Goeie gehalte hooi word aan ’n paar eienskappe geken. Dit moet eerstens ’n mooi, groen kleur hê. Geel of bruin hooi dui op swak gehalte weens te laat sny, reën of muf. Gehalte hooi moet blaarryk wees en min stingels hê. Dit het nie noodwendig ’n kenmerkende reuk nie, maar ’n muf of suur reuk sal diere afskrik.
Chemiese ontledings kan gedoen word om die gehalte van die hooi te bepaal. Die voedingswaarde van verskillende gehalte hooi word in Tabel 1 aangedui. Onthou dat diere se inname verminder indien grashooi se proteïen laer as 6 tot 8% daal. Gevolglik sal hulle gewig verloor.
Geskikte hooigewasse
Veldgrasse wat nie vir weiding aangewend word nie, word gebruik om hooi te maak. Dit sluit gewoonlik rooigras, witbuffelsgras en van die natuurlike Eragrostis-spesies in. Dekgras, terpentyngras en ander onsmaaklike veldgrasse moet liefs vermy word.
Lusern word beskou as die koning van hooigewasse, aangesien die gehalte daarvan met goeie hooimaakpraktyke baie hoog kan wees. Die enigste probleem met lusern is dat die blare verlore gaan wanneer dit te lank ongebaal lê of te veel hanteer word.
Geskikte grasse vir hooimaak sluit in oulandsgras en tef in die hoër reënvaldele, en bloubuffelsgras in die droër dele. Smutsvinger-, witbuffels-, Rhodes- en selfs borseltjiegras in warm, sanderige dele, word ook gereeld vir hooimaak aangewend. Daar is ook spesifieke kultivars vir hooiproduksie, soos American Leafy en PUK 436 (oulandsgras), Finecut (Rhodesgras) en Molopo (bloubuffelsgras). Die Gayndah-kultivar (bloubuffelsgras) is ook baie smaaklik en word hoofsaaklik vir somerweiding en staandehooi gebruik.
Bemesting van hooilande
Voedingstowwe soos stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K), asook ander mikro- en makro-elemente word voortdurend uit hooilande verwyder, deurdat die hooi gesny en weggeneem word en nie bewei word nie. In weilande word voedingstowwe terug in die grond geplaas deur die mis en urine van die diere, wat nie op hooilande gebeur nie.
Vir dié rede moet die grond jaarliks, volgens grondontledings, bemes word. Die pH moet verkieslik tussen ses en sewe wees. Fosforvlakke moet 12 tot 20mg/kg vir gras en 20 tot 30mg/kg vir lusern en ander peulgewasse wees. Kalium in die grond moet 80 tot 120mg/kg vir grashooi en meer as 150mg/kg vir lusern en ander peulgewasse wees. Die laer syfers geld vir lae reënvaldele en die hoër syfers vir hoër reënvaldele en besproeiingslande.
Dit bly moeilik om die peil van stikstofbemesting vas te stel, want dit hang van grondtipe, reënval en ekonomie af. Tabel 2 bied ’n aanduiding van hoeveel stikstofbemesting in medium tot hoë reënvaldele nodig is. Lusern en ander peulplante produseer gelukkig hul eie stikstof, so dit hoef nie toegedien te word nie.
Die groeistadium
Die belangrikste faktor wat gehalte beïnvloed is om die hooi op die regte stadium te sny. Dikwels word eensydige klem op maksimum produksie gelê (t/ha) deur die hooi later te sny. Dit kan egter tot groot nadeel van gehalte wees, want volwasse plante is stingelrig en laag in voedingswaarde.
In Tabel 3 word voorbeelde gegee van oulands- en Smutsvingergras wat op twee verskillende stadia gesny is. Dit is duidelik dat hooi wat in die volwasse stadium gesny word, ’n laer gehalte het.
Vir beter gehalte moet die hooi gesny word voordat bloeiwyses of saad teenwoordig is – dus so min as moontlik stingels. Indien dit in volle blom of saad is, is daar baie stingels en die gehalte is dan te laag. In die geval van lusern moet ook seker gemaak word dat die blomstadium nie te ver vorder nie. ’n Blomstadium van 10% is ideaal, want dan is die blaar-stingelverhouding optimaal.
