Saturday, September 14, 2024
HomeGeneral agriculturePalmer amarant en weerstand: ’n Bose kombinasie

Palmer amarant en weerstand: ’n Bose kombinasie

-

Estimated reading time: 4 minutes

  • ’n Amerikaanse variant van die bekende misbredie kan plaaslike voedselproduksie geweldig benadeel.
  • Palmer amarant (Amaranthus palmeri) is ’n onkruid wat saaiboere hoofbrekens besorg omdat sy samestelling en weerstand teen onkruiddoders die beheer daarvan uiters moeilik maak.
  • Afgesien van die feit dat Palmer amarant soos die spreekwoordelike onkruid vermenigvuldig en versprei, lê die groot gevaar daarin dat hierdie misbredie bewese weerstand teen meer onkruiddoders as enige ander onkruid toon.
  • Wat chemiese beheer betref, is voorkomende optrede uiters belangrik en is die regte kombinasies van voor- en na-opkoms-onkruiddoders dus onontbeerlik.
  • Die Amerikaanse Onkruidwetenskapvereniging het Amaranthus palmeri in 2017 aangewys as die land se mees problematiese onkruid vanweë sy vermoë om weerstand teen onkruiddoders op te bou en aangesien dit so moeilik is om te beheer en uit te roei.

’n Amerikaanse variant van die bekende misbredie kan plaaslike voedselproduksie geweldig benadeel. Ingrid Boshoff, tegniese onkruiddoderkenner by Syngenta Suid-Afrika, verduidelik hoe Palmer amarant, ook bekend as Palmer-misbredie, met vroeë, vinnige en effektiewe optrede suksesvol beheer en uitgeroei kan word.

Palmer amarant (Amaranthus palmeri) is ’n onkruid wat saaiboere hoofbrekens besorg omdat sy samestelling en weerstand teen onkruiddoders die beheer daarvan uiters moeilik maak. Met die verskyning van Palmer amarant, wat die eerste keer in 2018 in Suid-Afrika geïdentifiseer is, moet alles moontlik gedoen word om die voortgesette en winsgewende produksie van breëblaargewasse soos sonneblom, aartappels, sojabone, droëbone, grondbone, katoen en lusern te verseker. Alhoewel misbredie die moeilikste beheerbaar in breëblaargewasse is, kan dit net so ’n groot probleem in ander rygewasse soos mielies word.

Vind uit hoe om hierdie plant uit te ken.

Palmer amarant is ’n aggressiewe kompeteerder wat vinnig groei en hoogs effektief voortplant. Die onkruid is tweeslagtig met aparte manlike en vroulike plante. Onder gunstige groeitoestande is ’n groeitempo van tot 6cm per dag moontlik en kan ’n enkele vroulike plant tot 600 000 piepklein saadjies wat maklik versprei, produseer. Die onkruid kan vegetatief voortplant deur hergroei uit stamme wat in landerye agterbly.

Die gevaar van Palmer amarant

Afgesien van die feit dat Palmer amarant soos die spreekwoordelike onkruid vermenigvuldig en versprei, lê die groot gevaar daarin dat hierdie misbredie bewese weerstand teen meer onkruiddoders as enige ander onkruid toon. Dit beteken dat daar beperkte chemiese opsies is om hierdie vernietigende onkruid mee te beveg.

Weerstand is die inherente vermoë van ’n plant om te oorleef en voort te plant nadat dit blootgestel is aan ’n dosis onkruiddoder wat gewoonlik dodelik sal wees. Elke onkruidpopulasie het sulke individue; die doelwit is om te keer dat hulle die oorhand kry. Dit word hoofsaaklik bereik deur korrekte toedieningspraktyke wat bewerking, weerstoestande en die regte produk teen die regte onkruid op die regte tyd insluit. Oneffektiewe toediening is olie op die vuur vir plante se natuurlike weerstand.

Amaranthus palmeri se weerstand teen nege van die 17 chemieklasse is reeds wêreldwyd bevestig. In Suid-Afrika is weerstand teen groepe 2 en 9 reeds aangemeld, asook verlaagde effektiwiteit van ’n handvol ander aktiewe bestanddele. In die plaaslike konteks is glifosaatweerstandigheid die grootste bekommernis, maar dit beteken nie dat produsente hulpeloos is nie.

Beheer van Palmer amarant

’n Holistiese en geïntegreerde benadering is die antwoord. Só ’n program moet die ontsmetting van alle implemente, toerusting, klere en skoene insluit. Alles moet op een sentrale plek gewas word sodat die afloopwater opgevang en die reste nadat die water verdamp het, verbrand kan word. Indien landerye reeds besmet is, moet ’n diep bewerking gedoen word waarna die plante uit die landerye verwyder en verbrand moet word om hergroei te keer. Produsente moet alle Amaranthus-spesies in en om hulle landerye beheer om kruisbestuiwing met Amaranthus palmeri te voorkom. Dit is verder noodsaaklik om te voorkom dat die onkruid saad skiet en die sade ontkiem.

Wat chemiese beheer betref, is voorkomende optrede uiters belangrik en is die regte kombinasies van voor- en na-opkoms-onkruiddoders dus onontbeerlik. In dié verband hou die Suid-Afrikaanse Inisiatief vir Onkruiddoderweerstand (SAHRI) verwikkelinge op die Palmer amarant front fyn dop. DNA-analises van populasies in verskillende dele van die land word gedoen, terwyl weerstandprofiele van ander saamgestel word. Kundiges monitor verder die impak wat verskillende onkruiddoderformulerings op populasies het. 

Blaarstele van Palmer amarant

Die Amerikaanse Onkruidwetenskapvereniging het Amaranthus palmeri in 2017 aangewys as die land se mees problematiese onkruid vanweë sy vermoë om weerstand teen onkruiddoders op te bou en aangesien dit so moeilik is om te beheer en uit te roei. Ten spyte hiervan is dit egter moontlik om hierdie pes te beheer en selfs uit te roei deur ’n omvattende strategie te volg wat die korrekte onkruiddoders en toedieningspraktyke insluit. – Press release, Syngenta

Must Read

Extensive research conducted on disease resistance

Every year animal diseases lead to millions of rand worth of production losses. Since control is becoming increasingly more expensive and challenging, scientists are...