Veediefstal: Omgewingskriminologie en misdaadanalise

Share This Post

Estimated reading time: 5 minutes

  • Veediefstal is ‘n misdaad wat ouer as die berge is.
  • Boba omskryf misdaadontleding as “die sistematiese studie van misdaad- en wanordeprobleme, asook ander polisieverwante kwessies – insluitend sosiodemografiese, ruimtelike en tydelike faktore – om die polisie te help met die aanhouding van misdadigers, misdaad- en wanordevermindering, misdaadvoorkoming en evaluasie.”
  • Die definisie bevat al die kenmerke van die teorieë wat met omgewingskriminologie verband hou. Die teorie en konseptuele raamwerk wat gebruik word vir misdaadanalise, staan bekend as omgewingskriminologie.
  • Omgewingskriminologieteorieë moedig ons aan om te fokus op geografiese patrone van misdaad deur situasies te ondersoek waarin oortreders en slagoffers saamkom in ruimte, plek en tyd.
  • Die roetine-aktiwiteitsteorie vereis die analise van die misdaad in die samestellende elemente van ’n bereidwillige oortreder, geskikte voorwerp en die afwesigheid van ’n beskermer (slagoffer) binne die omgewing wat nodig is vir die misdaad om gepleeg te word.

Veediefstal is ‘n misdaad wat ouer as die berge is. Die eerste verwysing daarna was in die Hilly Flanks-streek, ‘n gemeenskap wat verantwoordelik was vir die makmaak van diere. Die Kode van Hammurabi, ’n gedragskode wat in 1750 vC geskryf is, verwys spesifiek na vonnisse vir veediefstal.

Veeplaas gee in hierdie en volgende uitgawes aandag aan hoe hierdie misdaad gepleeg word. In hierdie uitgawe kry omgewingskriminologie aandag.

Teorie, misdaad en plek

Boba omskryf misdaadontleding as “die sistematiese studie van misdaad- en wanordeprobleme, asook ander polisieverwante kwessies – insluitend sosiodemografiese, ruimtelike en tydelike faktore – om die polisie te help met die aanhouding van misdadigers, misdaad- en wanordevermindering, misdaadvoorkoming en evaluasie.”

Die definisie bevat al die kenmerke van die teorieë wat met omgewingskriminologie verband hou. Die teorie en konseptuele raamwerk wat gebruik word vir misdaadanalise, staan bekend as omgewingskriminologie. Dit ondersoek die interaksies tussen mense en hul omgewing, en hoe hierdie faktore hulle aanmoedig om ’n misdaad te pleeg.

Omgewingskriminologieteorieë moedig ons aan om te fokus op geografiese patrone van misdaad deur situasies te ondersoek waarin oortreders en slagoffers saamkom in ruimte, plek en tyd. Die teorieë van misdaad en plek word verdeel in teorieë wat die ontwikkeling van die oortreders probeer verduidelik en dié wat die ontwikkeling van kriminele gebeurtenisse probeer verduidelik. Ons fokus op laasgenoemde en probeer om die ontwikkeling van ’n spesifieke kriminele gebeurtenis – veediefstal – binne ’n teoretiese en konseptuele raamwerk te verduidelik.

Omgewingskriminologie bestaan uit ’n familie van teorieë, wat weer bestaan uit die teoretiese konsepte van roetine-aktiwiteit, misdaadpatroon, rasionale keuse en buffersone. Hierdie is benaderings eerder as teorieë, aangesien geen daarvan ’n volledige teorie op eie houtjie is nie. Elk van die benaderings analiseer misdade vanuit ’n ander hoek, maar kom uiteindelik almal op dieselfde plek uit.

Lees meer oor veediefstal-krisis in die Noordwes hier.

