Estimated reading time: 7 minutes
- Die Braford se gewildheid as ’n vleisbees in Suid-Afrika het toegeneem.
- Die Braford, wat ontstaan het deur die beste eienskappe van die Brahman en Hereford te kruis, is ’n veelsydige veld- en voerkraalkeuse.
- Die SA Braford gebruik die moderne Breedplan-prestasietoetsstelsel.
- Die Braford is ook baie goed gevestig in die Suid-Afrikaanse bulmark.
- Dit is uit plaaslike beeste geteel en is streng wetenskaplik korrek geteel om 60% Hereford en 40% Brahman-genetika te hê.
Die Braford se gewildheid as ’n vleisbees in Suid-Afrika het toegeneem en dit word beskou as een van die land se hoë-gehalte vleisbeesrasse. Jan Meaker, president van die SA Braford-beestelersgenootskap, sê onlangse studies toon dat die vleisgehalte van die ras met die allerbeste vergelyk kan word. Dit is ’n hoogs vrugbare en uitstekende ras waarmee volhoubaar in enige omgewing geboer kan word.
Hy sê die Braford, wat ontstaan het deur die beste eienskappe van die Brahman en Hereford te kruis, is sonder twyfel ’n veelsydige veld- en voerkraalkeuse. Dit is een van vele sintetiese rasse wêreldwyd, en is oorspronklik in 1946 in Australië ontwikkel.
Plaaslike rasontwikkeling
Jan, ’n Braford-teler in die Warden-gebied, sê die eerste kruisteling van die Braford in Suid-Afrika is in 1975 gedoen, waarna die genootskap op 30 Mei 1997 as ’n ontwikkelende ras by SA Stamboek geregistreer is. Die Braford is aanvanklik onafhanklik deur Flip de Jager van Ladysmith in KwaZulu-Natal, en Naudé Bremer van Rosendal in die Vrystaat ontwikkel.
Albei het geregistreerde Hereford- en Brahman-diere in hul teelprogramme gebruik. In die 1980’s het John Park en Jan se pa, Johan Meaker, saam met Walter Thiele en Wessel Wessels ook aan die vroeë ontwikkeling van die ras deelgeneem. Jan sê die genootskap het sedertdien van krag tot krag gegaan en bestaan tans uit 32 geregistreerde telers. Dit is ook die sewende lid van die Wêreld Braford-konfederasie wat Australië, Amerika, Argentinië, Uruguay, Brasilië en Paraguay insluit.
Flip de Jager se seuns, Theuns van Nooitgedacht Brafords, en Carl, eienaar van Z4T Brafords in Ladysmith, bou verder op die stewige grondslag wat hul pa in die ras se ontwikkeling gelê het. Theuns sê dat hulle voortgaan met die keuring en streng seleksie van hul kuddes. Hulle fokus op die oorspronklike doelwitte, naamlik om ’n ras te vestig wat met hoë vrugbaarheid, goeie karkaseienskappe, vroeë rypheid, uitsonderlike moedereienskappe en uitstekende genetika uitblink.
Geografiese verspreiding
Jan meen die wenkombinasie van Hereford- en Brahman-gene maak die Braford ’n uiters aanpasbare ras wat kan reproduseer en in verskillende omgewingstoestande floreer – van uiterste hitte en koue tot nat en droë omgewings. “Die ras is relatief sterk in KwaZulu-Natal, die Oos-Vrystaat en Mpumalanga. Daar is ook stoettelers in ander provinsies, maar die genootskap glo daar is steeds baie ruimte vir nuwe lede om die ras te bevorder en suksesvol te boer, aangesien daar ’n groot vraag na vroulike diere is weens hul hoë vrugbaarheid.”
Dr Chris-Botha Laubscher en sy broer, Rudolph, van die RCT-boerdery, boer in die Boshoff-distrik langs die Noord-Kaap. Chris-Botha sê die meeste telers in hierdie deel van die land is nog in ’n kuddeboufase. Die RCT-kudde is van regoor die land aangekoop, het goed aangepas en vaar sonder moeite uitstekend op natuurlike weiding reg deur die jaar. Hy glo die westelike gedeelte van Suid-Afrika het baie potensiaal vir uitbreiding.
Stoetteling-kenmerke
Jan sê die SA Braford gebruik die moderne Breedplan-prestasietoetsstelsel wat tans in die meeste prominente beesproduserende lande gebruik word. Braford-telers volg ’n gebalanseerde seleksiebenadering. Aspekte soos vrugbaarheid, groei, karkasgehalte en die funksionele doeltreffendheid van elke dier word gemeet.
Vrugbaarheid word as die belangrikste kenmerk vir seleksie beskou. Klem word gelê op die teel van mediumraam vleisbeeste wat hul natuurlike reproduksie in ekstensiewe toestande kan volhou – van droë, woestynagtige gebiede tot meer tropiese dele van die land. Veral vrugbaarheid is ’n belangrike eienskap omdat dit ’n belangrike bepalende faktor van winsgewendheid en boerderysukses is.
Navorsing het getoon dat diere met ’n medium raam dikwels vrugbaarder is as grootraamdiere, veral onder uitdagende produksie-omstandighede, soos tydens droogte of voerverlies. Klem word gelê op funksionele doeltreffendheid. Telers selekteer vir fenotipiese eienskappe, soos die diere se rooi kleur en wit gesigte, en geen pienk oë word toegelaat nie. Oogpigmentasie en goed-ontwikkelde oogbanke word gemonitor. ’n Gladde huid sonder krullerige hare is ’n kenmerk wat behou moet word, sê hy.
