Estimated reading time: 7 minutes
Bloutong is ’n nie-aansteeklike virussiekte van die Orbivirus-genus en Reoviridae-familie wat herkouers soos skape, beeste, bokke en wild affekteer. Volgens dr Tom Strydom, ’n onafhanklike veeartskonsultant, verwys die naam van die siekte na sianose (blou of pers verkleuring) van die tong. Morbiditeit wissel tussen 2 tot 30% en in uiterste gevalle kan dit tot 70% styg.
Bloutong word deur muggies van die genus Culicoides oorgedra en minder as 20 van die meer as 1 000 Culicoides-spesies dien as doeltreffende vektore. Die verspreiding van bloutong hou verband met die aktiwiteit van hierdie muggies wat tydens warm, nat seisoene toeneem en tydens koue tydperke weer afneem. Faktore soos temperatuur, humiditeit, reënval, windspoed en die teenwoordigheid van moerasagtige gebiede beïnvloed die oorlewing en voortplanting van die vektore, en dus die voorkoms van die siekte.
Verskeie faktore beïnvloed die muggies se oordragvermoë, insluitend temperatuur, ekstrinsieke inkubasietydperk, lewensduur, voedingsfrekwensie en die aantal wyfies wat op diere voed. Daaglikse temperatuurskommelings kan die oordragtempo verhoog.
Verspreiding en variante
Die verspreiding van die siekte word beperk deur die geografiese voorkoms van die insekvektore, veral aangesien hulle die winter kan oorleef.
Tot op hede is 22 van die 28 erkende serotipes van bloutongvirus (BTV) in Suid-Afrika geïdentifiseer, insluitend serotipes BTV-1 tot -20, asook -22 en -24. Serotipes BTV-1 tot -6, -8, -10, -11 en -24 is meer algemeen en word dikwels met ernstige kliniese tekens en hoë patogenisiteit (kapasiteit) geassosieer, wat tot grootskaalse epidemies kan lei.
Ander serotipes soos BTV-9, -12, -13, -16 en -19 is minder algemeen, terwyl BTV-7, -15 en -18 sporadies voorkom. Van al die serotipes word BTV-1 tot -6 en -10 die meeste met kliniese tekens en hoë patogenisiteit geassosieer.
Immuniteit na herstel is serotipespesifiek, aangesien teenliggaampies teen een serotipe nie volledige beskerming teen ’n ander bied nie. Skape wat van bloutong herstel het is daarom slegs immuun teen die spesifieke serotipe waaraan hulle blootgestel was.
Kliniese tekens
Bloutong affekteer verskillende skaaprasse op uiteenlopende wyses. Hoewel inheemse skaaprasse en wildsbokke met die virus besmet kan raak, toon hulle gewoonlik geen kliniese tekens nie. Uitheemse rasse, veral Britse vleisrasse, is meer vatbaar en toon ernstige siektetekens. Kruisrasse soos die Dorper het ’n mate van weerstand en minder vrektes kom onder hulle voor.
Die siekte lei tot aansienlike direkte ekonomiese verliese as gevolg van hoë morbiditeit en mortaliteit, stilgeboortes, aborsies, fetale abnormaliteite, laer geboortegewigte, verminderde melkproduksie en vrugbaarheid, gewigsverlies, verlengde dragtigheid, laer konsepsiesyfers, asook verlies aan vleis- en wolproduksie. Indirekte verliese sluit die koste van jaarlikse inenting, diagnoses, vektorbeheer en behandeling in.
Die inkubasietydperk by skape is twee tot sewe dae en kliniese tekens sluit in koors, bloeding en sere in die mond- en neusslymvlies, en oormatige speeksel- en neusafskeiding, asook swelling van die lippe en tong. Nog tekens behels inflammasie van die kloue se kroonband en mankheid. Swakheid, depressie en gewigsverlies asook erge diarree, braking en longontsteking word ook waargeneem. Die tong kan blou verkleur as gevolg van swak bloedsirkulasie. Aborsies kan by dragtige ooie voorkom. Wolbreek by diere wat herstel, kan tot gedeeltelike of volledige wolverlies lei.
