Estimated reading time: 6 minutes
- Hoender is tans die mees bekostigbare bron van proteïen vir Suid-Afrikaanse lae-inkomste verbruikers en gevolglik is verbruikers sensitief vir prysveranderinge.
- Suid-Afrika se pluimveewaardeketting verkeer onder geweldige druk weens die uiters hoë grondstofkoste vir mielies en soja.
- Braaikuikenboerdery is een van die mees inset-intensiewe boerderye wat bestaan. Hierdie insette sluit onder andere voer, behuising, verhitting, elektrisiteit en versekering in.
- In Astral se onlangse finansiële verslag het braaikuikenvoerpryse as gevolg van hoër grondstofkoste, met 11,6% gestyg teenoor die vorige jaar.
- Volgens Chris Schutte, hoofuitvoerende beampte van Astral, is die verwagting dat marktoestande sal versleg met langdurige beurtkrag en die algemene verval van munisipale infrastruktuur wat steeds bedryfsdoeltreffendheid negatief sal beïnvloed.
Hoender is tans die mees bekostigbare bron van proteïen vir Suid-Afrikaanse lae-inkomste verbruikers en gevolglik is verbruikers sensitief vir prysveranderinge. Aan die ander kant van die muntstuk werk produsente op baie klein winsmarges as gevolg van hoë insetkoste en handelstoestande wat onder druk bly weens rekord-hoë werkloosheidsvlakke en swak ekonomiese groei. Ander faktore en toestande sluit in rekord-hoë Safex-mielie- en sojameelpryse, kostes verbonde aan beurtkrag, munisipale infrastruktuur-ineenstorting en watertoevoeronderbrekings.
Suid-Afrika se pluimveewaardeketting verkeer onder geweldige druk weens die uiters hoë grondstofkoste vir mielies en soja, wat die voerkomponent uitmaak, wat op sy beurt 70% van die produksiekoste van ’n hoender uitmaak, sê Izaak Breitenbach van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa).
“Beurtkrag is ’n faktor wat nou beduidend in die produksieproses raak, en veroorsaak dat abattoirs nie die vereiste hoeveelheid hoenders per dag kan slag nie. Die gevolg is dat hoenders op die plaas voer verbruik tot nadeel van die winsgewendheid van die bedryf.
“Dit veroorsaak ’n tekort aan die voorkeur klein hoenders in die mark, terwyl ons te veel hoenders op die plaas het. Dit, sowel as kragopwekkers, kos die bedryf ongeveer 75c per kilogram vleis geproduseer.”
Volgens Chris van Niekerk, eienaar van Worldwide Group, is die gemiddelde braaikuikenboer se dieselrekening, afhangend van die vlak van beurtkrag, tussen R50 000 en R200 000 per maand. “Hierdie koste moet verhaal word uit die wins van produsente wat reeds ’n lae marge handhaaf.”
Kyk Plaas TV se insetsel oor die pluimveebedryf.
Voerpryse die oorwegende faktor
Braaikuikenboerdery is een van die mees inset-intensiewe boerderye wat bestaan. Hierdie insette sluit onder andere voer, behuising, verhitting, elektrisiteit en versekering in.
Ondanks rekord Suid-Afrikaanse graan- en oliesaadoeste is kommoditeitspryse op hoër as normale vlakke. Dit is as gevolg van die wêreldwye graan- en oliesaadwaardekettingvraagdruk wat aangedryf word deur globale vraag na en aanbod van kommoditeite.
In Astral se onlangse finansiële verslag het braaikuikenvoerpryse as gevolg van hoër grondstofkoste, met 11,6% gestyg teenoor die vorige jaar. Voerkoste bly die sleutelaandrywer van winsgewendheid wat ongeveer 70% van die lewende koste van ’n braaikuiken verteenwoordig.
Die inkomste uit sy voerafdeling het met 20,7% tot R10 miljard (in 2021 was dit R8,3 miljard) toegeneem as ’n direkte gevolg van hoër verkooppryse weens die styging in grondstofkoste. Safex-geelmieliepryse het tot gemiddeld R4 112 per ton vir die verslagjaar gestyg (2021: R3 371 per ton). Dit verteenwoordig R740 per ton op ’n jaargrondslag. Sojameelpryse het ook van ’n gemiddeld van R8 216 per ton in 2021 tot R9 629 per ton in 2022 gestyg; dus R1 413 per ton op ’n jaargrondslag, wat die styging in die voerprys verder vererger.
Insetkoste onder die vergrootglas
In Tabel 1 word die gemiddelde insetkoste en die faktore wat dit beïnvloed, uiteengesit. Die syfers verskil van produsent tot produsent en is onderhewig aan heelwat veranderlikes. Uit hierdie data is dit duidelik dat voer verreweg die grootste deel van ’n braaihoenderprodusent se insette verteenwoordig en daarom sal marges onderhewig wees aan beweging in voerpryse.
