HomeAgri NewsGenomiese toetse bied voordele vir Boran-telers

Genomiese toetse bied voordele vir Boran-telers

-

Estimated reading time: 3 minutes

Die Boran-ras het drie oorspronge, naamlik Bos Indicus (uit die Indus-vallei in Pakistan, gedomestikeer 4 000vC), Europese Bos Taurus (uit Oos-Europa, gedomestikeer 6 000vC) en Afrika-Bos Taurus (uit Oos-Afrika, gedomestikeer 8 000vC).

Moderne Boran-beeste se oorsprong as suiwer ras strek 1 300 jaar terug na die Borana-plato in suid-Ethiopië. Die unieke oorsprong sorg dat Boran-beeste saamgestel is uit gemiddeld 24% Europese Bos Taurus, 12% Afrika Bos Taurus (Sanga) en 64% Bos Indicus (Zebu).

Die Boran-beestelersgenootskap van Suid-Afrika het aktief deelgeneem aan die Genomiese Program vir Vleisbeeste (Beef Genomics Programme of BGP) wat in 2015 van stapel gestuur is. Onder die vaandel van die projekte wat SA Stamboek saamgestel het, is net minder as 500 geskikte, geneties-invloedryke Boran-beeste gegenotipeer om die basis te vorm van’n toekomstige genomiese verwysingspopulasie.

Na afhandeling van die BGP het die genootskap steeds belê in die uitbreiding van die genomiese verwysingspopulasie. Nougesette navolging van die wetenskaplike voorskrifte van SA Stamboek se veekundige genetici, het daartoe bygedra dat hierdie droom nou verwesenlik is.

Lees meer Boran SA se 20ste bestaansjaarvieringe.

Genetiese kode en waarde

Die toepassing van hierdie moderne tegnologie skop eers af met die genotipering van diverse, invloedryke teeldiere waarvan die genetiese meriete bekend is. Dit sluit dus relatief onverwante kuddebulle en koeie met groot getalle gemete en aangetekende nageslag in. Die verband tussen die genetiese kode en die diere se waarde as teeldiere word dus op dié manier bepaal en wedersyds gebruik om voortaan akkurate voorspellings te maak vir jonger diere wat oorweeg word as teeldiere vir toekomstige geslagte.

As voorloper in die plaaslike toepassing van moderne tegnologie in die voorspelling van die genetiese meriete van plaasdiere, kon SA Stamboek reeds teen 2018 genomiese inligting gebruik vir hierdie doel toe die eerste genomiese teelwaardes vrygestel is. Met die aanvang van hierdie eerste genomiese teelwaardes pas SA Stamboek die metodologie van enkelstap genomic best linear unbiased prediction (gBLUP) toe.

SA Stamboek en sy telersgenootskappe se belegging in plaaslike hulpbronne, en veral die uitbreiding van die vermoë van hulle eie wetenskaplikes en infrastruktuur plaas Suid-Afrikaanse telers en die bedryf op dieselfde vlak as van die bestes ter wêreld.

Tans is daar reeds telers van ses vleisbeesrasse, drie melkrasse en een skaapras wat teelwaardes, gegrond op die enkelstap gBLUP ontvang. Die grootste voordeel van die voorspellings is dat seleksie van jong diere en diere sonder metings of waar metings nie moontlik is nie (soos eienskappe wat slegs op een geslag gemeet kan word) baie meer akkuraat is.

Enkelstap gBLUP-tegnologie

Met die bekendstelling van teelwaarde-voorspellings gegrond op die enkelstap gBLUP-tegnologie word die Boran-ras nou die tiende SA Stamboek-beesras om hierdie era te betree. Dit sluit aan by die omvattende doelwitstelling en -toepassing wat deurlopend in samewerking met SA Stamboek se wetenskaplikes plaasvind. Die fokus is op die Boran as doeltreffende “moederkoei” van Afrika en waar uitsette in terme van hektaar gemeet word.

Deurlopende genomiese toetse van potensiële teeldiere bied ook nuwe ander voordele vir Boran-telers en ander vleisbeestelers. Dit is die gevolg van voortdurende navorsing en ontwikkeling van SA Stamboek se wetenskaplikes en die insluiting van ander inligting en genetiese merkers op die paneel van enkelnukleotied polimofisme (SNP) wat gebruik word wanneer diere genomies getoets word.

Lees meer oor die Boran se vleisgehalte.

SA Stamboek se dienste ontsluit ook inligting oor merkers van enkelgene van onder andere verskillende genetiese afwykings en ernstige genetiese siektes, poenskopgene, dubbelbespiering en vleissagtheid. Genomiese inligting word ook aangewend om die werklike verwantskappe en genetiese afstande tussen individuele diere, lyne binne ’n ras en tussen rasse akkuraat te bepaal. Hierdie inligting, insluitend geenfrekwensies, vorm ook nou deel van SA Stamboek se omvattende ras-analises (bekend as popreps of population reports) en uitgebreide nuwe veilingskatalogusse. – Persverklaring, SA Stamboek

Must Read

Van boeredae tot kuilvoerkompetisies – Plaas TV dek dit alles

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se...