Die plante moet ook nie laer as 12cm gesny word nie, anders vind hergroei stadig plaas. In die geval van lusern word sekondêre lote dan vernietig, wat hergroei drasties benadeel.
Die drogingstydperk
Jong, groeiende gras kan soveel as 70 tot 80% vog bevat. Om dit suksesvol te baal, moet dit afdroog na ’n voginhoud van 10 tot 20%. Oulandsgras en tef kan binne een dag voldoende afdroog om gebaal te word. Ander spesies, soos Smutsvinger-, Rhodes- en witbuffelsgras, moet twee tot drie dae in die son lê voor dit gereed is om te baal.
Hooi wat te lank aan sonlig blootgestel is, verbleik en verloor sekere voedingstowwe. Dit is dus raadsaam om gewasse wat stadig uitdroog met ’n snymasjien wat ’n kneuser het, te sny. Probeer om in een dag soveel hooi te sny as wat op dieselfde dag of binne twee dae gebaal kan word.
Hou die weervoorspellings dop, want reën gedurende die drogingstydperk hou ook groot probleme vir hooimaak in.
Werktuie vir hooimaak
Daar is verskeie werktuie wat hooiproduksie vergemaklik. Snymasjiene is sekerlik die belangrikste en daar is verskillende soorte beskikbaar, naamlik swaailemsnyers, balksnyers, skyf- of tolsnyers en snymasjiene met kneusers.
’n Snyer met ’n kneuser is noodsaaklik as daar vinnig gebaal moet word of indien plante met ’n hoë voginhoud, soos voersorghum of lusern, gesny word. Die swaailemsnyer is ’n veeldoelige masjien wat die hooi tot ’n mate ook opkerf, wat beide voor- en nadelig kan wees.
Hooiharke is volgende op die lys en hier is die skuinshark met draaiwiele die mees algemene tipe. Dit werk baie doeltreffend om hooi in windrye te plaas, maar is nie juis geskik om die hooi oop te sprei nie.
Hooiklitsers word nie oral gebruik nie, maar is baie nuttig om hooi wat in windrye lê, uit te sprei om meer lug deur te laat en uitdroging te versnel. Wanneer dit droog is, kan die hooiklitser die hooi weer in windrye hark vir die baalproses.
Hooiklitsers is dalk duur, maar hulle is doeltreffend om hoëgehalte hooi te produseer. Dikwels sny produsente hul hooi te laat, juis om dit vinniger te kan baal. Met die hooiklitser kan vroeggesnyde hooi gereeld omgedraai en deurlug word en dus gouer gebaal word. Voeg hierby ’n snyer met ’n kneuser en goeie gehalte hooi kan gouer in die stoor beland.
Omdat dit ’n gespesialiseerde werktuig is, kan balers soms ’n kopseer raak. Die tradisionele vierkantige baler word steeds gereeld gebruik, veral deur produsente wat die bale onderdak wil berg, want vierkantige bale is makliker om te hanteer.
Die rondebaler raak wel meer gewild. Dit werk vinnig en die bale hoef nie noodwendig onderdak te wees nie. ’n Voordeel van die rondebaler is dat die kompaksie van die hooi verstel kan word. Indien die kompaksie laag is, kan lug deur die hooi beweeg en droging bevorder. Die hooibale kan ook met ’n baalomslagmasjien (wrapper) in plastiek toegerol word, sodat kuilvoer van die natter hooi gemaak kan word.
Berging van hooi
Hooiproduksie is ’n duur proses en dit maak die stoor van hooi onder dak die aangewese praktyk. Hooi wat buite gestoor word, ondergaan gehalteverlies. Om skade te beperk en verrotting te voorkom, moet die hooi nie direk op die grond gepak word nie, maar eerder op pale. Ronde bale moet verkieslik op hul sye in ’n piramiede gestapel word. ’n Bedekking soos seil oor die bale, sal skade bekamp. Lees meer oor berging hier. – Prof Chris Dannhauser, weidingskonsultant
Vir meer inligting, stuur ’n epos aan prof Chris Dannhauser by chriswei@vodamail.co.za.