Tuesday, December 16, 2025

Boereverklaring bied landboustem op wêreldverhoog

Estimated reading time: 4 minutes

Die Boereverklaring, wat voortvloei uit die G20-boeredialoog, sal gereed wees vir voorlegging tydens die G20-beraad vir staats- en regeringshoofde in Johannesburg op 22 November. Dié dialoog, wat in September by die Universiteit van Stellenbosch plaasgevind het, het plaaslike en internasionale  deelnemers byeengebring om te verseker dat boere se stem in wêreldwye beleidsdebatte gehoor word.

Volgens dr Theo de Jager, voorsitter van die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), wat die dialoog aangebied het, word die finale dokument tans opgestel en sal dit gereed wees vir voorlegging by die beraad.

Standpunte ingeneem

Dr de Jager, ook die voormalige president van die Wêreldprodusente-organisasie (WFO) en tans voorsitter van sy Beleidskomitee vir Wetenskap en Innovasie, sê die boeredialoog het op vier kerntemas gefokus. Hierdie temas toon groot ooreenkomste met dié van verlede jaar. Die temas was:

  • Die toekoms van familieboerdery en die bekamping van monopolieë.
  • Digitalisering en veral kunsmatige intelligensie in landbou.
  • Die toekoms van die veebedryf en diereproteïene.
  • En handel en tariewe.

Die insette uit dié dialoog vorm die grondslag van die Boereverklaring en weerspieël die standpunte wat tydens die dialoog ingeneem is. Hy sê tot hul verbasing was fisieke deelname aan die dialoog groter as wat verwag is. “Die Italianers en Duitsers was daar, en die Amerikaners het beide digitaal en in persoon deelgeneem. Daar was ook ’n wetenskaplike afvaardiging van die WFO,” sê hy. Volgens hom is daar vanjaar eenstemmigheid bereik oor die kernkwessies wat tydens die dialoog onder die loep gekom het.

Voorlegging

Volgens dr de Jager is daar reeds wye terugvoer oor die boeredialoog ontvang – selfs van lande buite die G20, veral vanuit Afrika. Die positiewe reaksie is oorweldigend. Hy sê Maleisië het aangedui dat hulle aktief by die proses betrokke wil raak. Die Maleisiërs, wat sterk fokus op organiese boerdery en vrylopende produksie, wil hê dat hierdie temas ’n groter rol in toekomstige debatte speel.

Hy sê dit is gebruiklik dat nasionale regerings versoek word om die Boereverklaring by die G20-staatshoofberaad aan te bied. Nasionale landbou-organisasies bespreek dit gewoonlik met hul regerings vir insluiting in die landbou-afdeling van die beraad. Daar is egter onsekerheid oor die Suid-Afrikaanse regering se betrokkenheid. Hoewel die verklaring aan hulle oorgedra sal word, word daar nie uitsluitlik op hulle gesteun nie. Die minister van landbou, John Steenhuisen, was wel na die boeredialoog genooi, maar kon dit nie bywoon nie. Die Suid-Afrikaanse kabinet is tydens die geleentheid, deur die minister van korrektiewe dienste, dr Pieter Groenewald, verteenwoordig.  

Dr de Jager sê die Boereverklaring sal waarskynlik via die Amerikaanse afvaardiging by die staatshoofberaad ingedien word. Amerika is volgende jaar die gasheer van die G20-boeredialoog. Hulle wil dan voortbou op die bestaande temas en beoog ’n nog sterker landbou-agenda vir die dialoog.

Die toekoms van familieboerderye

Dr de Jager sê daar was eenstemmigheid tydens die boeredialoog oor onder meer die belangrikheid van familieboerderye. Hy waarsku egter dat dit volgehoue inspanning van boere self verg om dié boerderyvorm te beskerm en te bevorder. Regoor die wêreld gebeur dit dat groot boerderye al groter word, terwyl kleiner boere toenemend uitgedruk word. In sekere gebiede, soos die Amerikaanse Midweste, het groot maatskappye reeds tradisionele familieboerderye vervang. Dit is ’n ontwikkeling waarteen weerstand gebied word.  

Daarom moet  regerings beïnvloed word om ’n beleidsomgewing te skep waarin kleiner, mediumgrootte en familieboerderye kan floreer. Daar moet gesorg word vir ’n volhoubare toekoms vir familieboerdery – nie net in Afrika nie, maar wêreldwyd.

Handel en voedselsekuriteit

Hy sê een van die belangrikste insigte uit die boeredialoog, wat ook in die Boereverklaring uitgelig gaan word, is dat voedselsekuriteit nie meer beteken dat elke land al sy voedsel self moet produseer nie. Moderne voedselsekuriteit is grotendeels afhanklik van handel. Lande fokus toenemend op produksie waar hulle ’n kompeterende voordeel het en voer die res in. Hoewel dit doeltreffend is, maak invoertariewe en subsidies die speelveld dikwels ongelyk. Volgens hom is boere dikwels wel kompeterend, maar hulle kan nie meeding teen swaar gesubsidieerde invoere nie.

In reaksie hierop het die dialoog beklemtoon dat boere hulself meer op kortwaardekettings moet rig,  byvoorbeeld deur direk aan plaaslike verbruikers te verkoop. Boeremarkte is ’n goeie voorbeeld hiervan. In Italië is daar in elke dorp ’n boeremark wat aan georganiseerde landbou behoort. Hierdie markte hanteer groot dele van die varsproduktehandel, sowel as sekondêre produkte soos pastas.  In Suid-Afrika is boeremarkte egter nog nie so goed gevestig nie. Die gesprek het dus ook gefokus op samewerking tussen lande om sulke markte te bevorder en ruilhandel tussen boere aan te moedig om produkverskeidenheid op plaaslike vlak te verbreed.

Tydens die dialoog is daar ook teen beleidsrigtings gewaarsku wat voedselproduksie verminder en die uitvoer van dierlike proteïene beperk, ondanks ’n wêreldwye behoefte. Sulke besluite is ideologies gedrewe, nie wetenskaplik nie. Dierlike voedsel is voedsaam, veilig, en volhoubare veeboerdery dra by tot ekologiese balans.

Daar is ook gewaarsku oor die monopolisering van alternatiewe proteïene. Deursigtige etikettering en die beskerming van familieboerderye bly noodsaaklik. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Besoek gerus Saai se webtuiste by www.saai.org vir meer inligting.

Samic: Protector of red meat quality

Estimated reading time: 5 minutes If you thought the South African Meat Industry Company (Samic)...

Elke happie tel: Presisievoeding vir optimale produksie

Estimated reading time: 6 minutes Elke produsent het die behoefte om meer winsgewend en volhoubaar...

Flies and blowflies: A serious threat to cattle health

Estimated reading time: 4 minutes Several fly species negatively affect cattle productivity, including biting flies...

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas...