Estimated reading time: 6 minutes
- Nuwe tegnieke is ontwikkel om teeldiere te identifiseer wat die varke van die toekoms kan produseer.
- Die vraag na goeie gehalte varkvleis styg wêreldwyd en wetenskaplike hulpmiddels word aangewend om die vleis nog beter te maak.
- Van die mees algemene metings wat geld is kleur, pH, waterhouvermoë, fermheid en vetmarmering.
- Daar is talle individuele gene wat ‘n invloed op die gehalte van varkvleis het, maar die gene wat dit beduidend beïnvloed is geïdentifiseer.
- As ‘n mens die metaboliese prosesse verstaan, is dit moontlik om varke te teel wat voer beter in vleis kan omskakel.
Nuwe tegnieke is ontwikkel om teeldiere te identifiseer wat die varke van die toekoms kan produseer. Genetiese seleksie op die DNS van varke fokus op hul verwantskappe en potensiaal om nageslag met meerderwaardige genetiese eienskappe te produseer. Een van hierdie tegnieke, wat as metaboliese seleksie bekendstaan, se doelwit is egter om na elke teelvark se totale samestelling te kyk en dit dan saam met genetiese teelwaardes te gebruik.
Die vraag na goeie gehalte varkvleis styg wêreldwyd en wetenskaplike hulpmiddels word aangewend om die vleis nog beter te maak ten opsigte van onder meer kleur, sappigheid en smaaklikheid. Voordat ‘n mens egter al die data vir die seleksie van diere met hoë-gehalte vleis kan gebruik, is dit noodsaaklik om te verstaan watter maatstawwe geld vir varkvleis wat nog beter as die bestaande produk is.
‘n Maatstaf vir gehalte
Dr Pieter Grimbeek, ‘n bekende veearts van Potchefstroom wat al jare by die varkbedryf betrokke is, sê daar is nie ‘n enkele definisie vir hoë-gehalte varkvleis nie. Dit is eerder ‘n kombinasie van die subjektiewe en objektiewe meting van eienskappe.
Van die mees algemene metings wat geld is kleur, pH, waterhouvermoë, fermheid en vetmarmering. Soos wat die bedryf die afgelope dekade al hoe meer kennis oor vleisgehalte opgedoen het, het dit ‘n al hoe belangriker faset van varkvleisproduksie geword.
Die kleur van die vleis word gemeet met ‘n instrument wat die weerkaatsing van lig van die vleisoppervlak meet. Dit word die L-lesing genoem en moet verkieslik ‘n telling van tussen 42 en 46 behaal.
Die suurinhoud van die vleis speel ook ‘n belangrike rol in die gehalte daarvan. Die pH van lewende spierweefsel is van 7 tot 7,2. Nadat die dier geslag is, styg die suurinhoud van die vleis. Die tempo van verandering sowel as die finale suurinhoud van die vleis is belangrik vir vleisgehalte.
Indien die uiteindelike pH van die vleis laer as 5,8 is, kan die vleis bleek en sag wees, en geneig wees om vog te verloor. Dit gebeur as die pH te vinnig en te laag gedaal het. As die pH egter bo 6,1 is, kan die vleis as donker, ferm en droog geklassifiseer word.
Smaaklikheid en verbruik
Waterhouvermoë is veral belangrik wanneer varkvleis verwerk word, terwyl die vetmarmering in die vleis grootliks bydra tot die smaaklikheid en sappigheid daarvan. Dr Grimbeek voeg by dat die smaaklikheid van varkvleis wissel na gelang van die snit en metode van voorbereiding. Dit is egter oor die algemeen bekend vir ‘n ryk, geurige smaak met ‘n effense soet en ryk geur. Snitte met meer vet aan, soos varkrib, het ‘n intenser geur, terwyl maerder snitte beter werk met geurmiddels. Die wye verskeidenheid geure van varkvleis sluit nuanses van soet, vrugte, kruinaeltjie, haselneut en blomgeure in.
Varkvleis is wêreldwyd ‘n gesogte produk. Deesdae word sowat 3,866 miljoen varke per jaar in Suid-Afrika geslag. Die verbruik van varkvleis het ook stelselmatig gestyg en staan nou op sowat 5,2 kg per kop per jaar.
