HomeEditor's pickDuncan Watson: Seleksie is tweede natuur

Duncan Watson: Seleksie is tweede natuur

-

Estimated reading time: 7 minutes

In die Dargle-kontrei naby Nottingham Road in KwaZulu-Natal is dit ’n kort, dik tipe vleisbees wat die beste vaar, en dit is die tipe waarvoor sy familie al vir meer as 70 jaar selekteer, sê Duncan Watson, Brangus SA se Jong Teler van die Jaar vir 2021.

“Omgewing speel ’n bepalende rol in hoe groot jou beeste word,” verduidelik hy. “My oupa, Jock Watson, het in 1948 in die Underberg-gebied met swart Angusbeeste begin boer, en my pa, Russell, het in 1988 by hom oorgeneem. Hulle het gevind dat dit die kort, dik beeste is wat die beste presteer het, en dit was die tipe bulle wat hulle deurgaans ingekoop het.

“Ons swart Anguskudde kom dus ’n lang pad met baie goeie genetika. In die vroeë 1990’s het my pa ook Brahmanbulle begin koop om meer gehardheid en basterkrag in die kudde te bewerkstellig. Hy het baie spesifiek vir die kort, dik tipe gegaan, wat hy geweet het die beste vir ons werk,” vertel Duncan.

“Toe ons egter in 2013 die Underberg- en Loteni-gronde verkoop en hier na die Dargle-omgewing skuif, het ons diere swaarder begin uitgroei. Die Dargle-gebied is sagter as Underberg en die winter is ’n goeie ses weke korter. Waar ons koeie by Underberg so 480kg geweeg het, weeg hulle dogters en kleindogters hier in Dargle tussen 500 en 510kg.”

In 2012, nadat hy vir vier jaar hoofsaaklik in Amerika professioneel polo gespeel het, het Duncan besluit hy kom permanent plaas toe. Die vleisbeeste was sy eerste liefde en hy het dadelik die bestuur van die vleisbeeskudde oorgeneem.

Lees meer oor Le Roc Brangus hier.

In 2017 het sy jonger broer, Martin, ook plaas toe gekom en het hulle ’n maatskappy, RDM Farming (Russell, Duncan, Martin) gestig, waarbinne die verskillende vertakkings van die boerdery gehuisves kon word. Dit het bestaan uit ’n melkkudde, ’n kommersiële beeskudde van hoofsaaklik Brahman-Anguskruise, en ’n Angus- sowel as ’n Brangusstoet.

Die regte tipe mentorskap

Afgesien van sy pa gee Duncan groot krediet aan sy oupa Jock as vroeë mentor. Hy is oorlede toe Duncan nog op skool was, maar hulle het ’n baie hegte band gehad, vertel hy. Dit beteken daarom vir hom vreeslik baie dat hy die Brangusstoet na sy oupa kon vernoem – JOC.

’n Ander groot mentor in sy lewe is sy neef, Chippie Watson, wat ’n groot invloed op sy ontwikkeling as beesboer gehad het.

Lees meer oor ‘n meer natuurlike benadering tot veeboerdery hier.

“Chippie is baie ouer as ek en toe ek begin teel het, het hy nog ’n Brangusstoet gehad. Een van my heel eerste stoetbulle, VC1309, het juis van hom af gekom. Dié bul het ’n hele paar stoetdogters in my kudde gegee, wat na my mening steeds die kern van my huidige stoetkudde verteenwoordig. Ek het ook agt stoetbulle uit hom gekry waarvoor ek ’n gemiddelde prys van meer as R100 000 op verskillende bulveilings behaal het. Ek beskou Chippie as een van die belangrikste mentors in my lewe.”

Met die hulp van Chippie en John Baxter, ‘n voormalige Brangusteler en bekende beeskenner, het Duncan 22 koeie uit die kommersiële stoet gekies om die JOC Brangusstoet mee te begin. Omdat die Watsons al vir meer as 70 jaar net voortreflike bulle gebruik het, was hierdie diere van hoë gehalte en vorm vandag nog die kern van die stoetkudde.

Oor meer as net wins

Hoewel die helfte van die kommersiële kudde rooi is, fokus Duncan veral op swart genetika. “Ek besef die mark het ’n voorkeur vir rooi beeste, maar ek dink die swart Angus is wêreldwyd beter as die rooies, bloot wat getalle betref. Dit is dus makliker om meerderwaardige swart genetika elders in die wêreld te bekom.

“Maar ek moet ook erken dat ek dit nie primêr vir die geld doen nie. Ek doen dit omdat dit my intens bevredig. Die geld-aspek is ’n bonus.”

Hierdie vers, JOC21-16, is die dogter van JOC18-32, wat weer ’n dogter is van VC13-09. Haar vaar is die KI-bul DMR Climax.

