Buffelpad gladder, maar nog opdraand

147
buffel buffels
Buffels bly die trekpleister wat oorsese trofeejagters na Suid-Afrika lok, maar die bedryf is onder druk weens die hoë produksie en bemarkingskoste.

Estimated reading time: 7 minutes

  • ’n Private, onafhanklike buffelmaatskappy is gestig om die sertifisering van buffelplase en die toets van diere wat verskuif moet word, meer vaartbelyn te maak.
  • Dr Richard Burroughs, ’n privaatveearts, sê die vooruitsigte en optimale werking van die Suid-Afrikaanse buffelbedryf wissel van provinsie tot provinsie.
  • The Buffalo Company (TBC), onder leiding van Motsumi Darts, is gestig om dit makliker te maak vir privaatveeartse om onder die mandaat van die Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming (DALRRD) te werk as gemagtigde veeartse om staatsfunksies uit te voer ten opsigte van buffelverskuiwing en -toetsing.
  • Buffels bly weliswaar die groot trekpleister wat trofeejagters na Suid-Afrika lok en buffeltelers na wildveilings aantrek, maar die feit is dat die winsgewendheid van buffelboerdery onder toenemende druk is.
  • Buffelpryse het weliswaar met 22% gestyg teenoor 2022 se pryse. Dit is die eerste opwaartse tendens sedert 2016. Pryse wissel egter van week tot week.

’n Private, onafhanklike buffelmaatskappy is gestig om die sertifisering van buffelplase en die toets van diere wat verskuif moet word, meer vaartbelyn te maak. ’n Bekende wildprodusent en veilingskenner meen egter die produksie- en bemarkingskoste van buffels is ’n groter kopseer as stelsels wat dalk nie altyd doeltreffend werk nie.

Buffels met beperkings

Dr Richard Burroughs, ’n privaatveearts, sê die vooruitsigte en optimale werking van die Suid-Afrikaanse buffelbedryf wissel van provinsie tot provinsie. Die meeste wildsplase waarop buffels aangehou word, is in Limpopo geleë. Dit is ook die provinsie met die meeste beperkings ten opsigte van veeartsenykundige ondersteuning.

Staatsveeartse mag net 2 000km per maand met hul amptelike voertuie ry. Dieregesondheidstegnici, wat dikwels die ruggraat van veeartsenykundige ondersteuning vorm, doen aan munisipale bestuurders verslag.

Die Limpopo-provinsie het hul landboukundige werksaamhede in streke verdeel en wild, veral buffels, vorm nie deel van dié struktuur nie. Die meeste van die provinsie se landboubegroting word aan gewasverbouing toegedeel.

Oorwerkte amptenare, ondoeltreffende stelsels en die gebrek aan die nodige vermoëns, lei tot vertragings in die registrasie van buffelplase en selfs ‘n onvermoë van staatsveeartse of hul verteenwoordigers om, soos vereis word, die toetsing van buffels by te woon. Dit frustreer buffelprodusente, privaat- en selfs staatsveeartse in die provinsie.

’n Oplossing vir die probleem

In ’n poging om dié uitdaging op te los, is ’n onafhanklike privaatmaatskappy, The Buffalo Company (TBC), onder leiding van Motsumi Darts gestig om dit makliker te maak vir privaatveeartse om onder die mandaat van die Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming (DALRRD) te werk as gemagtigde veeartse om staatsfunksies uit te voer ten opsigte van buffelverskuiwing en -toetsing.

Belanghebbendes in die maatskappy sluit verteenwoordigers van Wildbedryf SA (WRSA), die wildlewe-groep van die SA Veeartsenykundige Vereniging en DALRRD in.

Die TBC het ’n voorlegging aan die Departement gedoen oor hoe die stelsel wat deur die maatskappy bestuur sal word, gaan werk. Die voorstel is deur die direkteur van dieregesondheid aanvaar en na die tegniese komitee van die professionele indiensnemingsorganisasie van veeartsenykundige dienste verwys.

Lees meer oor hoe om driegasheerbosluise te bekamp.

‘n Gidsprojek in Limpopo

Dr Burroughs sê finale skriftelike goedkeuring van DALRRD word verwag, nadat insette van die departement se provinsiale direkteure ontvang is. Goedkeuring is egter aan The Buffalo Company verleen om dié gemagtigde veeartsenykundige konsep as ’n gidsprojek in die Limpopo-provinsie van stapel te stuur.

Een van die vereistes van die toegewing is dat die aanbied van ’n volgehoue beroepsontwikkelingskursus verpligtend sal wees. Die inhoud van die kursus is deur DALRRD goedgekeur en amptelike volgehoue beroepsontwikkelingstatus is deur die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad aan die kursus verleen.

Besonderhede oor siektes wat ter sprake is en toetstegnieke van laboratoriums sal voorsien word om te verseker dat alle privaatveeartse wat die kursus bywoon, deur erkende spesialiste in die korrekte prosedures opgelei word.

Nadat Limpopo se Veeartsenykundige Dienste genooi is om van sy veeartse te stuur om die kursus by te woon, het 18 staatsveeartse en dieregesondheidstegnici daarvoor opgedaag.

