Estimated reading time: 6 minutes
Ecovite Drimol is ’n veevoer-bymiddel en word van ’n byproduk van die alkoholbedryf, bekend as gekondenseerde melasse-oplosbares of condensed molasses solubles (CMS) vervaardig. In hierdie geval word alkohol uit melassestroop, ’n byproduk in die vervaar-diging van rietsuiker, vervaardig. Die melassestroop word met water verdun, gis word bygevoeg en die suiker in die melassestroop word tot alkohol gefermenteer.
Die alkohol word hieruit gedistilleer en die byproduk is ’n dun stroop bestaande uit die reste van die melasse, water en gis. Hierdie stroop word dan gekondenseer (water word afgedamp) om CMS te vorm, wat sowat 30 tot 50% vastestowwe bevat.
Verwerking en volhoubaarheid
CMS word wyd in die veevoerbedryf in stroopvorm aangewend, hoofsaaklik as ’n gedeeltelike plaasvervanger vir melasse. Daar is egter vir baie jare al droë vorms van CMS in die veevoerbedryf beskikbaar. Hierdie produkte word geproduseer deur CMS op ’n spesifieke kalkdraer te sproeidroog om ’n fyn melasse-neweproduk gebaseerde poeier te verkry.
Die spesifieke wyse waarop dit gesproeidroog word, asook die spesifieke draer wat gebruik word, lei tot ’n produk met unieke chemiese en fisiese eienskappe. Die ou bekende Rumevite-reeks van konsentrate was onder andere op hierdie produk gebaseer.
’n Maatskappy in Eswatini, genaamd Royal Eswatini Sugar, produseer vir jare al groot hoeveelhede CMS in hul alkohol-aanleg. Hierdie CMS word hoofsaaklik in die vloeibare kunsmismark gebruik. Ondersoek is ingestel na die moontlikheid om te diversifiseer en CMS weer vir die veevoerbedryf te sproeidroog. Die gevolg van hierdie ondersoek en die daaropvolgende ontwikkelings is ’n aanleg in Eswatini vir die sproeidroog van CMS en verwante produkte vir die veevoerbedryf.
Die aanleg is uniek in die sin dat dit houtafval (wood chips) van die saagmeule as energiebron gebruik om die CMS te sproeidroog. Afvalhout is ’n skoner en meer omgewingsvriendelike energiebron as steenkool, wat meer algemeen gebruik word. Ecovite Drimol is dus ’n omgewingsvriendelike, volhoubare produk.
Toepassing in veevoeding
Ecovite Drimol is ’n voedingstofryke produk wat ’n matige vlak van energie bevat en ook proteïen, minerale, spoor-minerale en B-vitamiene aan diere voorsien. Dit neem dus geen dooie spasie in voere op nie, maar dra by tot die totale voedingstofinhoud van die voer. Ecovite Drimol is ’n natuurlike produk wat geen nieproteïenstikstof (NPN), groeistimulante of medikasie bevat nie. Ecovite Drimol is dus geskik en veilig vir benutting deur alle plaasdiere, insluitend perde en wild.
Vanweë sy unieke chemiese en fisiese eienskappe, het Ecovite Drimol veelvuldige toepassings in die veevoerbedryf. Dit het ’n unieke melassesmaak en -reuk, en is geskik om enige ander vorm van melasse-produkte in veevoere en lekaanvullings te vervang. Die voordeel van die produk teenoor melassestroop en melassemeel is dat dit ’n droë, vryvloeiende poeier is wat dus maklik bygevoeg word en eweredig deur enige mengsel gemeng kan word.
Ecovite Drimol is dus die ideale produk om die smaaklikheid en aanneemlikheid van veevoere te verbeter. Dit stel veevoervervaardigers in staat om minder smaaklike grondstowwe teen hoër peile in voere in te sluit, sonder dat die vrywillige inname van die voere negatief geraak word. Insluitingspeile van so laag as 2,5% gee reeds aan voere ’n kenmerkende melasse-geur en -smaak.
