Friday, October 18, 2024
HomeAgri NewsErnstige veesiektes bedreig grense

Ernstige veesiektes bedreig grense

Estimated reading time: 4 minutes

Ernstige veesiektes wat die veebedryf van Suid-Afrika skade kan berokken, het suidwaarts uit Afrika tot op die land se grense en tot in buurlande gevorder. Biosekuriteit, waarvoor produsente self verantwoordelikheid moet aanvaar, is die belangrikste oplossing vir hierdie probleem.

Dié waarskuwing kom van die bekende veearts, dok Faffa Malan, wat onlangs op ʼn Pinzgauer-boeredag by die Afridome in Parys gepraat het. Dr Angela Buys van Design Biologix het produsente ingelig oor die vordering wat gemaak word met die ontwikkeling en vervaardiging van vee-entstowwe in Suid-Afrika asook die skade wat besmetlike misgeboorte vir beesprodusente kan inhou.

Lees meer oor veekraalsiektes wat vermy moet word.

Ooskuskoors en Januarie-siekte

Dok Faffa het gesê hoewel Ooskuskoors en Januarie-siekte (ʼn matiger vorm van Ooskuskoors) sover bekend die laaste keer in die vroeë vyftigerjare in Suid-Afrika voorgekom het, is dié siekte wat deur die Theileria parva parasiet veroorsaak en deur die bruinoorbosluis oorgedra word in Zimbabwe teenwoordig.

Die Theileria parva parasiet het nou in Zimbabwiese beeste aangepas en verspreiding kan nou vanaf draer beeste na ander beeste deur die bruinoorbosluise oorgedra word. Hierdie siekte kom veral in die somer voor en word dus Januarie-siekte genoem.

Volgens die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het daar onlangs ʼn uitbreking van Januarie-siekte in Zimbabwe voorgekom en derhalwe is daar ’n waarskuwing uitgereik teen die moontlike gevaar wat dit vir die Suid-Afrikaanse beesbedryf inhou.

Die kennisgewing lui voorts dat die siekte groot getalle vrektes kan veroorsaak, veral in gebiede waar beeste nie voorheen aan die siekte blootgestel is nie.

Dok Faffa sê beeste mag nie in Suid-Afrika teen die siekte behandel word nie aangesien die middels wat beskikbaar is nie daarvoor geregistreer is nie. Om die siekte te voorkom is goeie bosluisbeheer, om die bruinoorbosluisgetalle laag te hou, noodsaaklik. Onwettige oorgrensbeweging moet streng beheer en ten alle koste verhoed word. Die instandhouding van heinings, wat beeste en buffels skei, is ook noodsaaklik.

Indien daar tog ʼn uitbreking van die siekte voorkom, moet die staatsveearts dadelik in kennis gestel word en alles moontlik gedoen word om die siekte so gou as moontlik in daardie omgewing uit te roei. Sodoende word daar voorkom dat die siekte weer permanent gevestig word.

Kleinveepes

Kleinveepes, wat algemeen bekend staan as Peste des Petit Ruminants, is een van die mees gevreesde en ernstigste kleinveesiektes wat met runderpes-uitbrekings in die verlede vergelyk kan word. Dit is ʼn hoogs aansteeklike virussiekte wat skape, bokke en verskeie wilde herkouers kan aantas.

Dié siekte, wat al in sowat 70 lande voorkom, het sowat ʼn dekade gelede in Tanzanië uitgebreek. Tydens ʼn uitbreking word sowat 90% van die diere aangetas en tot soveel as 70% van die aangetaste diere kan vrek.

Ondanks streng beheermaatreëls wat deur die Voedsel en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies in plek gestel is om die verspreiding na buurlande te verhoed, is die siekte al in Angola en Zambië gediagnoseer.

Omdat die siekte nog nie voorheen in Suid-Afrika voorgekom het nie, is kleinvee hoogs vatbaar en kan die skade wat so ʼn uitbreking veroorsaak, ernstig wees. Dit kan aansienlike skade vir die skaap-, bok-, wol- en bokhaarbedryf meebring.

