Estimated reading time: 5 minutes
- Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en ander rolspelers in die rooivleiswaardeketting, het Visie 2030 opgestel met die doel om die bedryf met 20% te laat groei.
- Tegnologie, verbeterde tegnieke en die wetenskap moet ingespan word om produksie op die beskikbare grond te verhoog.
- Een van die redes waarom rooivleisprodusente nie die erns van produksie-ontwikkeling besef nie, is omdat die plaaslike aanbod van vleis nog hopeloos te klein is teenoor die plaaslike vraag daarna.
- Die LNR tans is besig om ’n opleidingshandleiding vir klimaatslim beesboerdery vir voorligters saam te stel. Dit sal hulle beter toerus om rooivleisprodusente te help.
- Daar is genoeg inligting beskikbaar om jou boerdery na ’n volgende vlak te neem en sodoende beter rooivleisproduksie te verseker.
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en ander rolspelers in die rooivleiswaardeketting, het Visie 2030 opgestel met die doel om die bedryf met 20% te laat groei. Dit kan potensieel meer as R12 miljard in reële terme tot landbou in Suid-Afrika se jaarlikse bruto binnelandse produk bydra.
Prof Michiel Scholtz, spesialis-navorser by die Landbounavorsingsraad (LNR) Diereproduksie, sê geen buitengewone veranderinge is nodig om hierdie ideaal te bereik nie. Elke produsent moet net sy eie kudde se prestasie met een trappie verhoog.
Kry die nuutste rooivleispryse hier.
Meer rooivleis – stap vir stap
Hy sê rooivleisprodusente is uiteraard nie almal op dieselfde vlak wat landbou-opleiding betref nie. Meer landbougrond is nie die antwoord nie – buitendien is daar nie veel meer landbougrond beskikbaar nie. Tegnologie, verbeterde tegnieke en die wetenskap moet ingespan word om produksie op die beskikbare grond te verhoog.
Hy glo elke produsent kan aangepaste boerderymetodes gebruik om meer kilogram vleis per hektaar te produseer, sonder om weidings skade te doen.
Dit kan geskied deur maklike aanpassings te maak, soos beter weiveldbestuur om te verseker dat die boerdery volhoubaar is, asook om klimaatslim te boer. Rasse wat by die omgewing kan aanpas asook doeltreffende kruisteling, sal vleisproduksie kan verhoog. Prof Scholtz se raad aan kommersiële telers is dat die basis van hul koeikuddes steeds suiwerras-verse moet wees.
Kommersiële rooivleisproduksie
“ ’n Mens wonder ook dikwels of daar genoeg teelbulle vir kommersiële telers is. Hoewel die stoetbedryf in Suid-Afrika op sterk bene staan, moet daar steeds gekyk word na die hoeveelheid bulle wat in die mark gestoot word,” sê hy.
Hy glo een klein verandering wat kommersiële telers kan maak, is om eerder na prestasiegetoetste bulle met goeie teelwaardes te kyk wanneer hulle bulle aankoop. Die probleem is steeds dat baie kommersiële telers nie op hoogte is van teelwaardes nie en nie die katalogusse behoorlik verstaan nie. Daarom koop hulle dikwels ’n bul wat dan nie aan hul verwagtinge voldoen nie.
Plaaslike vraag hoër as aanbod
Dr Louis du Pisani, ’n onafhanklike weidingkundige, stem hiermee saam. Volgens hom is daar plek vir ‘n verbetering in landbou, ten spyte van faktore wat hierdie ontwikkeling strem. Hy glo een van die redes waarom rooivleisprodusente nie die erns van produksieontwikkeling besef nie, is omdat die plaaslike aanbod van vleis nog hopeloos te klein is teenoor die plaaslike vraag daarna.
“In Namibië word daar baie meer na uitvoermarkte gekyk, omdat die bevolking nie al die vleis wat geproduseer word kan verbruik nie. Die Namibiese rooivleisbedryf het besef hulle moet ander markte ontwikkel, terwyl die vraag na rooivleis in Suid-Afrika steeds groter as die aanbod is,” verduidelik hy.
Waar is die voorligters?
Beide prof Scholtz en dr Du Pisani glo dat ongespesialiseerde landbouvoorligters een van die groot struikelblokke in die produksieontwikkeling van rooivleis en verhoogde rooivleisproduksie is.
Prof Scholtz sê in die verlede het die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling uitstekende voorligters gehad wat produsente gehelp het om hul boerdery na ’n volgende vlak te neem, maar daar is tans ’n tekort aan hierdie spesialiskundigheid. Deesdae is hierdie taak van privaatpersone en koöperasies afhanklik.
Volgens hom het studiegroepe en landbouverenigings sterk leiers onder hulle en dit is die mense wat die voortou moet begin neem en sorg dat hierdie kennis by die produsent op die grond uitkom. Hy sê daar is baie inligting in die media beskikbaar asook baie kundige boere in elke gemeenskap wat nie sal huiwer om die jonger geslag in te lig en te help nie. Produsente wat volhoubaar boer, is diegene wat die moeite doen om daardie inligting te bekom.
Trek kommunale boere in
Prof Scholtz sê die LNR tans is besig om ’n opleidingshandleiding vir klimaatslim beesboerdery vir voorligters saam te stel. Dit sal hulle beter toerus om rooivleisprodusente te help.
Hy vertel dat dit een van die groot probleme in kommunale areas is. Volgens Visie 2030 is tussen 40 en 50% van die nasionale beeskudde in die hande van kommunale boere, maar hulle ontvang nie behoorlike opleiding en raad nie.
Die LNR is besig met ’n projek in KwaZulu-Natal, waar hulle kommunale boere help om onproduktiewe osse op veilings te verkoop, sodat daar eerder plek gemaak kan word vir produktiewe koeie wat meer geld in die produsent se sak kan besorg.
Daar is genoeg inligting beskikbaar om jou boerdery na ’n volgende vlak te neem en sodoende beter rooivleisproduksie te verseker. Met die hulp van organisasies in die rooivleiswaardeketting, is dit moontlik om die rooivleisbedryf te verbeter en Visie 2030 se ideale te bereik. – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak prof Michiel Scholtz by 082 807 4535 of dr Louis du Pisani by 082 773 9778.