Die voorkoms en erns van siektetekens by beeste hang van die spesifieke virusstam af, terwyl bokke gewoonlik min of geen tekens toon nie. Die virus kan vir ’n onbeperkte tyd in muggies ‘oorwinter’ wanneer muggie-aktiwiteit afneem.
Inenting is ononderhandelbaar
Die doeltreffendste behandeling vir skape met bloutong is goeie versorging. Skei siek diere van die trop en hou hulle in ’n aparte kamp met vars water en skuiling teen die son. Voorsien sagte groenvoer en, indien mondbeserings te pynlik is, hoë-gehalte voerkorrels wat maklik gesluk kan word nadat dit deur speeksel versag is. Oorweeg ’n breëspektrum antibiotikum waar ’n hoë risiko van longontsteking bestaan.
Die enigste doeltreffende manier om bloutong in skape te voorkom is tydige en korrekte inenting voor die aanvang van die bloutongseisoen. Twee entstowwe is in Suid-Afrika geregistreer vir die voorkoming van bloutong: Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) se bloutong-entstof en Design Biologics se Blu-Vax.
OBP bloutong-entstof
Die drie pentavalente (vyfstam) entstowwe bevat verskillende bloutongvirusstamme: bottel A bevat tipes 1, 4, 6, 12 en 14; bottel B bevat tipes 3, 8, 9, 10 en 11; bottel C bevat tipes 2, 5, 7, 13 en 19.
Die entstowwe moet minstens drie weke uitmekaar toegedien word, hoewel ’n tussenpose van vier weke of langer beter studieresultate getoon het, met breër beskerming teen die verskillende serotipes.
Die entstof kan saam met enige dooie entstof toegedien word, maar nié saam met ’n ander lewende virusentstof nie. Inenting van dragtige ooie is slegs ’n probleem met die eerste bloutong-inenting. Indien jong ooie reeds voor dekking die drie afsonderlike entstowwe ontvang het, kan hulle in die volgende jare veilig ingeënt word, selfs tydens dragtigheid. Inenting van ooie gedurende die eerste helfte van dragtigheid word egter nie aanbeveel nie.
Lammers van ingeënte ooie moet op ouderdom ses maande ingeënt word. Indien hulle op ’n vroeër ouderdom ingeënt is, moet die inenting op ses maande herhaal word. Die inenting van alle diere moet jaarliks herhaal word. Inenting van ramme moet twee maande voor en tydens die teelseisoen weerhou word.
Design Biologics Blu-Vax-entstof
Blu-Vax is ’n geïnaktiveerde, polivalente olie-emulsie entstof wat beskerming teen 11 serotipes bied, insluitend serotipes 1, 2, 3, 4, 5, 7, 12, 13, 16, 17 en 24.
Die entstof kan aan lammers van so jonk as sewe dae of aan speenlammers van ooie wat ingeënt is toegedien word. ’n Skraagdosis moet drie tot vier weke later toegedien word. Die entstof is veilig vir dragtige ooie en teelramme, en ’n jaarlikse skraagdosis moet toegedien word.
Bloutong versus BEK
Dit is noodsaaklik dat inenting, ongeag die entstof, tydens die lentemaande geskied (Augustus tot Oktober) om immuniteit teen bloutong te bou voordat muggie-aktiwiteit begin toeneem.
Die vroeë kliniese tekens van bloutong kan maklik met bek-en-klouseer (BEK) verwar word. Bloutong lei tot ontsteekte weefsels, bloeding en edeem, terwyl BEK klein vesikulêre letsels (vloeistofgevulde blase) veroorsaak. Die seisoenale en nie-aansteeklike aard van bloutong en die rol van Culicoides-vektore is belangrike onderskeidingskenmerke. Vesikulêre stomatitis wat hoofsaaklik beeste, varke, perde en selfs mense besmet, moet ook as deel van die differensiële diagnose oorweeg word.
