Thursday, September 12, 2024

20 jaar se betowering vir die SA Boran-beestelersgenootskap

Estimated reading time: 4 minutes

Die Boran-beestelersgenootskap van Suid-Afrika het onlangs sy 20ste bestaansjaar in styl by die Afridome in Parys, Vrystaat, gevier. Tydens ’n spoggeleentheid is sekere Boran-telers asook pionierslede, wat diep spore getrap het ten opsigte van die vestiging en ontwikkeling van die ras in Suid-Afrika, vir hul bydrae vereer. Die genootskap se nuwe raad is ook bekendgestel. Hierdie bestaansjaarvieringe is Saterdag op ’n hoë noot met die nasionale Boran-veiling afgesluit.

Lees meer oor die Boran-ras.

Uitdagings is oorkom

Volgens Francois Smit, president van dié genootskap se raad, was dit ’n lang pad met talle uitdagings vir die genootskap wat op 17 Mei 2003 in Ficksburg in die Vrystaat deur ’n paar Boran-telers gestig is. Volgens hom was toegang tot genetika een van die uitdagings, omdat dit vanaf Kenia slegs deur middel van embrio’s in Suid-Afrika ingebring kon word. Smit glo hierdie uitdaging het egter daartoe gelei dat produsente inisiatief aan die dag kon lê.

Diegene wat bereid was om van nuwe tegnologie soos in vitro-bevrugting (IVF) en embriospoelings gebruik te maak, kon hulself oor tyd goed in die bedryf vestig. Dít het daartoe bygedra dat daar tans sowat 40 000 Boran-beeste met topgenetika in Suid-Afrika is, terwyl die genootskap met bykans 300 lede spog.

Lees meer oor die genootskap se Oos-Kaapse besoek.

Toewyding tot kuddeverbetering

Verskeie Boran-telers wat uitblink in terme van kuddeverbetering is tydens ’n dinee vir hul harde werk en toewyding vereer. Die Douglas en Tim Ralfe-trofee vir rasbevordering het aan Hendy Mathews (snr) gegaan. Mpho Munyai van Vhanyai Borane by Magaliesburg in Noordwes is as die Unistel/SA Stamboek Elite ontwikkelende stoetteler vir 2023 aangewys.

Theo van Zyl van Ladybrand in die Vrystaat se Faurzyl Boran-stoet het die mees vrugbare kudde (meer as 25 koeie) opgelewer. Dié kudde het ’n gemiddelde tussenkalfperiode (TKP) van 381 dae oor 66 koeie getoon. Stephen Johnson van Frontier Borane by Fort Beaufort in die Oos-Kaap se kudde het die beste TKP-vordering (meer as 25 koeie) opgelewer en het ’n verbetering van 21 dae getoon.

Die Simon Hodgson-trofee vir ’n klein stoet (25 tot 49 koeie) het aan Brandon Brooks van Brooks Borane in Polokwane, met ’n algehele punt van 134,1, gegaan. Sy stoet het 100% behaal met koei-kalf weging, speengewig, na-speen weging, en Fase-D en -C deelname. Die Dave Green-toekenning vir ’n medium stoet (50 tot 99 koeie) het aan Zippo Lamprecht van Bloodline Borane by Dewetsdorp in die Vrystaat gegaan. Sy kudde het ’n algehele punt van 123,9 en ’n 100% geboorteweging en koei-kalf weging by speen behaal. Met ’n algehele punt van 120,8 het Quentin en Marisa de Bruyn van Vastrap Borane by Ladybrand in die Vrystaat die Jacques Moll senior-toekenning (100 en meer koeie) ontvang. Hul kudde het ’n 99% weging van koei-kalf by geboorte behaal, terwyl die meeste Fase D-bulle vir die jaar getoets is.

Goeie pryse vir topgehalte diere

Smit, wat ook die eienaar van Fonteine Borane by Derby in Noordwes is, sê beide kopers en verkopers kan baie tevrede wees met die pryse wat op die nasionale veiling behaal is. Die veiling is deur Vleissentraal in samewerking met Meerkat-aanlynveilings aangebied. Die afslaer was Johan van der Nest (onafhanklike afslaer).

Smit sê topgehalte diere is aangebied en hy is trots op die feit dat sy bul, Arthur (JT 16-198), die hoogste prys van R1,5 miljoen behaal het. Die koper was Cherokee Borane by Badplaas in Mpumalanga. Hierdie bewese stoetbul is geteel uit ’n kombinasie van uitstaande, beproefde moeder- en vaarlyne wat in sy stoetery gebruik word.

Veilingsgemiddelde

Altesaam 18 bulle is aangebied, waarvan 14 teen ’n gemiddeld van R287,714 verkoop is. Daar is 27 koeie met ’n kalf aangebied waarvan 24 teen ’n gemiddeld van R95,62 verkoop is. Van die 25 dragtige koeie is 19 teen ’n gemiddelde prys van R110,26 verkoop, en al sewe dragtige koeie met ’n kalf (3-in-1) wat aangebied is, is teen ’n gemiddelde prys van R70,714 verkoop. Altesaam 32 dragtige verse van die 32 wat aangebied is, is teen ’n gemiddeld van R86,718 verkoop. Die hoogste prys vir ’n dragtige vers was R450 000.

Die Boran-beestelersgenootskap se nuwe raad is Francois Smit (president), Marthinus Botha (raadslid: organisering, strukturering en lidmaatskap), Pieter Genis (raadslid: finansies), Gideon Botha (vise-president), Johan Henning (raadslid: produksie, opname, genomika en Stamboek-skakeling) en Gerrit Potgieter (raadslid: bemarking en klubs.)

Vir meer inligting besoek die Boran-beestelersgenootskap se webtuiste of skakel 051 410 0951. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Die Sybokhaarbemagtigingstrust: Ekonomiese vordering deur inklusiwiteit en diversiteit

Estimated reading time: 5 minutes Die Sybokhaarbemagtigingstrust funksioneer onder die sambreel van Sybokhaar Suid-Afrika en...

Cover crop mixes: Composition and species for summer

Estimated reading time: 7 minutes Soil health is a key objective when designing a cover...

Prickly pears as a grazing crop

Estimated reading time: 8 minutes The first prickly pears arrived in South Africa shortly after...

’n Belegging in prestasietoetsing verseker volhoubare kuddeverbetering

Estimated reading time: 4 minutes Diere se prestasie word bepaal deur hul genetiese samestelling sowel...