Elektrisiteit, wat slegs ongeveer 2,2% van ’n hoenderhuis se insetkoste verteenwoordig, is ook onderhewig aan die fases van beurtkrag en kan ’n beduidende impak op produsentemarges hê.
Klik hier om meer oor voerpryse te lees.
Tabel 1: Gemiddelde insetkoste by ’n braaikuikenboerdery. (Bron: Worldwide Group)
Hoenders per huis: 37 332 | Hoenders | ||||
Item | %-toekenning | Koste per huis | R/kg | R/hoender | |
Voer | 66,43% | 66,43% | R769 092,39 | R12,63 | R20,60 |
Dagoud-kuikens | 25,05% | 91,48% | R289 970,74 | R4,76 | R7,77 |
Verhitting | 0,85% | 92,32% | R9 812,50 | R0,16 | R0,26 |
Arbeid | 1,91% | 94,23% | R22 116,86 | R0,36 | R0,59 |
Kuikenbeddegoed | 0,45% | 94,68% | R5 175,00 | R0,08 | R0,14 |
Medikasie | 0,02% | 94,70% | R184,12 | R0,00 | R0,01 |
Onderhoud | 0,43% | 95,13% | R5 000,00 | R0,08 | R0,13 |
Skoonmaak | 1,44% | 96,57% | R16 715,26 | R0,27 | R0,45 |
Vang | 0,64% | 97,22% | R7 466,40 | R0,12 | R0,20 |
Ander | 0,21% | 97,42% | R2 375,57 | R0,04 | R0,06 |
Elektrisiteit | 2,25% | 99,67% | R26 063,68 | R0,43 | R0,70 |
Versekering | 0,33% | 100% | R3 776,56 | R0,06 | R0,10 |
Totale koste | 100% | 100% | R1 157 749,09 | R19,01 | R31,01 |
Tabel 2: Tipiese omset vir ’n gemiddelde hoenderhuis in Suid-Afrika. (Bron: Worldwide Group)
Groeiparameters | Uitslagresultate | |
Per hoender | Per huis | |
Hoenders per huis | 37 332 | 37 332 |
Plasingsdigtheid | 22,23 hoenders/m2 | |
Totale mortaliteit | 4,55% | |
Hoenders geslag | 35 642 | |
Lewende gewig | 1,709kg | 60 912,18kg |
Voeromsetverhouding | 1,365:1 | 83 145,12kg voer |
Voerinname per hoender per siklus | 2 332,8g | |
Dagoudkuikenkoste | R7,77 | R289 900,72 |
Vaste groeiermarge | R1,60/kg | R97 459,48 |
Siklus | 29,59 dae |
Die jongste data van die Worldwide Group wys dat produsente ongeveer R20,44 per kilogram ontvang. Dit maak die marge baie klein, op ongeveer R1,43. Ekonomie van skaal is dus die deurslaggewende faktor by ’n suksesvolle hoenderboerdery.
Volgens Chris Schutte, hoofuitvoerende beampte van Astral, is die verwagting dat marktoestande sal versleg met langdurige beurtkrag en die algemene verval van munisipale infrastruktuur wat steeds bedryfsdoeltreffendheid negatief sal beïnvloed. Die groep was genoodsaak om talle kapitaalprojekte aan te pak, waaronder dieselkragopwekkers en bykomende waterberging by hul fasiliteite.
“Gevolglik word dit duurder om pluimvee in Suid-Afrika te produseer, wat die bedryf verder op die agtervoet plaas in reeds moeilike tye waarin ons rekordhoë insetkoste vir beide voer- en energiebronne sien,” meen Schutte.
Impak op groot produsente
“Ongelukkig, as ’n direkte gevolg, het pluimveepryse as ’n voorkeurproteïenbron hoër as algemene inflasie gestyg. Die ondergang van ’n aantal staatsbeheerde entiteite wat verantwoordelik is vir die verskaffing van noodsaaklike dienste en die instandhouding van algemene infrastruktuur, beïnvloed sakesentiment en herbeleggingsbesluite vir groei wat plaaslike voedselsekerheid in die toekoms direk bedreig.”
Klik hier om meer oor die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf se stryd teen storting te lees.
Is vrylopend die antwoord?
Met hierdie kwessies en inligting in gedagte kan die vraag ontstaan: Is ’n vrylopende hoenderstelsel dan nie die opsie nie?
Volgens Van Niekerk kan vrylopende hoenders tot 25% meer kos benodig om goed te produseer. Daar is ook faktore soos ’n langer groeiperiode voor hierdie hoenders markgereed is, hoër dieregesondheidsonkoste en groter spasie wat benodig word.
“Hierdie hoër onkoste moet in die prys verhaal word en aangesien die meerderheid van Suid-Afrika se bevolking ’n lae-inkomstegroep is en op goedkoper proteïenbronne soos hoender staatmaak, sal dit nie ’n uitweg wees om die bevolking te voed nie,” meen Van Niekerk. – Elmarie Helberg, Veeplaas
Vir meer inligting en verwysings, kontak Elmarie Helberg by 073 339 2920 of elmarie@plaasmedia.co.za.
