Estimated reading time: 7 minutes
Terwyl oorgrenshandel en die vervoer van lewende hawe en dierlike produkte op verskeie vlakke problematies bly, beleef die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Nasionaal se uitvoerende raad heelwat positiewe momentum met betrekking tot verskeie wetgewing en protokolle wat tans aandag geniet op regeringsvlak.
Dit was die algemene indruk tydens ‘n uitgebreide uitvoerende raadsvergadering van die RPO en uitgenooide gaste verlede week in Pretoria.
Positiewe samewerking
Wannie Schribante, ondervoorsitter van TLU SA, het gesê hoewel dit op die oomblik swaar met produsente gaan, beleef dié organisasie ‘n oop deur by die nuwe minister van landbou, soos hulle in jare nie ervaar het nie.
Johann Kotzé, hoofuitvoerende beampte van Agri SA, het gesê die positiewe samewerking wat produsente beleef strek egter veel verder as slegs die minister. Hoewel amptenare en produsente se samewerking ‘n hoogtepunt beleef, meen Kotzé dat die landbou op hierdie oomblik nie die kans moet laat verbyglip om te benadruk hoe belangrik landbou vir voedselsekerheid is nie.
Kotzé sê dit word onderstreep deur die feit dat 68 miljoen van Zambië en Zimbabwe se inwoners tans voedsel-onseker is as gevolg van droogtetoestande.
“Ons (landbou) dra net 3% tot die bruto-binnelandse produk by, so ons is weglaatbaar klein. Die feit dat ons werk skep vir 940 000 mense is wonderlik, maar dit maak ons nie essensieel nie. Voedselsekerheid – dít is wat ons essensieel maak,” het hy gesê en bygevoeg dat dit is waarom Suid-Afrika se landbou van belang is. “Dit maak ons ook belangrik vir ons buurlande, want hulle kan nie sonder die Suid-Afrikaanse landbou oorleef nie.”
Roofdier-kopsere
Dr Frikkie Maré, HUB van die RPO Nasionaal, het terugvoer gegee oor Predasiebestuur SA (PMSA) se jongste vergadering, waarvan hy as vise-voorsitter aangewys is. Tydens die vergadering is dit duidelik gemaak dat die PMSA sy funksies moet uitbrei en dat die hulp van tersiêre instansies hiervoor nodig is.
“Die Universiteit van die Vrystaat se predasiebestuurseenheid is genader en ‘n eerste vergadering is met hulle gehou. Daar word ook kontak gemaak met ander instansies wat predasienavorsing doen, soos die Nasionale Museum in Bloemfontein en die Nelson Mandela-universiteit,” het dr Maré gesê en bygevoeg dat die inligting wat Niel Viljoen oor jare vir die PMSA ingesamel het, ook nou deur hierdie instansies verwerk en wetenskaplik gepubliseer kan word.
Roofdiere wat tans die meeste skade aanrig bly jakkalse, gevolg deur rooikatte. In kommunale gebiede is honde egter ook ‘n groot uitdaging. “En luiperds is besig om ‘n al hoe groter uitdaging in die Oos- en Noord-Kaap te word.”
Ratels, wat lammers se bekke afvreet, is ook ‘n probleem. ’n Bedreigde dier wat ook probleme gee is erdvarke. “Hulle gate word so diep gegrou dat ‘n kalf daarin kan verdwyn en glad nie sigbaar is nie.”
Verder is vlakvarke ook ‘n groot probleem. “Daar is bewyse van waar vlakvarke letterlik lammers vang. Op die oomblik word oorweging gegee of vlakvarke nie op groot skaal beheer kan word nie.”
Dieregesondheid bekyk
Die nakoming van wetgewing rondom die verskuiwing van diere was ‘n lewendige besprekingspunt. Brent McNamara, RPO Oos-Kaap se bestuurder, het kommer uitgespreek dat geen veilingsfasiliteit sedert die uitbreek van bek-en klouseer (BEK) in die Oos-Kaap, suksesvol geoudit is nie.
Roelof van Wyk, die Landbouproduk-agenteraad (APAC) se interne regskenner, het gereageer deur te sê dat APAC ‘n memorandum van verstandhouding met die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (Samic) gesluit het om die spesifieke oudits by veilingskrale te doen. “Ons hoop om sodoende biosekuriteit te verseker.”