Die elektroniese stelsel

’n Deel van die proses om privaatveeartse te bemagtig, is om hulle te registreer en in die werking van ’n elektroniese stelsel wat deur WRSA behartig word, op te lei. Hierdie elektroniese stelsel is reeds deur Limpopo se regering goedgekeur en word al in sekere streke deur van die staatsveeartse geïmplementeer. Elke staats- en privaatveearts wat die kursus bygewoon het, is op die WRSA-portaal geregistreer.

Die elektroniese registrasiestelsel is deur al die kursusgangers verwelkom, aangesien dit doeltreffende diens en ’n afname in die werkslas meebring.

Die proses om veeartse te bemagtig sal in stadiums aangepak word. Die bemagtiging van privaatveeartse sal die eerste fase uitmaak. Makliker ontvangs van monsters by die spesifieke laboratoriums tesame met die gebruik van ’n webgebaseerde naspeurproses, is reeds met die betrokke laboratoriums bespreek. Die laboratoriums is gretig om die stelsels te vestig.

Afgesien van plaasregistrasies, sal volledige rekords van die diere wat getoets is op die elektroniese platform se databasis gestoor word. Dit het die potensiaal om epidemiologiese toetsresultate te voorsien wat vorentoe uiters noodsaaklik vir die nasionale kudde sal wees.

Vinnige en doeltreffende proses

Die gidsprojek sal privaatveeartse dus toelaat om namens die staatsveeartse in Limpopo te werk, terwyl hulle onderling met die staatsveeartskantore en die provinsiale direkteur sal saamwerk. Die verwagting is dat die doeltreffendheid van die registrasie van buffelplase, die toetsing van buffels in die veld en monsterneming sal verbeter, asook dat die uitreik van permitte om buffels binne die provinsie en oor provinsiale grense te kan verskuif, bespoedig sal word.

Dr Johan du Toit van AWA-wildveilings en wildvangdienste by Vaalwater, sê die verwydering van enige beperkende struikelblokke sal die bedryf stimuleer en groter bestendigheid in die bemarking van produkte meebring. Hy is self ’n wildprodusent en sy veilingshuis verkoop waarskynlik die meeste buffels in die land. Daarom is hy opgewonde oor enige positiewe ontwikkelings.

Hy glo egter dat produksie- en bemarkingskoste die buffelbedryf se grootste probleem is – dit maak hom bekommerd oor die toekoms van wildprodusente wat swaar op buffelverkope steun.

Leer meer oor goeie biosekuriteitpraktyke vir die plaas.

Ekonomiese besluite

Buffels bly weliswaar die groot trekpleister wat trofeejagters na Suid-Afrika lok en buffeltelers na wildveilings aantrek, maar die feit is dat die winsgewendheid van buffelboerdery onder toenemende druk is.

In sy ondervinding sal dit sowat R8 000 tot R10 000 kos om ’n buffel se bloed te trek en te toets. Dit maak nie meer sin om buffelkoeie op ’n veiling vir R20 000 te verkoop nie.

Uitstekende teelmateriaal en bulle met horings wat trofeejagters opgewonde maak, behaal nog uitstekende pryse, maar nie alle diere wat in wildprodusente se buffeltroppe loop voldoen aan dié vereistes nie. Dit kos egter dieselfde om hulle groot te maak en aan te hou tot hulle bemarkbaar is.

Dit is eenvoudig net nie meer lonend om buffels in teelkampe aan te hou en te voer nie. Daarom loop baie produsente se buffels op die oop plaas waar die aanteel laer is en hulle groot volumes gras verorber wat meer doeltreffend met meer winsgewende spesies benut kan word.

Ontleding van veilings

In ’n ontleding van die pryse wat vir wild op veilings betaal word, sê dr Du Toit dat daar ’n ooraanbod van veral buffelkoeie is. Dit word na sy mening veroorsaak deur talle produsente wat hul buffelkoeie minder maak, omdat dit net nie meer vir hulle ’n winsgewende belegging is nie.

Buffelpryse het weliswaar met 22% gestyg teenoor 2022 se pryse. Dit is die eerste opwaartse tendens sedert 2016. Pryse wissel egter van week tot week. Buffelkoeie van soortgelyke genetiese gehalte kan van een veiling tot die volgende met soveel as 50% verskil. Vanjaar sal die meeste buffels ooit waarskynlik op veilings aangebied word. Dr du Toit sê AWA gaan sowat 300 bulle te koop aanbied.

Hoewel die neiging nog nie posgevat het nie, glo hy dit is vir ’n buffelprodusent meer lonend om die swakste gedeelte van sy buffelkoeie te laat jag vir vleis, as wat dit is om hulle veilings toe te vat, want dan steek hy die R20 000 in sy sak en hoef hy nie vir die duur vang- en toetskoste te betaal nie.

Hy meen iets moet aan die kostestruktuur gedoen word. Hoekom kan net ’n persentasie van die kudde nie getoets word en die hele trop siektevry verklaar word nie? As ’n trop siektevry is, behoort dit so te bly totdat daar rede is om die diere weer te toets.

Die buffel gryp jagters se verbeelding aan en dit sal jammer wees as produksie- en bemarkingskoste die bedryf moet pootjie, sluit hy af. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir navrae, kontak dr Richard Burroughs by 082 568 5896 of richardburroughs31@gmail.com, of dr Johan du Toit by 082 416 8888 of johan.dutoit@awla.co.za.