Inenting en behandeling
Dr Johan van Rooyen by die Steynsburg Dierehospitaal stel die volgende inentings- en behandelingsmaatreëls voor:
Inenting
• Die lewende entstof moet omsigtig hanteer word en die korrekte temperatuur moet deurgaans gehandhaaf word. Vermy blootstelling aan die son.
• Hou die gemengde entstof in ’n koelhouer en beskerm die spuit, buis en bottels teen sonblootstelling.
• Gebruik die entstof binne twee uur nadat dit gemeng is.
• Moenie enige ander lewende entstof op dieselfde tyd toedien nie.
• Geïnaktiveerde entstowwe (byvoorbeeld teen bloednier) kan in ’n aparte spuitnaald saam met die bloutong-entstof toegedien word.
• Lammers word op ouderdom 70 dae ingeënt met A, op 91 dae met B en op 112 dae met C. Hulle moet weer op eenjarige ouderdom, voor die volgende somer, met die drie groepe entstof ingeënt word.
• Die entstof moet in die korrekte volgorde toegedien word: eers A, dan B en laastens C.
• ’n Tussenpose van 21 dae tussen inentings is ideaal, maar in ’n noodgeval kan dit tot 14 dae verkort word.
• Skape moet minstens twee keer drie afsonderlike entstowwe ontvang. Daarna kan die drie entstowwe gekombineer word vir die inenting van ramme ná paring en ooie nadat hul lammers gespeen is.
• Die entstof veroorsaak ’n koorsreaksie op die tiende dag en kan tot ’n afname in melkproduksie by ooie lei. Ramme toon verminderde vrugbaarheid as gevolg van die koorsreaksie wat semengehalte vir tot twee maande kan beïnvloed. In baie seldsame gevalle kan onvrugbaarheid permanent wees.
• Die entstof kan skade aan ’n fetus veroorsaak en moet dus nie tydens dragtigheid gebruik word nie.
• Wolbreek kan by sommige diere ná inenting voorkom, veral as diere aan parasiete en wanvoeding blootgestel is.
• Moenie naalde of spuite met chemikalieë ontsmet nie; gebruik slegs stoom of kookwater.
• ’n Nuwe, skoon naald is noodsaaklik, aangesien vuil naalde die entstof kan vernietig.
• Moenie diere met voedingstres, swak kondisie of parasiete inent nie.
• Herinenting word aanbeveel indien diere met haarwurm besmet was.
• Diere met bloutong vrek dikwels aan Pasteurella-longontsteking, daarom sal inenting die oorlewingsyfer verhoog.
• Inenting van volwasse diere behoort nie nodig te wees indien die eerste twee inentings korrek gedoen is en ander gesondheidsmaatreëls in plek is nie.
Behandeling
• Was die dier se mond en neus met ’n sterk soutoplossing.
• Hou siek skape binnenshuis en uit die son, met skoon beddegoed en genoeg ventilasie.
• Behandel dehidrasie met 2ℓ water, ’n teelepel sout en ’n eetlepel suiker. Voer groen, vloeibare groenvoer (smoothie).
• Behandel met ’n antibiotikum wat doeltreffend is teen pasteurellose, byvoorbeeld Advocin, Disulfox, Sulfatrim. Terramisien behoort as ’n laaste uitweg beskou te word.
• Spuit ’n anti-inflammatoriese middel soos Metacam of Ketofen vir pyn, inflammasie of koors, of dien 3-7-10 Disprin in die rektum toe.
• Kyroligo kan help om kondisie te verbeter. – Carin Venter, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Tom Strydom by strydomtom@gmail.com of 083 261 5891, of dr Johan van Rooyen by veearts.sdh@nokwi.co.za of 082 463 3087.