Rooivleis op die randjie van groot uitbreiding

Share This Post

Estimated reading time: 4 minutes

  • Veeprodusente het die afgelope jaar of twee behoorlik die wind van voor gekry. Is dit ’n bedryf wat besig is om te versmoor of is daar hoop?
  • Volgens Prof André Jooste van Stellenbosch Universiteit se berekeninge, lewer die veebedryf die grootste bydrae tot die bruto produksiewaarde van landbouproduskie.
  • Prof Jooste het verder gaan kyk na rooivleis se plek in die mark teenoor ander diereprodukte. Hy sê dit is duidelik dat die hoenderbedryf die grootste bydrae lewer tot die bruto produksiewaarde van verskillende veeprodukte, gevolg deur die bees- en kalfbedryf, met melk en die eierbedryf kort op hul hakke.
  • Hoër inkomstegroepe is die grootste verbruikers van skaap- en beesvleis, terwyl varkvleis stadig maar seker ook ’n goeie markaandeel in hierdie inkomstegroep wen.
  • Daar is ’n blink toekoms wat vir die rooivleisbedryf lê en wag.

Veeprodusente het die afgelope jaar of twee behoorlik die wind van voor gekry. Tussen droogtes, siektes en Covid-19 het bedryfskoste ook nog maand na maand gestyg. Dit laat ’n mens wonder waar staan die rooivleisbedryf werklik. Is dit ’n bedryf wat besig is om te versmoor of is daar hoop? En kan die bedryf sy markaandeel vergroot?

Prof André Jooste is verbonde aan die Departement Landbou-ekonomie aan Universiteit Stellenbosch en hy het met Veeplaas gesels oor rooivleis se plek en rol in die algehele landbousektor.

Kyk die weeklikse plaashek-rooivleispryse hier.

Vleis versus ander sektore

Volgens sy berekeninge lewer die veebedryf die grootste bydrae tot die bruto produksiewaarde van landbouproduskie (BPL). “Die totale reële BPL was in die 2021/22-boekjaar R380 miljard teenoor R183 miljard in die 2001/02-boekjaar. Dit verteenwoordig ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers (SJG) van 3,73%.”

Hy verduidelik dat die SJG oor hierdie 20-jaar tydperk tussen 2001/02 tot 2021/22 vir kontantgewasse, tuinbougewasse en veeproduksie onderskeidelik 2,54, 4,51 en 4,43% was. “Dit is dus duidelik dat daar in reële monetêre terme groei in al die bedrywe was.” Vee het die grootste aandeel in die BPL het (Figuur 1).

Figuur 1: Persentasie bydrae tot bruto produksiewaarde van landbouproduksie. (Bron: Gebaseer op data van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling)

“In 2021/22 was die persentasie bydrae van kontant-, tuinbougewasse en vee onderskeidelik 31, 27 en 42%. Vir die tydperk 2001/02 tot 2021/22 was die onderskeie aandele 26,6, 26,8 en 46,6%. Die aandeel van veeproduksie tot BPL bly dus konstant hoër as die ander sektore s’n,” verduidelik hy.

Prof Jooste het verder gaan kyk na rooivleis se plek in die mark teenoor ander diereprodukte. Hy sê dit is duidelik dat die hoenderbedryf die grootste bydrae lewer tot die bruto produksiewaarde van verskillende veeprodukte, gevolg deur die bees- en kalfbedryf, met melk en die eierbedryf kort op hul hakke.

Hoewel hoender die grootste aandeel in die BPL van verskillende veeprodukte het, is dit duidelik dat dié aandeel oor tyd ietwat afgeneem het. Die aandeel in die 2021/22-boekjaar was 32%. Aan die ander kant het rooivleis se aandeel weer goed gegroei.

“Die aandeel van beeste en kalwers, skape en bokke, en vark was onderskeidelik 28, 5 en 6%. Gesamentlik was hierdie bedrywe se aandeel hoër as dié van die hoenderbedryf in die 2021/22 boekjaar.”

Lees meer oor vleispryse hier.

Groei in die bedryf

Prof Jooste sê daar is altyd plek vir ontwikkeling en groei in die rooivleisbedryf. Die kanse dat rooivleis sy markaandeel kan vergroot is ook nie uitgesluit nie. Die verskillende vleissoorte is bronne van proteïen vir die verbruiker en is altyd in kompetisie met mekaar. Vleis se bekostigbaarheid sal altyd ’n faktor bly wat die bedryf se markaandeel sal bepaal.

“Hoër inkomstegroepe is die grootste verbruikers van skaap- en beesvleis, terwyl varkvleis stadig maar seker ook ’n goeie markaandeel in hierdie inkomstegroep wen. Laer inkomstegroepe verbruik meer hoendervleis asook laer-waarde snitte uit die rooivleissektor,” verduidelik hy.

Hy noem dat ‘spesialiteitsprodukte’ uit die verskillende rooivleisvertakkings ’n impak sal hê op hoe die rooivleisbedryf se aandeel kan groei.

“Sowat 15 of 20 jaar gelede was die mees gesogte snitte deur die hoër-inkomste groepe byna uitsluitlik uit die agterkwart gesny. Dit het verander en nou is die verdeling tussen agter- en voorkwartsnitte waarskynlik 50/50,” meen hy.

Uitvoere is ’n goeie keuse

Hy glo daar is baie ruimte vir die rooivleisbedryf om sy markaandeel te vergroot; nie net in die plaaslike mark nie, maar ook in die uitvoermark.

“Dit is belangrik dat die rooivleisbedryf, en spesifiek die beesvleisbedryf, sterk fokus op die uitvoermark. Die meeste uitvoere geskied via voerkrale, maar die produsente speel steeds ’n belangrike rol; die regte tipe diere moet aan voerkrale gelewer word. Die voorkoms en beheer van bek-en-klouseer kan groei in uitvoermarkte belemmer. Dit moet vinnig uitgesorteer word,” waarsku prof Jooste.

Daar is ’n blink toekoms wat vir die rooivleisbedryf lê en wag. Die geheim is dat almal in die waardeketting hande moet vat, mekaar moet ondersteun en saam moet werk om die markaandeel tot voordeel van al die rolspelers te vergroot. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak prof André Jooste by 083 307 3703 of joostea@sun.ac.za.

Related Posts

Weeklikse plaashek-rooivleispryse / Weekly farm gate red meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Die jongste vleispryse word...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 5 minutes LET WEL: Johan van...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 19 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...