Estimated reading time: 4 minutes
- Vir enigeen wat met lewendehawe boer is dit, bo en behalwe ’n besigheid, ook ’n hartsaak.
- As dit gaan oor plaasbewoners wat die reg geniet om lewendehawe aan te hou op die grond waarop hulle woon, is dit belangrik om te weet dat so ’n reg tans slegs kan bestaan indien ’n ooreenkoms (mondeling of skriftelik) tussen die grondeienaar en plaasbewoner bestaan waarin die aard, omvang en beperkings van die reg ooreengekom is.
- Sodra so ’n ooreenkoms bestaan, is dit belangrik dat, buiten die terme van ’n ooreenkoms oor die uitoefening van die reg om lewendehawe aan te hou, die eienaar van die vee nie van enige wetgewing vrygestel is wat op grondgebruik en eienaarskap van lewendehawe van toepassing is nie.
- Wetgewing is daarop gerig om in die openbare belang in te gryp by die aanhou van lewendehawe en om ’n stelsel te onderhou wat die beskerming en bewaring van hulpbronne, die beskerming van lewendehawe as roerende bates, en die inherente beskerming van diere wat geheel en al van mense afhanklik is vir oorlewing, ten doel het.
Vir enigeen wat met lewendehawe boer is dit, bo en behalwe ’n besigheid, ook ’n hartsaak. Ongelukkig moet hierdie sentimente ook tred hou met die wyse waarop die reg ontwikkel het en hoe die wetgewer, met verloop van tyd, met wetgewing ingegryp het om, buiten die reg of voorreg om lewendehawe aan te hou, sekere verantwoordelikhede op eienaars van lewendehawe plaas.
As dit gaan oor plaasbewoners wat die reg geniet om lewendehawe aan te hou op die grond waarop hulle woon, is dit belangrik om te weet dat so ’n reg tans slegs kan bestaan indien ’n ooreenkoms (mondeling of skriftelik) tussen die grondeienaar en plaasbewoner bestaan waarin die aard, omvang en beperkings van die reg ooreengekom is.
Leer meer oor ‘n beplanningskalender vir herkouerprodusente hier.
Ander wetgewing geld
Sodra so ’n ooreenkoms bestaan, is dit belangrik dat, buiten die terme van ’n ooreenkoms oor die uitoefening van die reg om lewendehawe aan te hou, die eienaar van die vee nie van enige wetgewing vrygestel is wat op grondgebruik en eienaarskap van lewendehawe van toepassing is nie.
Die reg om lewendehawe aan te hou, sal die eienaar van die lewendehawe onder andere verplig om:
- Diere, soos voorskryf deur die minister van landbou kragtens die Wet op Identifikasie van Diere, 2002 (Wet 6 van 2002), behoorlik en volgens spesifieke voorskrifte van die betrokke wet, met ’n geregistreerde en herkenbare merk te merk.
- Diere ooreenkomstig die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984) voorkomend, aktief en reaktief teen dieresiektes te behandel. Daar kan selfs, vir doeleindes van die gevaar wat dieresiektes inhou, geargumenteer word dat gesonde boerderypraktyke in sekere omgewings in Suid-Afrika nagekom behoort te word om aanspreeklikheid vir skade te voorkom.
- Om gesonde weidingspraktyke toe te pas en te verhoed dat natuurlike en eetbare plantegroei vernietig word. Ingevolge die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne, 1983 (Wet 43 van 1983) is dit ontoelaatbaar om weidingskampe te laat oorbewei en kan die owerheid ingryp om sulke dele van plase of selfs ’n hele plaas, onder kwarantyn te plaas totdat die veld na behore gerehabiliteer is. Dit kan enigiets van twee tot tien jaar neem.
- Die Dierebeskermingswet, 1962 (Wet 71 van 1962)na te kom. Die wet omskryf ’n omvangryke lys van optredes of versuime ten opsigte van diere wat as ’n misdaad beskou word. Met verwysing na oorbeweiding hierbo, sal dit onder andere ’n misdryf wees om ’n dier onnodig uit te honger of te ondervoed. Die wet laat ook drastiese ingrypingsmaatreëls toe om diere te beskerm.
- Die bepalings van die Wet op Veediefstal, 1959 (Wet 57 van 1959) na te kom ten opsigte van eienaarskap, besit en verskuiwing van lewendehawe. Buiten die diefstal van vee, omskryf die wet verskeie statutêre misdrywe wat aan ’n gebrek aan behoorlike rekordhouding rondom die verkryging, verhandeling, vervoer en besit van vee gekoppel is. Vee-eienaars moet in besit wees van die voorgeskrewe dokumentasie om vervolging vry te spring.
Die wetgewing soos genoem, is daarop gerig om in die openbare belang in te gryp by die aanhou van lewendehawe en om ’n stelsel te onderhou wat die beskerming en bewaring van hulpbronne, die beskerming van lewendehawe as roerende bates, en die inherente beskerming van diere wat geheel en al van mense afhanklik is vir oorlewing, ten doel het.
Lees meer oor veediefstal hier.
Goeie verhoudings
Hierdie wetgewing plaas groot verantwoordelikhede op die eienaars van lewendehawe en die nakoming daarvan is heel dikwels die sleutel tot goeie verhoudings tussen grondeienaars en mense wat vee op hul plase aanhou. Net so is dit die nie-nakoming van die tersaaklike wetgewing wat heel dikwels konflik op plase veroorsaak wanneer dit by die aanhou van lewendehawe kom.
Baie van die konflik rondom die aanhou van vee kan voorkom word indien die reg om vee aan te hou, gepaardgaan met die aktiewe en deurlopende bewusmaking oor en die nakoming van die tersaaklike wetgewing. Daarvoor het die staatsdepartemente wat gemoeid is met die administrasie en afdwing van die wetgewing, ’n baie groot taak in Suid-Afrika se landelike gebiede. – Hans-Jurie Moolman, Moolman en Pienaar Ingelyf
Vir meer inligting, kontak die outeur by hj@mmlaw.co.za of skakel 033 032 0241.