Sitrusproduksie in die Gamtoosvallei dra tot sowat R1,4 miljoen in uitvoere, met ʼn jaarlikse omset van R2 miljoen, by.

Na goeie reënval en damme wat tot oorlopens toe vol is in baie dele van die land, het Plaas Media die Gamtoosvallei in die Sarah Baartman-distrik besoek om uit te vind hoe die droogte, wat as die ergste in menseheugenis gereken word, produsente in dié unieke omgewing raak.

Baie van die ouer garde sal herroep hoe ‘n groot deel van die Oos-Kaap jare gelede as ‘n provinsie van groen weivelde, bebosde woude en hope water daar uitgesien het.

Die verdampingsvlakke van die Kouga-dam is op hierdie stadium gelykstaande aan die invloei van water.

Net 42km vanaf Jeffreysbaai, is die Gamtoosvallei. Die gebied is veral bekend vir sitrusverbouing asook verskeie variëteite groente, slaaie, rissies, aarbeie en meer onlangs ook bloubessies. Ongelukkig is die vallei ses jaar al in ‘n droogte vasgevang, en een van die eerste tekens daarvan is die afwesigheid van groen gras waarvan die klowe en natuurlike bebosde gedeeltes gewoonlik deurweef is.

Op pad na die Kouga-dam word ‘n mens deur verskeie sitrusblokke begroet. Hier lyk dit asof die bome, omring deur dooie blare op die grond, besig is om dood te gaan. Die rede is eenvoudig – daar is nie genoeg water om al die bome nat te lei nie en produsente probeer in hierdie stadium om hul beste blokke in produksie te hou.

ʼn Dun lyn: Kwotas en beurtwater

Die Kouga-dam, net wes van die Gamtoosvallei, was op 5 Februarie vanjaar ‘n skamele 7,66% vol. Die dam is ‘n belangrike bron van landbouwater en huishoudelike watergebruik vir die inwoners van Loerieheuwel, Hankey en Patensie.

Volgens Rienette Colesky, hoofuitvoerende beampte by die Gamtoos-besproeiingsraad, word waterbeperkings vier jaar al toegepas. Twee hiervan was op 40%-beperkings geskoei. Sy sê dat dit ‘n geweldige uitdaging vir die besproeiingsraad is om die water en stelsel te bestuur.

“Die dam se vlakke het in die verlede nie genoegsaam herstel na goeie reën in die gebied nie en dit is waarom ons in hierdie stadium met ‘n 20% waterkwotatoekenning vir die produsente sit. Dit op sigself het ‘n groot impak op die produksieproses, terwyl produsente alles in hul vermoë doen om met die min water waartoe hulle toegang het, ‘n inkomste te genereer,” sê sy.

Beurtwater word ook sedert die begin van die waterjaar in Junie 2020 toegepas. Rienette meen dis die enigste manier om water doeltreffend in die stelsel te hou, sodat almal op die lyn water kan kry. “Dit sluit al die waterverbruikers vanaf bo by die Kouga-dam tot onder by Mondplaas in.

“Die proses veroorsaak dat ons redelik baie onderhoudwerk moet doen, omdat die lug in die leë pype, wat tot drie meter diep lê, opbou. Dit veroorsaak dat die pype plek-plek breek wanneer die water weer begin deurvloei.” In Januarie is ‘n totaal van 26 breuke geregistreer.

Die volgende vier tot ses weke is krities vir vruggrootte in die sitrusbedryf. Hoewel daar ʼn goeie set op die bome is, word deurdringende en goeie reën benodig om die groeifase en kurwe te behou.

ʼn Logistieke kopseer

Noëlle le Roux van Rooivlakte-boerdery boer met 40% sitrus en 60% groente wat aan verskeie kettingwinkels landswyd voorsien word. “As gevolg van beurtwater wat weekliks vanaf Maandag tot Donderdag duur, kan ons glad nie meer ons groenteboerdery in die Gamtoosvallei bedryf nie,” sê hy. “Van die sagte produkte soos slaai, blomkool en broccoli kan glad nie so lank sonder water bly nie. Dit plaas al hoe meer druk op ons om grond van buite af te huur.”

Met insetkoste wat nou baie hoër as normaalweg is, soek hulle na alternatiewe waterbronne buite die vallei. “Ons huur en plant in hierdie stadium tot so ver as Hofmeyr, Steynsburg, Kareedouw, Addo en Kruisrivier by Uitenhage, net om die winkels te bedien en ons kontrakte met hulle te behou,” sê Noëlle.

“Dit plaas ‘n ongelooflike lading op ons insetkoste en die logistiek om die verskillende produkte vanaf al die onderskeie gebiede na die pakhuis te bring, te verpak, plus al die organisasiewerk om die produkte na die onderskeie kettingwinkels oor die land te vervoer.”

Hoewel afleggings ‘n onvermydelike deel van die proses was, sê Noëlle dat hulle darem nog daarin kon slaag om die meeste van hul permanente werkers te behou. Maar as dit nie binne die volgende paar weke reën nie, gaan dit ‘n baie groot invloed op hul sitrusproduksie, vruggrootte en tonnemate hê.

Die prys wat betaal word in die Gamtoosvallei

Die familiebesigheid op die plaas Texas Citrus Farms in die Kleinrivier Boerdery Groep naby Hankey, bestaan uit sowat 30% Kaapse nartjie wat plaaslik bemark word, en 70% uitvoersitrus (die hele reeks sagteskilsitrus wat vanaf Maart tot einde Oktober geproduseer word).