Die afgelope klompie dekades het die varkvleisbedryf besef dat gehalte ‘n al hoe groter rol speel wanneer mense vleis koop. Die gevolg is dat navorsing oor die genetiese eienskappe wat vleisgehalte beïnvloed ook wêreldwyd verskerp is. Die vleisgehalte van varkrasse verskil egter en in navorsing word veral aandag aan die Duroc-varkras gegee, omdat hulle verskeie ekonomies-voordelige eienskappe soos vinnige groei, gehardheid en goeie marmering besit. Daar is ‘n positiewe verband tussen vetmarmering en ‘n goeie eet-ervaring van vleis.
Rol van genetika
Daar is talle individuele gene wat ‘n invloed op die gehalte van varkvleis het, maar die gene wat dit beduidend beïnvloed is geïdentifiseer. Deesdae word inligting van die hele genoom gebruik om die teelwaarde van ekonomies belangrike eienskappe van teelvarke te voorspel. Volgens dié navorsing lyk dit asof die gesamentlike gebruik van spesifieke teellyne met pasmaak voerrantsoene, die diere se vleisgehalte kan optimaliseer.
As teelmaatskappye begrip het vir wat met goeie gehalte varkvleis bedoel word, kan hulle die voortreflikste diere selekteer en reg voer om varkvleis wat in die verbruiker se smaak val, te produseer.
‘n Molekulêre genetiese benadering is ‘n bruikbare hulpmiddel om die kleur en pH van varkvleis reg te kry. Hierdie eienskappe is egter laag oorerflik én wissel tussen verskillende kuddes; dit maak dit moeilik om die eienskappe met gewone seleksie te verbeter en dit maak metaboliese en genetiese seleksie die aangewese pad om te volg om varkvleisgehalte te verbeter.
Niel Dry, ‘n bekende Suid-Afrikaanse varkteler van Noordwes, sê feitlik al hierdie navorsing en teling word deur drie of vier groot maatskappye in die buiteland gedoen. Suid-Afrikaanse telers voer dan teelmateriaal in die vorm van bevrore semen in, teel suiwer varke, doen kruisings en stel weer hierdie teelmateriaal vir kommersiële telers beskikbaar.
Hy kry semen vanaf PIC, en teel uitgesoekte suiwer Grootwit- en Landrasvarke wat dan in ‘n kruisteelstelsel F1-sôe lewer wat aan kommersiële varkprodusente beskikbaar gestel word. Duroc-varksemen word ook ingevoer en is by verskeie KI-stasies beskikbaar vir kommersiële produsente wat dit kan aanskaf om hul F1-sôe te insemineer.
Nuwe tegnieke baan die weg
Jurgens Reynders, hoofbestuurder van DanBred in Suid-Afrika (‘n groot Deense onderneming wat in alle fasette van varkproduksie wêreldwyd betrokke is), sê die fokus is om die ideale vark vir die toekoms te teel. Dit word gedoen deur middel van gebalanseerde teelprogramme waarin verskeie tegnieke ingespan word om die beste inligting te kry en dan die geskikste teeldiere te selekteer. Metabolomiese seleksie is ‘n nuwe tegniek waardeur wetenskaplikes die produkte van die metaboliese aktiwiteite in die vark, wat in die bloed weerspieël word, ontleed om doeltreffende voerverbruik, vleisgehalte en ander eienskappe beter te verstaan.
As ‘n mens die metaboliese prosesse verstaan, is dit moontlik om varke te teel wat voer beter in vleis kan omskakel. Dit beteken meer vleis met minder voer, verlaagde koste en verhoogde produksie. Die oogmerk van hierdie tegniek is 25% vordering in teling.
Met die neem en ontleding van bloedmonsters word ook data versamel ten opsigte van die parameters vir vleisgehalte van Duroc-varke. Data word weekliks van karkasse versamel wanneer die lendestukke van slagvarke ontleed word vir parameters wat verband hou met pH, kleur, binnespierse vet en die skerfbrekingindeks van die spiere.
Daarby gebruik hulle genetiese seleksie om diere te identifiseer wat die gewenste genetiese eienskappe het om so die akkuraatheid van teelprogramme te verbeter. Die sowat 100 000 varkies wat in DanBred se aanlegte gebore word, word almal genomies geselekteer. Daar word gestreef na ‘n balans tussen eienskappe soos voerdoeltreffendheid, groeitempo, oorlewingsvermoë, weerstandbiedendheid teen siektes, werpselgroottes, die langslewendheid van sôe en goeie vleisgehalte. – Andries Gouws, Plaas Media
Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan dr Pieter Grimbeek by pigvet@agrifarmacysa.co.za of Jurgens Reynders by jurgens@danbred.co.za



