Estimated reading time: 3 minutes
Plaas Media bied al sedert 2022 die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek in samewerking met dr Louis du Pisani, aan. Die projek het ten doel om erkenning te gee aan veeprodusente wat klimaatslim boerderypraktyke op hul plase toepas, en word vanjaar vir ‘n vierde keer aangebied. Die vorige wenners is James Faber, Piet Roux en Charl Saunderson – almal welbekende en gesiene veeprodusente in hulle gemeenskappe.
Die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek is gefokus op veeprodusente wat passievol is oor die bewaring van hul omgewing en hulpbronne, en wat uiteindelik bereid is om hul unieke kennis met ander veeprodusente te deel.
Die 2025-beoordelingsproses
Die deelnemers moes ’n vraelys op www.agriorbit.com voltooi wat hul boerderypraktyke vanuit ses hoeke oorweeg, naamlik veldbestuur, kuddebestuur, bestuur van kaal grond, erosie en bosindringing, droogtebestuur, finansiële bestuur, en kennis oor klimaatsverandering. Die deelnemers se antwoorde is op ’n skaal van een tot tien beoordeel, die antwoorde sowel as die puntetellings is oorweeg, en die finaliste is op grond daarvan gekies.
Dr du Pisani sal binne die volgende weke en maande die plase van die finaliste besoek vir kontroleringsdoeleindes en om die deelnemers se klimaatslim boerderypraktyke van nader te beskou.
Na afloop van die plaasbesoeke sal die 2025 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur aangewys word. Nie net is ’n handige kontantprys vir ons wenner beskore nie, maar hy sal ook later vanjaar ’n boeredag op sy plaas aanbied, waartydens hyself en ander kenners kennis en praktyke met ander deelnemers en produsente sal deel. Borge sal ook ’n kans kry om met die deelnemers en produsente te skakel.
Vanjaar se borge
Vanjaar se borge, Nedbank en Zoetis, is toegewy aan klimaatslim-boerdery in Suid-Afrika en ondersteun die projek van die begin af.
Maak seker jy hou die Plaas TV YouTube-kanaal dop vir onderhoude met ons borge.
Ontmoet ons klimaatslim boere
Die projek het vanjaar verskeie inskrywings ontvang van boere wat almal klimaatslim boerderypraktyke op hul plase toepas. Hierdie produsente boer in uiteenlopende omgewings en streke. Die inskrywings is afgewerk na vyf voorlopers, naamlik Willie Storm, Stephan Becker, Dicky Hattingh, Eben Anthonissen, en Stoffel Visagie.
Uit dié vyf is twee finaliste geïdentifiseer. Hulle is, in geen spesifieke volgorde:
- Willie Storm, ‘n veeprodusent van die Olifantshoek-omgewing.
- Stephan Becker, ‘n veeprodusent van Upington.
Baie geluk aan ons finaliste en baie dankie vir die inskrywings wat vanjaar ontvang is. Maak seker jy hou Plaas TV, Plaas Media se YouTube-kanaal, dop vir ‘n terugvoer-onderhoud met dr Du Pisani asook die twee finaliste. ‘n Persverklaring sal uitgereik word sodra die wenner aangewys is en die boeredag se besonderhede gefinaliseer is. – Persverklaring, Plaas Media
Vir meer inligting oor die kompetisie, kontak Deidré Louw by 066 231 2430 of stuur ‘n epos na deidre@plaasmedia.co.za.

