Estimated reading time: 7 minutes
- Lae vlakke van fosfaat in grond lei daartoe dat weidende skape en beeste lae vlakke van fosfor (P) vanaf die weidings inneem.
- Die mineraalprofiel van grond, klei-inhoud, grond-pH en klimaat (temperatuur en voginhoud) beïnvloed ook die grond se vermoë om fosfor te behou.
- Navorsing wat op Armoedsvlakte in die Vryburg-omgewing gedoen is. Koeie wat regdeur die jaar P-aanvullings ontvang het, was 33kg swaarder as koeie wat net deur een seisoen P-aanvullings ontvang het.
- Fosfor word deur herkouers gebruik om sterk bene en tande te ontwikkel, en is ook nuttig in die metabolisme van vet, proteïen en koolhidrate, stimuleer goeie melkproduksie en ondersteun ook goeie voeromset.
- Wanneer ‘n produsent besluit om ‘n fosfaatproduk aan te koop, moet ‘n onderskeid getref word tussen die verskillende bronne van fosfaat.
Wanneer weidings groen is en aktief groei, beteken dit dat die vlakke van aanvullings ook daal. Die rede hiervoor is dat die weidings van ‘n hoër gehalte is, en dus beter aan die weidende herkouer se voedingsbehoeftes kan voldoen.
Lae vlakke van fosfaat in grond lei daartoe dat weidende skape en beeste lae vlakke van fosfor (P) vanaf die weidings inneem (Dixon et al., 2020). Die effek van ‘n fosfaattekort in herkouers is noemenswaardig: die inname van weidings verminder vanweë ‘n verlaagde eetlus, en die voedingswaarde wat die herkouer vanaf die veld inkry, neem ook af.
Die mineraalprofiel van grond, klei-inhoud, grond-pH en klimaat (temperatuur en voginhoud) beïnvloed ook die grond se vermoë om fosfor te behou (Batjes, 2011). Figuur 1 toon die grondfosforstatus van verskillende gebiede in Suid-Afrika aan. Grondfosfaatarmoede word in Australië geklassifiseer wanneer grondfosfaatvlakke minder as 5mg/kg is; dus sal ‘n reaksie waargeneem word in alle groepe diere indien fosfaataanvulling voorkom in die gebiede wat oor hierdie grondtipe beskik.
Leer meer oor die rol van ureum in veevoeding hier.
Figuur 1: Die grondfosforstatus van verskillende gebiede in Suid-Afrika.
Figuur 1 fosfaataanvulling en lekpryse
Verstommende resultate uit navorsing
Navorsing met betrekking tot fosfaataanvulling is oor ‘n drie-jaar tydperk in Kidman Springs (met ‘n grondfosfaatvlak van 2,5 tot 3,1mg/kg), Australië, op verse voltooi. Koeie en verse in die P+ groep het elk ‘n gemiddeld van 7g fosfaat (verskillende vlakke gedurende nat en droë seisoene) per dag deur die loop van die jaar ontvang. Die kontrolegroep (P-) het dieselfde lek wat ureum, sout, ammoniumsulfaat en voerkalk bevat het ontvang, maar wel sonder die fosfaat wat as MCP in die P+ lek voorsien is.
Gedurende die eerste jaar het eerstekalfkoeie van die P+ groep kalwers gespeen wat 34kg per kalf swaarder was as die kontrolegroep (P-), in die tweede jaar 13kg meer, en in die derde jaar 45kg meer. Die koeie het dus oor ‘n drie-jaar tydperk gemiddeld 31kg meer per kalf per jaar gespeen.
As dit teen ‘n kalfprys van R30/kg bereken word, beteken dit dat inkomste met R930/koei/jaar verhoog het danksy die voorsiening van fosfaataanvullings regdeur die jaar (Schatz, 2020). Dit is sonder inagneming van die voordele van die koeie se verhoogde liggaamsmassa (99kg swaarder), verhoogde dragtigheidsyfers (42% hoër), laer kalfverliese (4,5% laer as die kontrole) en verhoogde oorleefbaarheid van die koeie wat P-aanvullings gekry het (11% minder vrektes onder koeie).
Plaaslike navorsing
Navorsing wat op Armoedsvlakte in die Vryburg-omgewing gedoen is (De Waal et al., 1996) het soortgelyke resultate opgelewer. Koeie wat regdeur die jaar P-aanvullings ontvang het, was 33kg swaarder as koeie wat net deur een seisoen P-aanvullings ontvang het. Tabel 1 bevat ‘n opsomming van hierdie navorsing.
De Bouwer et al. (2000) het ‘n proef in Potchefstroom voltooi waar koeie eerder die aanbevole vlak (8g P/kop/dag) van ‘n fosfaataanvulling ontvang het (CS-groep), helfte van dit wat die CS-groep ontvang het (HS- 4g P/kop/dag) of nul fosfaataanvulling (ZS- 0g P/kop/dag) gedurende die somermaande. Gedurende die wintermaande het koeie eerder die aanbevole vlak (CW- 10g/kop/dag) – die helfte van die aanbevole vlak (HW- 5g P/kop/dag) of nul fosfaataanvulling (ZW- 0g/kop/dag) – ontvang. Van die koeie wat geen P-aanvulling ontvang het nie, moes van kant gemaak word omrede hulle weggekwyn het.
Lees meer oor die voedingbehoeftes van pasgebore melkkalwers hier.
Tabel 1: Effek op reproduksie van koeie wat verskillende vlakke van fosfaataanvulling oor ‘n ses- of 12-maande tydperk ontvang het op Armoedsvlakte (aangepas van De Waal et al., 1996).