Ecovite Drimol is vanweë sy chemiese en fisiese eienskappe ’n uitstekende bindmiddel vir voerpille. Sekere veevoergrondstowwe soos sommige ruvoere en graanbyprodukte kan voerpille bros maak. Verskeie bindmiddels in die mark help om die pille doeltreffend te laat bind. Ecovite Drimol is nie net effektief as ’n voerpilbinder nie, maar gee ’n melassesmaak en -geur aan hierdie pille. In teenstelling met ander pilbinders wat normaalweg geen of min voedingswaarde bevat, dra Ecovite Drimol by tot die totale voedingswaarde van die voer.
’n Beskermende laag
’n Unieke eienskap van Ecovite Drimol is die produk se vermoë om ’n waterweerstandbiedende lagie te vorm op mengsels wat voldoende vlakke daarvan bevat. Hierdie eienskap is veral voordelig in die geval van lekaanvullings, aangesien dit die lekaanvulling teen reën en windverliese beskerm. Die vermoë om te verhoed dat water die aanvulling binnedring, is veral in die reënseisoen voordelig.
Die algemeenste aanvulling vir die reënseisoen is sogenaamde mineraal- of fosfaataanvullings, maar al hoe meer ekstra energie, proteïen en NPN word op groen veld aangevul vir optimale produksie en reproduksie. In hierdie gevalle is Ecovite Drimol ideaal om veral energiebronne en NPN teen die nadele van reën te beskerm.
’n Groot voordeel hiervan is dat die moontlikheid van ureumvergiftiging aansienlik verlaag word, aangesien Ecovite Drimol help om te voorkom dat die ureum in reënwater oplos wat dan deur diere gedrink word.
In die droë seisoen is die aanvulling van proteïen en NPN met voldoende energie algemeen. Hier speel Ecovite Drimol ’n belangrike rol om lekaanvullings teen windverliese en moontlike reënskade te beskerm. Die tipe energie in Ecovite Drimol is ideaal in aanvullings wat NPN bevat, want dit voorsien vinnig-beskikbare energie aan die rumenbakterieë vir die mees doeltreffende benutting van NPN in mikrobiese proteïensintese.
Suksesvolle binder en verharder
Ecovite Drimol word taai en verhard wanneer dit met lae vlakke van vog in aanraking kom. Dit kan dus met groot sukses aangewend word as ‘n binder en verharder wanneer lekaanvullings in blokvorm gemaak word. Dit los in water op om ’n melassetipe vloeistof te produseer. Hierdie tipe mengsel is ideaal om veral lae-gehalte ruvoer te behandel.
Nie net kan bale ruvoer behandel word nie, maar dit kan selfs op swak gehalte veld gespuit word om aanvaarbaarheid en benutting daarvan drasties te verbeter. Die vloeistof kan met NPN en selfs swael verryk word om die benutting van lae-gehalte ruvoer verder te bevorder.
Ecovite Drimol kan aangewend word wanneer kuilvoer laat gesny word om die inkuilingsproses te verbeter. Dit voorsien suikers wat die inkuilingsproses versnel. Dit word in water opgelos en bo-oor die lae kuilvoer gespuit soos wat dit in die kuilvoerbunker ingery en gekompakteer word.
Veeldoelig soos min
Ecovite Drimol is een van die veeldoeligste en mees unieke veevoerbymiddels wat op die mark beskikbaar is, met ’n groot verskeidenheid aanwendings. Omdat dit so ’n wye reeks toepassings het, en elke aanwendingsmetode sal afhang van die tipe voer of aanvulling wat gevoer word, die grondstowwe wat daarin gebruik word, die vorm waarin dit gevoer word, asook die diere en die omgewing, is dit baie belangrik dat elke produsent of veevoervervaardiger pasmaak-aanbevelings kry om die produk te gebruik.
Die produk word in Suid-Afrika versprei deur die Feedtek groep, wat volledig opgelei is in die aanwending daarvan.
Ecovite Drimol reg no V34430, Wet 36/1947. Om jou naaste Feedtek-veekundige te kontak, besoek www.feedtek.co.za of kontak Feedtek by info@feedtek.co.za of 086 111 5362.