Nog eienskappe wat uitstaan
Jan sê die genootskap is juis streng op fenotipiese voorkoms, veral in terme van kleur, en het daarin geslaag om dit vir meer as 40 jaar te handhaaf. Hulle is trots op die eenvormigheid van die land se Braford-kudde. Eienskappe soos bouvorm, sterk loopvermoë, goeie skedes en testikels – wat die diere se vrugbaarheid aandui – word beklemtoon.
Goeie vleiseienskappe is belangrik vir voerkrale wat groot genoeg karkasse moet produseer met ’n uitstekende voeromsetverhouding. Diere moet ’n goeie temperament hê sodat hulle maklik in die krale hanteer kan word. Daar word gelet op die ras se vroegryp-eienskappe. Verse bereik puberteit op ’n vroeë ouderdom, terwyl osse op natuurlike weiding, of met die nodige voeding, vinniger afgerond word.
Jan sê die Braford vaar goed by alle kommersiële produsente wat Braford-bulle gebruik. “Dié beeste het ’n sterk erfdwang en maak dadelik ’n impak op ’n kommersiële produsent se kudde. By ons koop jy ’n baie goeie bul teen ’n goeie prys, wat ’n reuse-impak op jou kommersiële kudde gaan hê.” Braford-telers wil graag die kommersiële produsent help om uitstekende genetika teen ’n bekostigbare prys te verkry.
Koeie en kalwing
Hy sê die Braford is ’n uitstekende keuse vir produsente wat op soek is na ’n bees met goeie kalwingsgemak, robuuste maternale eienskappe, en goeie speengewigte. Die ras bied ’n balans tussen die Hereford se gewigstoename en die Brahman se robuustheid, wat dit ’n veelsydige en gewilde ras maak vir die produksie van beesvleis. Brafords is veral bekend vir hul uitstekende kalwingsgemak.
“Klein kalwers word gebore en minimale probleme ontstaan tydens kalftyd. Speengewigte is baie afhanklik van die koeie se gewig, en ons streef na ’n koei/kalf-verhouding van 50% by speen, met ’n volwasse koeigewig van 460 tot 500kg by speen.” Dit beteken dat die gemiddelde speengewig tussen 230 en 250kg is. Die Braford se uitstekende voeromsetverhouding dra tot goeie kalfgroei by, beide op die veld en in die voerkraal.
Maternale eienskappe is van die ras se sterkste punte. Eienskappe wat uitstaan, sluit in:
- Goeie moedereienskappe stel die moeder in staat om gesonde kalwers groot te maak en goed te voed.
- Die Brahman-gene in die Braford bied die vermoë om onder moeilike omgewingstoestande te oorleef. Koeie en verse kan langer oorleef as moeders wat meer sensitief is vir omgewingsfaktore, wat tot die produksie van gesonde kalwers bydra.
- Brafords het goeie melkproduksie, wat die kalwers in staat stel om vinniger te groei.
Johan de Jager, raadslid en mede-eienaar van Bonheur Brafords by Bethal in Mpumalanga, glo dié ras het beslis ’n blink toekoms. As speenkalfprodusent is dit vir Johan, wat saam met sy skoonpa, Gert van der Merwe, boer belangrik dat koeie elke jaar kalf. ’n Koei wat elke jaar ’n kalf grootmaak, is vir hom beter as een wat elke tweede jaar ’n bogemiddelde kalf grootmaak.
Posisie in die bulmark
Volgens Jan is die Braford ook baie goed gevestig in die Suid-Afrikaanse bulmark, veral vir produsente wat op soek is na beeste wat vinnig groei, goeie vleis lewer, en by plaaslike omgewingsomstandighede aanpas. Die Braford-bul se robuustheid, goeie kalwingsgemak, melkproduksie en kruisteeleienskappe maak dit ’n waardevolle speler in die bulmark.
Johan stem saam oor bekostigbaarheid, veral ten opsigte van gehalte bulle wat beskikbaar is teen ’n billike prys. Hy doen Fase C-bulgroeitoetse by ’n toetsstasie en Fase D-bulgroeitoetse op die veld. Sommige van sy bulle het ’n voeromset van onder 5kg met ’n gemiddelde daaglikse toename (GDT) van bo 2kg.
Ingevoerde en plaaslike genetika
Jan meen die SA Braford is uit plaaslike beeste geteel en is streng wetenskaplik korrek geteel om 60% Hereford en 40% Brahman-genetika te hê. Dit neem ongeveer 12 jaar om die eerste Braford-koeie in produksie te kry. Sedert die ras aanvanklik in Suid-Afrika geteel is, is baie genetika onder die Braford-telers uitgeruil. Genetika is ook uit Australië en Brasilië ingevoer.
“Ons beeste beskik oor uitstekende genetika en kan enige tyd met die wêreld se beste vergelyk word. Braford-semen word ook ingevoer, en beteken nuwe genetika met eienskappe waarna in spesifieke kuddes gesoek word.” Die plaaslike Braford-ras in Suid-Afrika is nog relatief jonk en daar is al hoe meer belangstelling in die verbetering van die genetika vir spesifieke plaaslike toestande.
Suid-Afrikaanse produsente fokus op seleksie vir eienskappe soos hoër speengewig, goeie kalwingsgemak, en gehardheid teen siektes en klimaatstoestande. Hierdie seleksieprogramme maak dit vir Suid-Afrikaanse Brafords moontlik om ’n bietjie van die wêreldwye genetika in te sluit, met die fokus op aanpassing by plaaslike omstandighede. – Christal-Lize Muller, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak Jan Meaker by 079 883 9760, Theuns de Jager by 072 909 1861, dr Chris-Botha Laubscher by 082 414 4284 en Johan de Jager by 060 966 3693.





