Estimated reading time: 4 minutes
- Die vorige twee herfsseisoene is deur verskeie bloutonguitbrekings gekenmerk.
- Bloutong kan steeds laat in hierdie reënseisoen voorkom indien daar genoeg hitte gaan wees
- Die siekte tas inwendige organe soos die longe aan en dit kan tot sekondêre bakteriële infeksies en longontsteking lei.
- Behandeling is simptomaties.
- Die siekte of die erns daarvan kan slegs deur inenting voor die reënseisoen bestuur word.
Die vorige twee herfsseisoene is deur verskeie bloutonguitbrekings gekenmerk. Vanjaar kom die siekte minder voor omdat die reën laat gekom het. Toe dit begin reën het, het dit in sekere gebiede aanhoudend gereën en die muggiebevolking het nie so toegeneem soos in die vorige twee jaar nie.
Dr Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk, sê bloutong kan steeds laat in hierdie reënseisoen voorkom indien daar genoeg hitte gaan wees vir die muggies om uit te broei en aan te teel, maar die risiko is minder as in vorige jare. Inheemse skaaprasse is minder vatbaar vir bloutong as ingevoerde Europese rasse.
Hy sê Suid-Afrika het voorheen ’n krisis beleef toe genoeg lewende, verswakte entstof nie op kritieke tye beskikbaar was nie. Die entstof is noodsaaklik om immuniteit te vestig, veral in lammers wat ná die ouderdom van ses maande die eerste keer ingeënt word.
Oorgenoeg geïnaktiveerde entstof is wel beskikbaar waarmee volwasse skape baie doeltreffend ingeënt kan word. Onthou om altyd binne drie tot vier weke ’n skraaginenting te gee indien die geïnaktiveerde (dooie) entstof gebruik word. Dit geld vir lammers wat die eerste keer ingeënt word, asook vir volwasse skape.
Die siektetekens
Bloutong is ’n virussiekte wat deur insekte, en meer spesifiek muggies oorgedra word. Dr Hanri Bester-Cloete, staatveearts by die Provinsiale Veterinêre Laboratorium in Bloemfontein, sê die siektetekens is duidelik want die dier se bek en slymvliese word aangetas. Daar is soms sere op die tandvleis en lippe, en die sere kan ook duidelik gesien word op die harde verhemelte. Die skaap het ’n hoë koors en wil nie vreet nie.
Daar word altyd gepoog om hoë koors te breek, maar dit dui daarop dat die dier die virus bestry. Swelling van die kop, tong of lippe kan voorkom. ’n Sigbare rooi lyn op die kloue by die aansluiting van die vel en klou, dui op inflammasie. Dit veroorsaak dat die skaap mank is en nie wil loop nie, en lei tot ’n verlies aan kondisie.
Die siekte tas inwendige organe soos die longe aan en dit kan tot sekondêre bakteriële infeksies en longontsteking lei. Gewoonlik vrek die skape nie, maar is swak en lê vir ’n week of twee. Behandeling hang af van die tipe sorg wat hulle ontvang. Dr Bester-Cloete sê geen primêre behandeling kan die virus doodmaak nie. Die tydsverloop vir die ontwikkeling van beskermende immuniteit is minstens twee weke, waarna die skaap sal herstel omdat sy eie immuniteit verdere virusverdeling sal stopsit.
Behandeling is simptomaties en is daarop gemik om siektetekens te verlig. Ondersteunende behandeling soos antibiotika-inspuitings om bakteriële infeksies te voorkom en anti-inflammatoriese inspuitings vir pyn en inflammasie is die enigste oplossing. Behandelings is op voorskrif van ’n veearts beskikbaar. Saggemaalde voer en vars water is belangrik. Dit is raadsaam om siek diere in die koelte te hou.
Voorsorg voor die reënseisoen
Dr Odendaal sê die siekte of die erns daarvan kan slegs deur inenting voor die reënseisoen bestuur word. Die entstofaanwysings moet behoorlik gevolg word. Bloutong is dekades gelede as ’n krisis vir plaaslike skaapboerderye geïdentifiseer en moet ten alle koste voorkom word. Daarom is die afgelope 50 jaar hard gewerk aan die ontwikkeling en verbetering van ’n entstof om die land se skaapbevolking te beskerm.
Die entstof is een van die mees basiese entstowwe wat gebruik word vir veral vervangingsdiere die eerste keer, maar ook vir volwasse diere. Skaapprodusente moet ook verseker dat inentings en opvolginentings reg en betyds gedoen word, en goeie rekord moet gehou word. Dit is belangrik om ’n plaaslike veearts te raadpleeg, veral by jong skape ná speen.
Hy sê ’n mens moet verstaan dat daar 21 en meer bloutongstamme is. Mense ontdek voortdurend nuwe serotipes, terwyl die lewende entstof slegs 15 stamme in drie fraksies bevat. Elke fraksie bevat vyf verskillende stamme omdat daar nie kruisimmuniteit is nie. ’n Dier ontwikkel immuniteit teen die stam waaraan hy blootgestel is of waarteen hy ingeënt is.
Entstofbeskikbaarheid
Dr Odendaal sê hy was persoonlik betrokke by die aansporing om die geïnaktiveerde entstof in ’n rekordtyd te ontwikkel, sodat genoeg voorraad in die land beskikbaar sal wees indien genoeg lewende entstof nie beskikbaar is nie. Veeartse het nou saamgewerk met die vervaardiger om al die bloutongstamme wat die siekte veroorsaak, oor jare te versamel en in te stuur vir kweking en identifikasie, sodat ’n verbeterde en meer eenvoudige entstof ontwikkel kan word.
Soos met alle geïnaktiveerde entstowwe is dit uiters belangrik dat die eerste inenting stiptelik opgevolg word met ’n skraaginenting. In die geval van bloutong, met soveel stamme waarteen die skaap immuniteit moet opbou, is die skraaginenting in alle gevalle nodig – selfs wanneer die jaarlikse inenting gegee word. – Christal-Lize Muller, Veeplaas
Vir meer inligting kontak dr Danie Odendaal by vnet@absamail.co.za of dr Hanri Bester-Cloete by vetlabbloem@gmail.com.