Roetine-aktiwiteitsteorie

Die roetine-aktiwiteitsteorie vereis die analise van die misdaad in die samestellende elemente van ’n bereidwillige oortreder, geskikte voorwerp en die afwesigheid van ’n beskermer (slagoffer) binne die omgewing wat nodig is vir die misdaad om gepleeg te word. Oorvleueling tussen die aktiwiteite van die oortreder en die slagoffer, skep ’n spasie waar die oortreder gemaklik voel om ’n misdaad te pleeg, mits ’n geskikte voorwerp teenwoordig is (Figuur 1).

Figuur 1: Roetine-aktiwiteitsteorie

Roetine-aktiwiteit ondersteun die idee dat misdaad enige plek binne die oortreder se aktiwiteitsruimte gepleeg kan word, maar natuurlik is kriminele aktiwiteit ruimtelik afhanklik van die nabyheid aan die oortreder se aktiwiteitspunte. In kort: Die mens pleeg misdaad binne ’n bekende ruimte wat bepaal word deur die persoon se bewegingmetodes, byvoorbeeld te voet, per fiets, motor, bakkie, vragmotor en dies meer.

Aktiwiteitspunte

Die aktiwiteitspunte kan wissel afhangende van plek of ligging, tyd van die dag, nabyheid aan woonplek, werksplek, ontspanning en so meer, en die tipe misdaad (veediefstal) wat deur die oortreder gepleeg gaan word.

Aktiwiteitspunte definieer verder die oortreder se bewustheid van ruimte vir kriminele geleenthede. Bewustheidsruimte verwys na die prosesse wat ’n oortreder volg vir ligging- en teikenseleksie, en dit mag ’n patroonstruktuur openbaar. Hierdie patroonstrukture openbaar die bedrywighede van ’n oortreder binne sy of haar bewustheidsruimte, ’n konsep wat bekend staan as misdaadpatroonteorie.

Misdaadpatroonteorie ondersoek die interaksies van oortreders met hulle sosiale en fisiese omgewings. Dus beïnvloed die wyse waarop teikens die aandag van oortreders trek, die verspreiding van kriminele gebeure oor tyd en ruimte.

Kyk die Plaas TV-insetsel oor veediefstal hier.

Rasionale keuseteorie

Die ligging van ’n misdaad word gedek deur roetine-aktiwiteitsteorie en misdaadpatroonteorie. Rasionale-keuseteorie word ook ingesluit in misdaadanalise wat verband hou met omgewingskriminologie. Die aanname in rasionale-keuseteorie is dat kriminele gedrag die uitkoms is van besluite wat deur rasionele oorwegings beïnvloed word. Dit neem die begeertes, voorkeure en motiewe van oortreders en potensiële oortreders in ag. Rasionale-keuseteorie word binne baie ander wetenskappe gevind.

Rasionale-keuseteorie beskryf ook ’n ander omgewingskriminologiekonsep, naamlik die oortreder se buffersone, wat verwys na die area wat die oortreder se spesifieke aktiwiteitspunt omring, veral sy of haar verblyf, waar min tot geen kriminele aktiwiteit waargeneem sal word nie. Die konsep is bloot dat die misdadiger ’n buffer tussen hom of haar en die teiken sal plaas.

’n Goeie voorbeeld is dat die oortreder die dorp tussen sy blyplek en die misdaadtoneel sal plaas. ’n Buffersone is meer waarskynlik in die geval van ’n predatoriese misdaad, waar een persoon of groep op ’n ander jag maak vir persoonlike gewin, waarvan veediefstal een is.

Volgende keer fokus ons spesifiek op die objek ‘vee’ (Figuur 1) en ons vra: Hoekom is dit so ’n gesogte item om te steel? – Willie Clack, senior lektor, Skool vir Strafregspleging, Unisa

Vir meer inligting en bronverwysings, kontak die outeur by wclack@unisa.ac.za of 012 433 9433.

Related Posts

Weeklikse plaashek-rooivleispryse / Weekly farm gate red meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Die jongste vleispryse word...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 5 minutes LET WEL: Johan van...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 19 of 2024

The weekly pork carcass price is brought to you...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...