Persone moet egter vir Samic kontak om só ‘n oudit van stapel te stuur. ‘n Fasiliteit word slegs geoudit indien die fasiliteit dit self sou verkies. Dit is nie Samic se rol om alle fasiliteite van ‘n kant af te oudit nie.
Danie de Villiers, visevoorsitter van die RPO Noordwes, het op sy beurt kommer uitgespreek oor die feit dat feitlik niemand, in sy ondervinding, gesondheidsverklarings by veilings indien nie. “Ek en my seun was byvoorbeeld die enigstes wat tydens ons laaste veiling in Noordwes dokumentasie ingedien het.”
Volgens De Villiers laat dit twyfel of APAC die nodige tande het om mense, wat nie aan wette voldoen nie, te vervolg. Van Wyk het gesê die Departement van Landbou was in die proses om die Wet op Landbouagente te hersien, juis om APAC se mandaat te vergroot en bevoegdhede te verseker sodat hulle teen oortreders kan optree.
Volgens Marzanne Roets, die Nasionale Dieregesondheisforum se nasionale koördineerder, bly biosekuriteit uiters belangrik om die verspreiding van dieresiektes te bekamp. Buiten die voortgesette probleem van BEK, is Afrika-perdesiekte steeds ‘n wesenlike probleem en gevalle van longontsteking, anaplasmose en Asiatiese rooiwater is ook in die meerderheid van Suid-Afrika se provinsies gevind.
Angus Williamson, voorsitter van die RPO KwaZulu-Natal, het gesê dit is ook kommerwekkend dat daar nie meer gepraat word oor brusellose, oftewel besmetlike misgeboorte, nie. “Te veel produsente verkoop teelmateriaal sonder dat daardie diere vir brusellose getoets is. In my opinie is moet brusellose meer kommer wek as BEK,” het hy gesê en genoem dat 29 kuddes in sy omgewing onlangs positief getoets het vir dié siekte.
Lewendehawe-uitvoere
McNamara het verwys na die uitvoer van lewendige vee wat baie teenkanting van die publiek kry, en klem gelê op die feit dat hierdie mark van onskatbare waarde vir die Suid-Afrikaanse veebedryf is. Die grootste uitvoerder van lewende hawe het verlede jaar met ‘n enkele verskeping bykans R179 miljoen spandeer. Die samestelling van hierdie koste word in Tabel 1 aangedui.
Beskrywing | Koste (R) |
Lewende hawe en verskepinkoste | 156 000 000 |
Veevoer (op die skeep) | 11 000 000 |
Voerkraal voer tydens kwarantyntydperk | 8 200 000 |
Hawekoste | 3 100 000 |
Totaal | 178 300 000 |
“Hierdie verskepingsbesigheid het planne om voortaan só ‘n vrag vier keer per jaar te verskeep,” het hy gesê. Hoewel hulle ook karkasse uitvoer, is daar ‘n groot mark vir lewende hawe in die Midde-Ooste en dié inkomste hieruit hou groot voordeel vir die Suid-Afrikaanse bedryf in.
Suid-Afrika verskeep ook nie net lewende hawe na die Midde-Ooste nie. Verlede jaar is sewentien vragte B-graad bulle na Mauritius verskeep. Elke bootvrag het tussen 650 en 700 diere vervoer.
McNamara sê die diere word ook baie goed op hierdie maatskappy se skepe hanteer en mortaliteite is minder as 1% van al die diere wat gelaai is, en dit na drie weke op die skip. Met verwysing na mediaberigte, het hy gesê: “Onthou – afhangende waar ek my kamera rig, is ek seker dat ek op elke plaas in hierdie land ‘n hygende dier sal kry. Of ‘n dier wat nie goed lyk nie.”
Die Midde-Ooste se jaarlikse vraag na lewendige skape is tans agt miljoen diere per jaar. “Of ons daarvan hou of nie, hulle het ‘n behoefte aan lewendige diere. Dis ‘n kulturele voorvereiste en dit gaan nie verander nie.”
Verskeie ander projekte is ook tydens die vergadering bespreek en talle rolspelers het verslag gelewer oor vordering. Hou Veeplaas dop vir indiepte artikels oor ‘n paar van hierdie projekte en die vordering wat gemaak word. – Susan Marais, Plaas Media