Behandeling | Maande van aanvulling | Vlak van P-aanvulling (g/k/d) | Kalf % (1985-1989) | Speen % (1985-1989) | |
LP 6 | 6 maande (Sep-Feb) | 5 | 73,3 | 71,1 | |
MP 6 | 10 | 84,1 | 77,3 | ||
HP 6 | 16 | 85,2 | 74,1 | ||
LP 12 | 12 maande 1ste kolom: Mar-Aug 2de kolom: Sep-Feb | Mar-Aug 3 | Sep-Feb 5 | 77,8 | 70,4 |
MP 12 | 6 | 10 | 83, | 77,4 | |
HP 12 | 9 | 16 | 86 | 86 |
Volgens Read en Engels (1985) word aanvaar dat skape nie so erg onder fosfaattekorte deurloop in dieselfde omgewing waar beeste wei nie. Tog het navorsing bevind dat Dorper-ooie wat ‘n P-aanvulling ontvang het (ook op Armoedsvlakte), 9,7% swaarder was as ooie wat geen P-aanvulling ontvang het nie.
Fosfaattekorte
Akute fosfaattekorte in herkouers kan die volgende tekens aanneem:
- Pika: ‘n Dringende lus om aan snaakse voorwerpe soos bene te kou.
- Swak liggaamskondisietelling.
- Vertraagde groei en ontwikkeling by jong diere.
- Lamsiekte.
Fosfor word deur herkouers gebruik om sterk bene en tande te ontwikkel, en is ook nuttig in die metabolisme van vet, proteïen en koolhidrate, stimuleer goeie melkproduksie en ondersteun ook goeie voeromset.
Die diere op die plaas met die hoogste behoefte aan P is gewoonlik jong diere wat dit benodig vir raam- en beenontwikkeling, eerstekalfverse vir groei, dragtigheid en melkproduksie, laatdragtige diere vir fetusontwikkeling, en lakterende koeie vir melkproduksie. Dit neem ongeveer 1,5g P om 1ℓ melk te produseer. Indien koeie nie genoeg P vanaf weidings en aanvullings inkry nie, lei dit daartoe dat fosfaat vanuit die beendere gemobiliseer moet word om die tekort aan te spreek (Hopkins en Sullivan, 2019).
Balans is ook van belang wanneer dit by mineraalaanvullings kom. Die kalsium (Ca) en fosfaat in aanvullings of voere moet goed gebalanseerd en dus in die regte verhouding tot mekaar teenwoordig wees. Wanbalanse kan tekorte selfs vererger. Wanneer te veel voerkalk byvoorbeeld by ‘n aanvulling gemeng word, veroorsaak die hoë Ca-inhoud dat minder van die fosfaat in die aanvulling opgeneem kan word, omdat die twee minerale antagonisties teenoor mekaar is – die absorpsie van die een werk teen die absorpsie van die ander. Produsente sal ook net goeie resultate met fosfaataanvulling sien indien die beeste nie aan ‘n energie- en/of proteïentekort lei nie.
Nut van verskillende fosfaatbronne
Wanneer ‘n produsent besluit om ‘n fosfaatproduk aan te koop, moet ‘n onderskeid getref word tussen die verskillende bronne van fosfaat. Beenmeel was tradisioneel as ‘n organiese bron van fosfaat aan weidende beeste gevoer om fosfaattekorte aan te spreek. Verskeie bakteriese siektes het egter begin kop uitsteek, met Salmonella en Bacillus anthracis (wat miltsiekte veroorsaak) as die groot sondebokke. As gevolg van dié siektes, is regulasies daargestel wat bepaal het dat beenmeel vir dierlike gebruik deur middel van ‘n stoomproses gesteriliseer moet word.
In Europa het ‘n uitbreking van malkoeisiekte in die 1980’s en 1990’s daartoe gelei dat selfs die gesteriliseerde weergawe van die produk nie meer aan diere gevoer mag word nie. Produsente moet ook in ag neem dat, indien beenmeel gebruik word, die biobeskikbaarheid van die fosfaat tussen verskillende besendings baie wisselvallig is (50 tot 80%).
Dikalsium-/monokalsiumfosfaat
In die veevoerbedryf word anorganiese bronne van fosfaat hoofsaaklik aangewend om fosfaatprodukte te produseer; dit is hoofsaaklik dikalsiumfosfaat (DCP) of monokalsiumfosfaat (MCP). Laasgenoemde beskik oor ‘n optimale P-inhoud en tesame met die verhoogde biobeskikbaarheid (80%) van die fosfaat in dié bron, bevorder dit verhoogde veeprestasie indien dit in rantsoene of aanvullings gebruik sou word. Die verskille tussen fosfaatbronne word in Tabel 2 aangedui.
Tabel 2: Verskille tussen fosfaatbronne.
Fosfaatbron | Kalsium (Ca) | Ca-bio-beskikbaarheid | Fosfor (P) | P-bio-beskikbaarheid |
Beenmeel (gestoom) | 30% | 95% | 12% | 65% |
Dikalsiumfosfaat (DCP) | 21% | 94% | 19% | 75% |
Monokalsiumfosfaat (MCP – P21) | 16% | 95% | 21% | 80% |
Samevatting
Alhoewel die persepsie mag bestaan dat P-aanvulling ‘n duur uitgawe kan wees, sal produsente wat die kostes per dag per bees/skaap uitwerk, vind dat hulle nie sonder die aanvulling daarvan kan klaarkom nie. Wat veral in ag geneem moet word is dat, behalwe vir verhoogde speenpersentasies, die welsyn van die vroulike diere tesame met die effek wat die toedienings het op liggaamskondisie en reproduksie, beide ‘n groot rol by vrugbaarheid speel.
Vir meer inligting, kontak Ashley Grimsell by 083 296 8368 of ashley.grimsell@tongaat.com.