Die interpretasie van die Grondwet van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) het die afgelope paar jaar groot uitdagings veroorsaak met die toepassing van die Wet op Oortreding, 1959 (Wet 6 van 1959), oftewel die Oortredingswet, asook die Wet op Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond, 1998 (Wet 19 van 1998), oftewel die PIE-wet.

Read it in English

Die onsekerheid is toe te skryf aan twee verskillende interpretasies van die wisselwerking tussen die bogemelde wette. Die een wet ag dit as ’n misdryf om iemand se grond sonder toestemming te betree, terwyl die ander wet beskerming teen arbitrêre uitsettings verleen aan persone wat grond onregmatig sou beset (’n bewoonbare struktuur oprig).

Indien ’n persoon iemand anders se grond onwettig sou wou beset, sou die besetting noodwendig voorafgegaan moet word deur die daadwerklike betreding van die grond. Die een argument is dat die misdryf van oortreding reeds vóór die besetting plaasgevind het en dat, ongeag die daaropvolgende besetting van die grond, die onregmatige besetter steeds vervolgbaar vir die misdryf van oortreding of betreding is.

Die teenargument, wat ook in amptelike beleidsdokumente van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vervat word, is dat die besetting van die grond deur die oprigting en bewoning van ’n struktuur, die aanvanklike misdryf van betreding ongedaan maak. Hierdie interpretasie word dan deur die SAPD as rede aangevoer om nie onregmatige besetters van grond krimineel te vervolg vir hul aanvanklike oortreding op die grond nie.

’n Skuiwergat in wetgewing

Dit is dié verwarring van standpunte, en in besonder die laasgenoemde benadering van die SAPD, wat ’n regsvakuum skep wat dit moontlik maak vir persone en organisasies om grondbesettings aan te moedig.

Prakties sou die strategie van grondbesetters of instansies wat dit organiseer, wees om grond te betree en so spoedig as moontlik ’n bewoonbare struktuur op te rig, om sodoende vervolging vir die misdaad van oortreding vry te spring. As gevolg van hierdie regsvakuum het daar oor tyd ’n kommerwekkende tendens ontstaan dat vervolgings vir oortreding die uitsondering pleks van die reël geword het.

Die bogenoemde toedrag van sake het groot probleme vir grondeienaars geskep, omdat die weiering om ’n dossier vir ’n kriminele klag te open, dikwels tot gevolg het dat betreders van grond, die besetters van grond word. Daar word dan van privaat grondeienaars verwag om teen groot koste uitsettingsverrigtinge teen onregmatige grondbesetters van stapel te stuur.

Tydelike regsekerheid

In ’n onlangse baanbrekersaak het die Grondwetlike Hof egter ’n aanval op die grondwetlikheid en meegaande gelding van die Oortredingswet van die hand gewys. In die saak van die Economic Freedom Fighters (EFF) en ’n ander vs. die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste en ’n ander (CCT/201/19), het die EFF spesifiek gevra dat die hof moet beslis dat die Oortredingswet nie toepassing vind waar die PIE-wet van toepassing is nie.

Indien die bevel, soos versoek, toegestaan sou word, sou dit met die huidige interpretasie van die SAPD ooreenstem en waarskynlik die weg vir verdere en grootskaalse grondbesettings oopmaak, sonder dat die SAPD op enige wyse sou kon ingryp om privaateiendom te beskerm, soos voorgeskryf deur die SAPD se grondwetlike mandaat om misdaad te voorkom.

Hoewel die Grondwetlike Hof in die hofbevel steeds die deur vir ’n toekomstige grondwetlike aanslag op die Oortredingswet oopgelaat het, word die uitspraak en die regsekerheid wat dit oor hierdie kwessie bring, in die tussentyd verwelkom.

SAPD se plig vooropgestel

Die SAPD sal voortaan die toepassing van die Oortredingswet moet herbesin. Van belang is die feit dat die Grondwetlike Hof nié die PIE-wet se toepassing tot uitsluiting van die Oortredingswet beskou nie. Dit beteken dat die handhawing van die oppergesag van die reg en die SAPD se plig om misdaad te voorkom, die polisie en die Suid-Afrikaanse vervolgingsgesag nou sal noop om met nuwe strategieë vorendag te kom om grondbesetting te verhoed.

Dit is nie net in belang van grondeienaars nie, maar ook in belang van weerlose en dikwels hawelose mense wat gewetenloos vir politieke agendas misbruik word. Die afskrikwaarde van kriminele vervolging behoort grondbesetting te ontmoedig en sal hopelik die organiseerders van grondbesettings ter bevordering van politieke agendas, in hul spore laat trap.

Die uitspraak en die ruimte wat dit laat vir toekomstige pogings om die grondwetlikheid van die Oortredingswet te toets, behoort landbou en ander organisasies vir wie die beskerming van privaatgrond belangrik is, tot paraatheid te dwing. Wanneer hierdie kwessie in die toekoms weer voor die howe sou kom, moet behoorlike feite en regsargumente aangebied word om die saak na behore aan te voer.

Vir nou is die regsposisie duidelik, maar nog nie finaal nie. – Deur HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by
018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.