Doeltreffende en mededingende landboufinansiering is die lewensbron van die kommersiële landbousektor in Suid-Afrika. In die 2020/21-somerseisoen het daar ’n noemenswaardige finansieringskrisis ontwikkel, wat die plaaslike finansieringsomgewing van primêre landbou na alle waarskynlikheid permanent sal verander.
Alhoewel verskeie verwikkelings en faktore die afgelope paar jaar tot hierdie krisis bygedra het, het die Covid-19-pandemie en die impak van die inperking op die ekonomie, dit oor die rand gestoot.
Inligting wat deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling verskaf is, toon dat die land se primêre landbouskuld in nominale terme van R70 miljard in 2010 tot R187,5 miljard in 2019 gestyg het. Die vier groot handelsbanke, tesame met die Landbank, hou ongeveer 90% van daardie skuld, met die Landbank wat vir 29% verantwoordelik is.
Gedurende dié dekade het die verhouding tussen skuld en bates (grond, vaste verbeteringe en vee) van 27,2 tot 36,3% verswak. Verskeie faktore het ’n rol gespeel, waaronder jare van groot droogte, ’n daling in die reële pryse van grane en oliesade, verhoogde produksiekoste en soms ook onoordeelkundige kredietverlening.
Die Landbank skiet tekort
Die kern van die huidige krisis is die likiditeitsuitdagings waarin die Landbank hom bevind, ná verskeie afgraderings deur graderingsagentskappe nadat die bank vroeg in 2020 nie sy verpligtinge teenoor skuldeisers en beleggers kon nakom nie. Terwyl die Landbank die herskedulering van sy skuld onderhandel, het die Nasionale Tesourie in Junie 2020 ’n R3 miljard-inspuiting in die aanvullende begroting gelewer om onmiddellike verpligtinge na te kom.
Die Landbank kan tans slegs sowat 50% van sy verpligtinge teenoor kliënte nakom deur middel van sy diensvlakooreenkomste met verskeie landboubesighede. In ’n onlangse voorlegging aan die Parlementêre Portefeuljekomitee, het die Landbank aangedui dat hy die bepalings van hierdie ooreenkomste sal moet heronderhandel. Produsente wat van hierdie finansieringsbron afhanklik is, sal dus aan ’n sekere vlak van risiko blootgestel word en baie sal van alternatiewe finansieringsbronne gebruik moet maak.
Die grootste kommer is die Landbank se vermoë om verdere kapitaal op die kapitaalmarkte in te samel, soos die afgelope paar dekades die gebruik was. Beleggers hou vol dat die regering ’n 100%-waarborg op beleggings moet bied, terwyl die Nasionale Tesourie ’n waarborg van slegs 60% bied. In die medium-termyn begrotingsbeleid vir Oktober 2020, het die Nasionale Tesourie ’n toekenning van R5 miljard aan die Landbank vir die boekjaar 2021/22 aangedui, asook ’n verdere R2 miljard vir die volgende boekjaar “om ’n volhoubare sakemodel te herstruktureer en ontwikkel”.
Maar hoewel steun aan die Landbank verwelkom word, en gegewe die strategiese rol van landbou om voedselsekerheid te verseker, is daar nog baie onsekerheid rondom die langverwagte herstruktureringsplan, wat die hersiening van die bank se mandaat en sakemodel insluit.
Fondse vir landbou-ontwikkeling
Aangesien die beraamde tekort aan finansiering ’n potensiële R7 tot R10 miljard vir die huidige somerseisoen beloop, en omdat kommersiële banke risiko-afkerig is weens die huidige onsekerheid wat die pandemie meebring, is dit duidelik dat toegang tot krediet of finansiering in die toekoms aansienlik moeiliker sal wees en die verhoogde risiko in hoër reële rentekoerse geprys sal word.
Daarbenewens sal ’n herwaardasie van bates en sekuriteite gedoen word om realistiese eerder as opgedrewe markwaardes te weerspieël. Groter klem sal ook geplaas word op kliënte se vermoë om ’n positiewe kontantvloei vir alle betrokke ondernemings te bly handhaaf.
Die beskikbaarheid van finansiering, spesifiek vir landbou-ontwikkeling, het nou ook onder groot druk gekom, aangesien die Landbank tans nie nuwe lenings kan toestaan nie. Een voordeel is dat die gemengde finansieringsmeganisme wat deur die departement tesame met die privaatsektor ontwikkel is, ’n nuwe manier skep om finansiering uit die privaatsektor vir ontwikkeling te benut.
Daar is ook nuwe inisiatiewe wat deur die privaatsektor gedryf word, soos die Landbou-ontwikkelingsagentskap (Agriculture Development Agency of AGDA) wat gestig is om met die finansiering van landbou-ontwikkeling te help. Dit blyk belowend te wees om bankbare projekte doeltreffend te ondersteun.
Nuwe marktoetreders
Alhoewel ons onsself dus grootliks in ’n krisis bevind, bestaan daar ’n geleentheid vir mededingers of nuwe toetreders tot die landboufinansieringsmark. Daar is reeds aanduidings dat Suid-Afrikaanse handelsbanke ’n mark betree wat hulle nie voorheen bedien het nie, terwyl internasionale banke (wat spesialis-landboubanke insluit) en privaat ekwiteitsinstellings duidelike belangstelling toon om die mark te betree.
Ons moet die mark toelaat om sy werk te doen. Mededinging en geleenthede sal ons sektor dryf om selfs meer doeltreffend en wêreldwyd mededingend te raak.
Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr John Purchase
by john@agbiz.co.za of besoek www.agbiz.co.za.