Tuesday, January 13, 2026
HomeAgri News’n Groot tree vorentoe vir veediefstalaanmelding

’n Groot tree vorentoe vir veediefstalaanmelding

Estimated reading time: 5 minutes

Veediefstal bly een van die grootste uitdagings wat veeprodusente daagliks moet trotseer. Nie net ly produsente groot verliese nie, maar daar is ook ’n emosionele prys wat betaal word wanneer vee beseer word en jare se werk tot niet is.

Veediefstal word egter dikwels nie aangemeld nie of korrekte prosedures word nie gevolg nie. Dikwels is produsente nie tevrede met die diens wat hulle van hul plaaslike polisiekantore ontvang nie; dit word gereeld aangevoer as die rede waarom veediefstal nie aangemeld word nie. Daarom moet geskatte syfers gebruik word om te bepaal wat die ekonomiese impak van veediefstal op die Suid-Afrikaanse veebedryf is.

Dr Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Nasionaal, sê die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum besef dat hierdie probleem dringend opgelos moet word. Na deeglike ondersoek is ’n doeltreffende nasionale aanmeldstelsel, wat afsonderlik van die SA Polisiediens (SAPD) bedryf word, opgestel. Hierdie projek sal deur die RPO Nasionaal bestuur word.

Samewerking met die SAPD

“Die doel is om inligting oor veediefstal- en verwante voorvalle in te samel, en dit dan op ’n kaart aan te dui. So kan patrone van veediefstal en sindikaatoperasies geïdentifiseer word, en kan die inligting met die SAPD gedeel word vir meer gekoördineerde en doeltreffende optrede. ’n Uiters doeltreffende nasionale aanmeldstelsel is opgestel. Die Earth Ranger-platform word gebruik om die inligting te verwerk en deelnemende landbouers se inligting word streng vertroulik ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, 2013 (Wet 4 van 2013) (Popia) hanteer.”

Earth Ranger is ontwikkel deur die Allen-instituut vir Kunsmatige Intelligensie, en is ’n sagteware-oplossing wat beskikbare historiese afstandwaarnemingsdata versamel, integreer en vertoon, en dit dan met verslae uit die veld kombineer. Hoewel dit hoofsaaklik vir bewaring gebruik word, gebruik ’n aantal nieregeringsorganisasies dit vir landelike veiligheid, omdat daar dikwels ‘n verband tussen stropery en veediefstal is.

Bou op bestaande suksesse

Louis Wessels, voorsitter van die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum, sê na raming word slegs sowat 30% van veediefstalsake aangemeld. Hy is positief oor die nuwe stelsel en doen ’n beroep op alle provinsies en produsente om meer betrokke te raak. Veeprodusente in die Oos-Kaap, Wes-Kaap en Vrystaat het reeds begin om veediefstal en ander probleme deur onderskeidelik Agri Oos-Kaap, Agri Wes-Kaap en Vrystaat Landbou op die Earth Ranger-platform aan te meld. Verslae uit die Oos-Kaap dui op die sukses van die stelsel, waar die polisie uitstekende resultate op grond van hierdie inligting behaal het.

’n Voorkomingsaksie wat die polisie vanaf 12 tot 14 Februarie vanjaar in die Oos-Kaap geloods het om gesteelde vee terug te kry, wette rakende brandmerke op vee te versterk en onwettige vuurwapens terug te kry, het goeie resultate opgelewer. Altesaam 208 beeste ter waarde van R2,8 miljoen, 15 skape ter waarde van R22 500 en 25 bokke ter waarde van R25 000 is teruggekry. Beslag is gelê op twee ongelisensieerde pistole, 46 9mm-patrone, en 78 850ℓ drank. Veertien vee-eienaars is met R4 250 beboet omdat hul vee nie gebrandmerk is nie.

Wessels sê die onmiddellike mikpunt is om hierdie aanmeldstelsel in al die provinsies in werking te stel. Die verwagting is dat voorvalle van veediefstal aansienlik sal verminder indien almal saamwerk. Die stelsel word gebruik om brandpunte te identifiseer, wat voorkoming aansienlik makliker maak.

Raak betrokke

Hy doen ’n beroep op elke produsent in Suid-Afrika om veediefstal of enige ander misdaad op sy plaas met hierdie stelsel aan te meld. Die aanmeldproses is relatief eenvoudig en behels ‘n aantal besonderhede wat by 071 515 2011 op WhatsApp verskaf moet word. (Produsente wat reeds hul provinsiale strukture gebruik om veediefstal aan te meld, kan daarmee voortgaan. Al die Earth Ranger-veediefstaldata sal aan die einde van elke maand bymekaargevoeg word.)

Die volgende inligting sal van ’n produsent verwag word:

  • Naam en kontaknommer van die produsent.
  • Provinsie waar die diefstal of insident plaasgevind het.
  • Distrik waar dit plaasgevind het.
  • Polisiekantoor naaste aan die insident.
  • Die tipe insident wat plaasgevind het. Dit sluit in veediefstal, onwettige jag met honde, onwettige jag met die stel van strikke, verdwaalde/rondloperdiere, stropery, onwettige betreding van eiendom, poging tot veediefstal, oortredings van die Omheiningswet, 1963 (Wet 31 van 1963), arrestasies vir veediefstal, asook wol- en sybokhaardiefstal.
  • Presies waar die voorval plaasgevind het.
  • Hoe die voorval plaasgevind het. Dit sluit inligting soos voertuigbetrokkenheid, bewyse op die toneel, skoenspore en die tyd van die voorval in.
  • Inligting soos foto’s wat as bewyse kan dien en die saaknommer wat deur die polisie voorsien is.

Dit is baie belangrik dat produsente verstaan dat hierdie stelsel bykomend tot die SAPD se amptelike veediefstalrapporteringstelsel is en dat dit geensins die SAPD-stelsel vervang nie. Die stelsel is nie verpligtend nie en is ’n poging om die formele SAPD-stelsel tot almal se voordeel aan te vul en te versterk. Produsente word ten sterkste aangeraai om alle veediefstal by die SAPD aan te meld, sodat ’n saaknommer verkry kan word.

Vir meer inligting, kontak dr Frikkie Maré by 084 446 6787 of epos frikkie@rpo.co.za of skakel Louis Wessels by 082 410 9256 of epos louiswessels16@gmail.com.

Must Read

A breed that you like will work with you

Estimated reading time: 6 minutes Pat Bailey and his son, Wade, run a Beefmaster stud and commercial herd at Lily Park farm The farm consists of...

BEK: Wat is nuut?