Streng seleksie: Net die beste

Koeifamilies, sê hy, vorm die ruggraat van ’n goeie stoetkudde. “Deur bulle uit die beste koeifamilies te selekteer, lyk dit vir my, is hoe jy konstant goeie bulle produseer. Ek selekteer bulkandidate baie streng. Hulle moet baie goed speen, sag op die oog wees en wat bouvorm betref, moet hulle absoluut korrek wees. Verder moet hulle korrek beweeg en ’n goeie skede hê. As daar enige twyfel oor ’n bulletjie ontstaan voor hy 30 maande oud is, word hy summier uitgeskot.”

Sy toekomstige stoetbulle werk almal ten minste een keer, maar soms twee keer in sy kommersiële kudde – op ouderdom 14 maande en dan weer tussen 24 en 28 maande, voordat hulle as drie-jaar-oue bulle veiling toe gaan.

Van die oorpronklike 22 koeie wat hy uit die kommersiële kudde gekies het, het vier konstant uitstekende nageslag geproduseer. Hulle vorm die matriarge van vier nuwe koeifamilies.

“Daardie vier matriarge is JOC1177, JOC1121, JOC1307 en JOC1325. Toe ek met hulle begin het, was twee eerstekalfverse en twee het vir die tweede keer gekalf. Deur middel van DNS-ontledings het ons vasgestel dat hulle al vier afstam van ’n Angus-bul wat deur Piet Lourens van Kokstad geteel is. Dié bul was weer die seun van OCC Emblazon, ’n baie suksesvolle Amerikaanse swart Angus KI-bul. Dit wys maar net weer die waarde van goeie genetika, selfs al teel jy net kommersiële bulle vir eie gebruik soos ons familie oor dekades gedoen het.”

Hierdie jongbul, JOC19-21, hou groot belofte in, sê Duncan. Hy is ’n HH14-54-seun uit JOC16-17, ’n VC13-09-dogter.
Hierdie jongbul, JOC19-21, hou groot belofte in, sê Duncan. Hy is ’n HH14-54-seun uit JOC16-17, ’n VC13-09-dogter.

Enkelvaarteling is eerste keuse

Afgesien van die uitstekende genetika wat die Watsons oor die jare gebruik het, is die feit dat hulle deurgaans van enkelvaarteling gebruik gemaak het, ’n baie belangrike rede waarom Duncan maklik bulle se teelvermoë kan evalueer, ook in die kommersiële kudde.

“As ek ’n mooi vers sien, kan ek onmiddellik bepaal wie die vaar en moer is, en die vers in die stoetkudde inbring. Afgesien hiervan, kan ek ook evalueer watter van my jong bulletjies goeie teelvermoë het sonder dat ek DNS-ontledings hoef te doen.”

Lees meer oor veesiektes wat tydens herfs aangemeld is hier.

Enkelvaarparing hou vir Duncan groot voordele in, sê hy. Tussen 22 September en 22 Desember plaas hy ’n enkele bul by 35 koeie. Gedurende die afgelope agt jaar was sy konsepsie 93% en sy gemiddelde speengewig 262kg.

Koop reg

’n Mens kan baie praat oor die verskillende belangrike eienskappe waarvoor geselekteer moet word. Wat hom betref, sê hy, is die belangrikste eienskappe vrugbaarheid, wat van die moederlyn afkomstig is, gehardheid, konstitusie, doeltreffendheid en prestasie.

“Ek plaas veral ’n baie hoë premie op doeltreffendheid by my koeie. ’n Koei moet ’n kalf van ten minste 50% van haar eie liggaamsgewig kan speen. Prestasie, daarenteen, gaan alles oor bulkrag. As ’n stoetteler moet jy ten alle koste die regte bul koop. ’n Kommersiële teler kan nog wegkom deur enige van die top vyf bulle wat hy gemerk het te koop, maar die stoetteler het nie daardie luukse nie.”

Duncan was nog altyd redelik skepties oor die sogenaamde kurweknakkerbulle, maar eie ondervinding het hom anders oortuig nadat hy ’n kurweknakker by Graig Sclanders gekoop het.

“Die bul is ’n Dream Forever-seun en ek het hom op my verse gebruik. Sy kalwers was besonder klein, maar met speentyd het hulle onder my swaarste kalwers getel. Dit is sonder twyfel ’n kurweknakker.”

Hy wil graag net aanhou verbeter en dit bly geniet, sê hy. “Ek is mal oor my beeste. My mikpunt is om mooi, doeltreffende diere te hê wat plesier gee.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Duncan Watson by 081 880 0499.

Must Read

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 19 of 2024

The weekly pork carcass price is brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. How are these...