Estimated reading time: 4 minutes
- Produksielekke is daarop gemik om beter produksie na te streef vanuit bestaande omstandighede.
- Produksielekke bevat sowat 25% proteïen en 70% energie.
- Mouton beklemtoon die eerste doel van ’n produksielek, naamlik om koeie so vinnig as moontlik ná kalf weer dragtig te kry.
- Dit is ekonomies voordelig om vir lakterende diere ’n strategiese produksielek te gee, terwyl algemene kuddevrugbaarheid verhoog.
- Lewenskragtige reproduksie word verseker deur verse nie onder voedingsdruk te plaas tydens hul uitgroeifase nie.
Produksielekke is daarop gemik om beter produksie na te streef vanuit bestaande omstandighede. Johan Mouton, tegniese bestuurder van navorsing en ontwikkeling by Molatek, sê aanvulling word in vier hoofkategorieë ingedeel: minerale-, proteïen-, energie-, en proteïen-en-energie-aanvullings.
Produksielekke val onder die kategorie proteïen-en-energie-aanvullings. Die aanbevole inname van produksielekke is tradisioneel 1 tot 2kg/dier/dag vir beeste en tot 500g vir skape. Die vraag is egter waarom hierdie aanbeveling soveel hoër is as byvoorbeeld die 450g/dier/dag van ’n proteïenlek.
Die beginsel agter die samestelling van ’n proteïenlek, wat ’n proteïeninhoud van 40 tot 50% het, word as verwysing gebruik. Die energie-inhoud is gewoonlik laer, tussen 30 tot 40%. Inname word beperk, omdat ureum as ’n proteïenbron benut word en teen te hoë vlakke gevaarlik kan wees.
As gevolg van die proteïeninhoud van winterveld is die aanbevole lekinname 400 tot 500g van ongeveer 45% proteïen om te voldoen aan die droë koei se behoefte van sowat 600g proteïen, waarvan 400g uit die veld en 200g uit die aanvulling is. Die energie-inhoud van die aanvulling (160g/dier/dag) is te laag om direk tot diereprestasie by te dra, maar is noodsaaklik om energie aan die mikrobebevolking te voorsien.
Proteïenaanvulling tot produksielek
Mouton sê wanneer ’n proteïenaanvulling nie meer aan die dier se behoeftes voldoen nie, soos wanneer koeie in die laatwinter kalf, moet na ’n produksielek oorgeskakel word. Die koei se proteïen- en energiebehoeftes styg, want sy moet ’n kalf soog. Proteïengehalte begin ’n rol speel en ureum alleen is nie voldoende nie.
Die proteïenwaarde van hoër-gehalte proteïenbronne in produksielekke vereis relatiewe hoë insluitings en bied die ekstra voordeel van energie. Produksielekke bevat sowat 25% proteïen en 70% energie. ’n Inname van 1,5kg/dag verskaf sowat 375g proteïen en ongeveer 1 000g energie, wat ’n betekenisvolle gedeelte van die totale voedingsbehoeftes aanvul én aan die hoër voedingsbehoeftes tydens kalf op winterveld voldoen. Weens die laer ureuminsluiting bly die totale ureum-inname dieselfde, maar word aangevul met beter gehalte proteïen vir produksie.
’n Waardevolle studie
Mouton beklemtoon die eerste doel van ’n produksielek, naamlik om koeie so vinnig as moontlik ná kalf weer dragtig te kry. Hulle moet ’n kondisiepunt van drie tydens kalwing hê. ’n Produksielek speel in hierdie verband ’n belangrike rol in die laatwinter, onder normale veldtoestande in ’n somerreënvalgebied.
Molatek het ’n studie gedoen waarin drie verskillende aanvullings in ’n ekstensiewe kudde vergelyk is. Hierdie koeie het in die lente gekalf. Groep een het in die somermaande net fosfaataanvulling ontvang. Koeie in groep twee het ’n produksielek direk ná kalwing tot en met speen ontvang, en kalwers in groep drie het kruipvoer ontvang.
Die kruipvoergroep het 23kg swaarder kalwers gespeen, terwyl die produksielekgroep 31kg swaarder kalwers as die fosfaatgroep gespeen het. Volgens die kosteberekening was daar min tot geen ekonomiese voordeel in enige van die verhoogde praktyke. Die produksielekgroep se tussenkalfperiode (TKP) het egter met 11 dae verkort wat, teen ’n speenkalfprys van R35/kg, ’n netto inkomste van R380 meer per koei in seisoen twee opgelewer het.
Dit was nie ekonomies voordelig om ’n produksielek te voorsien op goeie veld nadat die bulle uitgehaal is nie, wat ’n ekstra ekonomiese voordeel is. Dit is ekonomies voordelig om vir lakterende diere ’n strategiese produksielek te gee, terwyl algemene kuddevrugbaarheid verhoog. Die grootste aanvulling was gelykstaande aan 0,5% van liggaamsmassa. Hoër aanvullings vir lakterende diere lei tot veldvervanging wat onekonomies is.
Produksielek en nie-lakterende diere
Mouton sê in spesifieke omstandighede het ’n produksielek ook plek vir nie-lakterende diere, soos veldvoorbereiding (backgrounding) op somerveld, veral in die tweede helfte van die seisoen. In ’n studie met veilingsbulle (± 500kg) het een groep Molatek Kondisielek, ’n algemene produksielek (V17730/N-FF1515) ontvang, terwyl die proefgroep Pasture Master (V29510), ’n gespesialiseerde produksielek vir spesifieke toestande op groen weiding ontvang het.
Die Kondisielekgroep het 1,45kg/dag toegeneem, terwyl die Pasture Master-groep 1,96kg/dag gegroei het op hoë-gehalte natuurlike weiding in die midsomer. Die Pasture Master-aanvullingskoste was 2,3 keer meer as die Kondisielekaanvulling, maar die Pasture Master-groep het ’n 35% beter netto-inkomste genereer.
Die beste plek waar ’n produksielek langtermyn voordeel vir die kudde sal inhou, sê hy, is by verse se eerste oorwintering. ’n Winteronderhoudslek laat diere deur die winter oorleef, maar as ’n duimreël verloor hulle 20kg massa. ’n Produksielek wat duurder is as die onderhoudslek voorkom hierdie massaverlies en dra by tot raamgroei. Dit is hierdie 20kg wat verse kort tydens die eerste dekking. Lewenskragtige reproduksie word verseker deur verse nie onder voedingsdruk te plaas tydens hul uitgroeifase nie. – Christal-Lize Muller, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Johan Mouton by 083 278 7746 of johan.mouton@rclfoods.com.