’n fundamentele rede plaas, kan dit moontlik aan markmanipulasie toegeskryf word.”

Dit is waarom die kommoditeitsbedryf nou al vir jare te vergeefs die JSE, en meer onlangs ook  die FSCA, versoek om ’n sogenaamde COT-verslag van stapel te stuur, soortgelyk aan wat deur heelwat oorsese lande en/of hul kommoditeitsbeurse gepubliseer word. COT staan vir ‘Commitment of Traders’, en dit verklaar die posisies wat deur die verskillende kategorieë van markdeelnemers ingeneem word.

“Die COT-verslag sê vir jou watter kategorie van markdeelnemers watter posisies in die mark hou,” verduidelik dr van der Vyver. “As die oorgrote meerderheid van beleggers, of spekulante, dink die prys van byvoorbeeld mielies moet styg, dan moet jy versigtig wees om ’n teenoorgestelde posisie in te neem. Die verslag rapporteer ook inligting oor ander kategorieë van posisies, soos produsente of verwerkers. Die meeste groot graanbeurse wêreldwyd publiseer soortgelyke inligting. Dit is veral ’n baie belangrike verslag wat in die VSA gepubliseer word.”

Onverklaarbare volatiliteit verniel die mark

Buitensporige en ongeregverdigde of onverklaarbare volatiliteit, verduidelik hy verder, is sleg vir ’n mark. Toegang tot betroubare inligting is een van die beste maniere om dit te beperk of te vermy. Die COT-verslag vorm deel van hierdie betroubare inligting. Ander tipes inligting, soos graanvoorrade en verspreiding, is ook noodsaaklik. Voorraadsyfers is egter nie al nie, geredelike en koste-doeltreffende toegang tot voorrade is ook belangrik.

As markdeelnemers weet wat ander kategorieë van deelnemers doen, tree hulle dikwels met groter omsigtigheid op in hul eie besluitneming. “As jy ’n produsent is en die verslag toon aan dat amper geen ander produsent sy graan op ’n spesifieke tydstip verkoop nie, moontlik weens ’n dreigende droogte, sal jy jouself tweemaal afvra of dit die regte besluit is om nou te verkoop.”

Lees gerus hierdie artikel om meer oor die wisselwerking tussen graanmarkte en die voerprys uit te vind.

Hoekom JSE voete sleep

Waarom sou die JSE nie so ’n verslag wil vrystel nie? Volgens dr Van der Vyver is die JSE se standpunt dat hulle reëls dit nie toelaat om die inligting van markdeelnemers in ’n gekombineerde formaat beskikbaar te stel nie. Hulle is verder van mening dat slegs ’n markdeelnemer sy eie inligting beskikbaar kan stel, of moet toestemming gee dat dit gedoen mag word. Net so beweer FSCA, wat onder meer vir die regulering van die JSE verantwoordelik is, dat die Wet op Finansiële Markte, 2012 (Wet 19 van 2012) nie FSCA-magtiging verleen om die JSE te verplig, of toestemming te gee, om so ’n verslag op te stel nie. Die wet word wel op die oomblik hersien, maar dit kan nog twee tot drie jaar neem.

Daar is egter ander roetes wat Sacota kan neem om wel by ’n COT-verslag uit te kom, sê dr Van der Vyver. “Daar is heelwat ander voorbeelde in die graanhandel waar kliënte en instansies onder wetgewing, oftewel statutêre maatreëls, verplig word om inligting op ’n vertroulike basis te verskaf.

’n Voorbeeld hiervan is die Wet op Bemarking van Landbouprodukte, 1996 (Wet 47 van 1996). Instansies word verplig om weekliks of maandeliks basiese inligting aan die Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens (Sagis) te verskaf, wat dit dan kombineer en aan die mark beskikbaar stel. As dit baie sensitief is, word die Mededingingskommissie se opinie eers verkry.

“Dan is daar ook nog die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (Wet 2 van 2000), oftewel Paia, en Sacota kan ook die Nasionale Tesourie – waaronder FSCA ressorteer – nader vir toegewings.”

Dr Van der Vyver sê Sacota bly van mening dat meer deursigtigheid in die verhandeling van grane op die JSE nodig is. “Ons sal dus voortgaan om huiswerk te doen met die doel om verder stappe te neem in ’n poging om dit te bewerkstellig. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Popular stories