Die siekte kan deur kleinveeprodukte, mense, motors en op talle ander maniere die land binnekom.

“Daarom is dit noodsaaklik dat produsente in samewerking met hul veeartse ʼn doeltreffende biosekuriteitsplan bedink en in werking stel wat ook bestaande ernstige veesiektes soos onder andere Slenkdalkoors en bek-en-klouseer in ag neem,” sê Dok Faffa.

Entstofontwikkeling en risiko’s

Dr Buys het gesê Design Biologix ontwikkel en vervaardig sedert 1994 entstowwe in Suid-Afrika en in die 2022/23 boekjaar het die maatskappy 45 000 dosisse entstof verkoop. Van die entstof is ook in die afgelope vyf jaar na die Europese Unie uitgevoer.

Sy het produsente gewaarsku dat brusellose (besmetlike misgeboorte) nie ʼn eenvoudige siekte is nie en die produktiwiteit van ʼn produsent se beeskudde kan vernietig. Geen behandeling kan brusellose genees nie en besmette diere moet geslag word. As een dier in die kudde die siekte opdoen, is die hele kudde potensieel besmet.

Produsente is wetlik verplig om verse teen die siekte te ent en Design Biologix sowel as Onderstepoort beskik oor entstowwe wat vir die doel beskikbaar is. Dit sal die produsent se kudde teen verspreiding van die siekte beskerm en die aantal aborsies verminder.

Wanneer ʼn besmette dier kalf of aborteer, word miljoene bakterieë in die omgewing vrygestel wat ander diere maklik besmet. Die siekte kan verder versprei wanneer roofvoëls en -diere van die besmette materiaal van die misgeboortes wegdra. Die bakterieë kan ook met afloopwater na buurplase versprei.

Dok Faffa en dr Buys het gewaarsku dat feitlik al hierdie siektes maklik oordraagbaar is. Produsente wat veilings besoek of skoue bywoon, diere wat van ʼn veiling of skou af terugkom, nuwe diere wat gekoop is, werkers en besoekers kan siektes na die plaas toe oordra en vir die produsent oneindig baie skade veroorsaak. – Andries Gouws, Plaas Media

Vir navrae, kontak dok Faffa Malan op 082 908 8666 of by dokfaffa@gmail.com of dr Angela Buys op 012 349 2772 of by angela@designbio.co.za.

RSG Landbou: 17 Oktober 2024 – geborg deur Pioneer Saad

Die optimale gebruik van die regte veehanteringstoerusting kan vir die veeprodusent tot groot voordeel wees. Charlotte Esterhuizen van Algar...

SAPPO Retail Price Statistics: September 2024

The monthly SAPPO Retail Price Statistics Report provides detailed statistics and trends on the retail prices of various meat products, including pork,...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met...

World Food Day 2024: Focus on the Sandveld

Estimated reading time: 4 minutes Despite being an agricultural powerhouse, over 20% of South Africa’s population is food insecure. This...

RSG Landbou: 16 Oktober 2024 – geborg deur Pioneer Saad

Grondvoorbereiding vir gewasproduksie kom onder bespreking in moreoggend se RSG Landbou. Mauritz van Heerden van Pioneer Saad gesels onder...

RSG Landbou: 15 Oktober – geborg deur Pioneer Saad

Die Suiwelstandaardagentskap poog voortdurend om te verseker dat suiwelprodukte in Suid-Afrika veilig vir menslike gebruik is. Met die uitbreiding...

Keep exploring...

Landboumarkoorsig van Desember 2023: Die rand versterk

Estimated reading time: 2 minutes Die rand het tydens Desember ‘n redelike stabiele maand ervaar en teen die einde van die maand versterk. Die maand...

Landboumarkte: Rand, mielies en wol verswak in Januarie

Estimated reading time: 2 minutes Hier volg die oorsig van die landboumarkte in Januarie 2024.Die rand het die jaar goed begin en het gedurende...