Beide die produsente, Noëlle le Roux en Marius Kleyn, is van mening dat daar baie vinnig na alternatiewe gesoek moet word om ʼn ramp af te weer.

Marius Kleyn vertel van die wild op die plaas, onder andere buffels, wat al ‘n geruime tyd gevoer moet word. “Danksy die skenkings van kool en lusern deur vriende, kan ons nog voortgaan. Die diere wat verder weg van die bos afhanklik is, kry egter geweldig swaar,” sê hy.

Hy merk op dat die soeke na alternatiewe waterbronne teen ‘n prys kom wat betref die onkoste wat produsente aangaan om water te bekom. Daar word ook boorgate teen astronomiese koste in die vallei gesink. In dieselfde asem voeg Marius by dat daar die afgelope twee jaar groot sitrusuitbreidings in die vallei plaasvind, wat net nóg meer druk op die waterbronne plaas.

“As die situasie nie verander nie, gaan dit ‘n massiewe impak op ons vrugtebedryf en groot werksverliese tot gevolg hê. Tesame met die watertekort, is die beurtkrag wat Eskom instel werklikwaar ‘n nekslag vir die gemeenskap. Terwyl die produsente reeds op beurtwater is, loop ons nou ook onder beurtkrag deur.”

Tans ry mense water vanaf boorgate buite die vallei aan. Die krane word toegedraai as iemand sy of haar kwota oorskry.

Beurtwater behels dat die Gamtoos-besproeiingsraad se waterkwota slegs vanaf Maandagoggend 06:00 tot Donderdagaand 18:00 geldig is. Dit beteken dat ‘n produsent vier dae lank sonder water is. “Voeg nou daarby beurtkrag, waarin jy maklik tot vier ure per dag se besproeiingstydgleuf kan verloor. Dit beteken dat jy maar net vir drie dae in die week water het,” sê Marius.

Hoewel die plaaslike en nasionale regering se betrokkenheid in die Gamtoosvallei-krisis vir baie na ‘n dromery mag klink, glo Marius dat beide partye daadwerklik sal moet ingryp. “Daar moet alternatiewe bronne vir water geskep word, hetsy deur die damwal te verhoog of water vanaf die Gariepdam na die Gamtoosrivier te kanaliseer, soos dit reeds na die Sondagsrivier gedoen word. Ek is bevrees dat ons produsente op die lang duur nie sal kan voortgaan om volhoubaar te boer as die regering nie ingryp en alternatiewe waterbronne skep nie.”

Kan fynbosbrande ‘n verskil maak in die Gamtoosvallei?

Tydens die besoek op Texas Citrus Farms, maak Marius ʼn interessante opmerking oor die daarstelling van beheerde fynbosbrande. Hy vertel hoe vorige generasies hul kinders gereeld ingestuur het om die fynbos in die onherbergsame gebiede te brand.

Een moontlike oplossing vir die streek, sowel as ander dele van die land, is om weer beheerde fynbosbrande bo in die berge toe te pas.

“Ek kom uit ‘n gebied in die Suid-Kaap waar fynbos, danksy die vorige regering, gereeld gebrand is om waterbronne te verseker. So ongeveer twaalf jaar gelede was daar naby die plaas ‘n brand in die Stinkhoutberg Natuurreservaat wat al die fynbos vernietig het. Die gevolg daarvan was dat ons vir die volgende vyf jaar of so daarna glad nie weer met water gesukkel het nie.”

Hy verduidelik verder: “Jy kry byvoorbeeld 5mm reën, met die gevolg dat daar goeie afloopwater in die natuurlike kleiner riviere en spruite is. Vandag is dit ‘n heel ander storie vanweë die feit dat die regering nie meer die brande toepas nie. Die fynbos groei meters hoog en dit is deel van die waterprobleem in ons rivierstelsels. Waar fynbos in die opvangsgebiede groei, word die water letterlik daardeur vasgehou.”

Die droogte in die Gamtoosvallei en ander dele van die Sarah Baartman-distrik in die Oos-Kaap, duur al etlike jare voort.

Mense soms vergeet dat duisende hektare met fynbos begroei is, sê hy. “Kyk na die Tsitsikamma-berge wat so twee jaar gelede bosbrande gehad het en die goeie afloop van water wat onmiddellik ná die reën gevolg het. Nog ‘n goeie voorbeeld is in die Wes-Kaap, waar die fynbosberge ook afgebrand het. Dit het goeie afloopwater na die opvangsdamme tot gevolg gehad.”

Hy glo dat baie min tydens ‘n beheerde brand verkeerd kan gaan. “Behalwe vir bosbou wat ‘n moontlike bedreiging kan inhou, brand die natuurlike bosse in ons omgewing nie wanneer die fynbos brand nie. Dit is eintlik ‘n baie veilige tipe beheerde brand, wat deur die natuur self beheer word en wat help om volhoubare waterbronne te verseker.” – Carin Venter, AgriOrbit

Vir meer inligting, kontak gerus die
Gamtoos-besproeiingsraad by 042 007 0382 of info@gamtooswater.co.za,
of Noëlle le Roux by 082 554 1670, of Marius Kleyn by 082 490 0912.

rivieroewer