Estimated reading time: 5 minutes
- Ongeveer 70 000 uit sowat 75 000 restitusie-eise wat ingedien is, is afgehandel en grondeienaars is markverwante of naby-aan-markverwante vergoeding betaal.
- Regverdige en billike vergoeding is ongelukkig verkeerdelik identifiseer as die struikelblok.
- Hierdie wette het misluk.
- Na hierdie mislukte pogings is gepoog om die bewoording van Artikel 25 van die Grondwet te wysig met die doel om dit wat na bewering implisiet in die Grondwet bedoel word, eksplisiet te maak.
- Die beslissing lui dat die krisis veroorsaak is deur die institusionele onvermoë van die departement om uitvoering te gee aan die Grondwet en toepaslike wette.
Artikels 25(2) en 25(3) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996), soos dit tans daar uitsien, is sedert 1996 geldig en dus deur die howe geïnterpreteer. Die bewoording en interpretasie van die Grondwet bly die oppergesag waaraan alle, en selfs nuwe wetgewing en die toepassing daarvan, in die toekoms gemeet sal word.
Ongeveer 70 000 uit sowat 75 000 restitusie-eise wat ingedien is, is afgehandel en grondeienaars is markverwante of naby-aan-markverwante vergoeding betaal. Markverwante vergoeding het ook die basis gevorm van verskeie hofuitsprake oor regverdige vergoeding ingevolge die Grondwet.
Waar grondeisers nie ‘n herstel van eienaarskap van grond ontvang het nie, is die historiese markwaarde van grond gebruik as die basis om regverdige en billike vergoeding te bereken en betaal. Die Wet op die Herstel van Grondregte, 1994 (Wet 22 van 1994) verwys steeds eksplisiet na Artikels 25(2) en 25(3) van die Grondwet om te bepaal wat regverdige vergoeding aan eisers behoort te wees. Die ‘onreg’ wat met grondeise herstel of reggestel word, is juis waar minder redelike billike (markwaarde) vergoeding betaal is in omstandighede waar persone in die verlede op grond van rassewetgewing of praktyke van grondregte ontneem is.
Lees meer oor as jy die reg in eie hande neem.
Die staatsdepartement-dilemma
Regverdige en billike vergoeding is ongelukkig verkeerdelik identifiseer as die struikelblok en oorsaak van mislukte grondhervorming in Suid-Afrika. Sedert 2014 word met wetgewende ingrype gepoog om mislukte grondhervorming op te los en weg te beweeg van markverwante vergoeding, sonder dat gefokus is op die bestuursprobleme in staatsdepartemente.
In 2014 en kort voor die algemene verkiesing is die Wysigingswet op die Herstel van Grondregte, 2014 (Wet 15 van 2014) (die Wysigingswet) in werking gestel om die indieningsdatum van eise na 30 Junie 2019 te verleng. In dieselfde jaar is die Wet op Eiendomswaardasies, 2014 (Wet 17 van 2014) in werking gestel en in 2018 is regulasies kragtens die betrokke wet afgekondig. Daarin is die basis van vergoeding by die koop van privaatgrond vir grondhervorming drasties verander. Baie nuwe eise is ingedien, waarna die staat die regulasies ingevolge die Wet op Eiendomswaardasies op alle grondhervormingstransaksies toegepas het.
Hierdie wette het misluk. Die Wysigingswet is deur die Grondwetlike Hof ongrondwetlik verklaar. Boonop het die Grondeisehof van Suid-Afrika (nou die Grondhof) die formules vir die berekening van regverdige en billike vergoeding ingevolge die regulasies van die Wet op Eiendomswaardasies, onder ernstige verdenking geplaas toe die staat se kundige getuies nie die wetenskaplikheid daarvan kon bewys nie.
Na hierdie mislukte pogings is gepoog om die bewoording van Artikel 25 van die Grondwet te wysig met die doel om dit wat na bewering implisiet in die Grondwet bedoel word, eksplisiet te maak. Dit het verwys na veroorlowing van onteiening sonder dat enige vergoeding betaal word. Ook hierdie poging het nie geslaag nie, want daar was nie genoeg steun vir die wysiging van die Grondwet in die nasionale wetgewer om ’n twee-derde meerderheid te behaal nie.
Ondanks al die mislukkings, is die nuwe Onteieningswetsontwerp op 28 September 2022 aanvaar en onlangs deur president Cyril Ramaphosa onderteken. Die doel is, ooglopend, om, met die Onteieningswet en sonder om die Grondwet te wysig, die howe te probeer dwing om af te wyk van die historiese toepassing en interpretasie van Artikels 25(2) en 25(3) van die Grondwet.
Sal in howe getoets word
Die nuwe Onteieningswet gaan nie net aan die hand van die bewoording van Artikels 25(2) en 25(3) van die Grondwet getoets word nie, maar ook aan die hand van die historiese toepassing en interpretasie daarvan in die praktyk en deur die howe.
In Mvelase vs Director-General of Rural Development and Land Reform 2019 (6) SA 597 het die Grondhof die vraag laat ontstaan of diegene wat vir die mislukking van grondhervorming verantwoordelik was, gaan pa staan daarvoor. Die hof het beslis dat die departement die konstitusionele sekerheid en toekoms van alle landsburgers, nie net die regte van grondeisers nie, in gedrang gebring het. Suid-Afrikaners, lui die beslissing, wag al vir meer as 25 jaar op billike grondhervorming, sommige al vir eeue.
Die departement se versuim om grondhervormingsmaatreëls prakties te bestuur en te bespoedig op grond van konstitusionele en statutêre ondernemings, het ‘n uiters negatiewe impak op die grondhervormingsdebat in die land. Die beslissing lui dat dit nie die Grondwet, howe of landswette is wat foutief is of te kort skiet nie, maar dat die krisis veroorsaak is deur die institusionele onvermoë van die departement om uitvoering te gee aan die Grondwet en toepaslike wette. Dit is onverstaanbaar waarom die rekening van hierdie mislukking deur middel van onteiening van privaateiendom sonder vergoeding vereffen moet word. – Hans-Jurie Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf
Vir meer inligting, stuur ‘n epos aan die outeur by hj@mmlaw.co.za of skakel 018 297 8799 (Potchefstroom) of 033 032 0241 (Pietermaritzburg).