Estimated reading time: 2 minutes
Pierre van der Vyver, stigter van House of Fibres en ’n gevestigde rolspeler in die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf, het sy uittrede ná 44 jaar in die sektor aangekondig. Plaas Media se Carin Venter het tydens die onlangse Sybokhaar SA-konferensie met hom gesels oor sy besluit, die stand van die bedryf en sy planne vorentoe.
“Dit was ’n goeie jaar om af te tree,” het van der Vyver gesê en verwys na ’n seisoen gekenmerk deur goeie reënval en sterk produksie. Hy het gesê die bedryf het tans momentum, ondanks wêreldwye ekonomiese onsekerheid. “Wanneer die wêreld deurmekaar is, gaan dit met ons goed.”
‘n Hoogtepuntjaar vir gehalte en pryse
Van der Vyver beskryf sy finale jaar as een van die beste wat hy nog beleef het, veral wat gehalte betref. “Dit is die beste gehalte en voorbereiding wat ek nóg gesien het,” het hy gesê.
Hy het verwys na rekordpryse wat behaal is, onder meer vir uitsonderlike bale tydens veilings. Hy beskou dit as ’n weerspieëling van produsente se toewyding en die hoë standaarde wat plaaslik gehandhaaf word.
Met internasionale ervaring in Australië, Amerika en Europa meen Van der Vyver dat Suid-Afrikaanse produsente die maatstaf stel. “Die mense kyk na ons boere,” het hy gesê.
Oorgang en nuwe rol
Van der Vyver het gesê hy laat House of Fibres nou met vertroue in die hande van ’n jong bestuurspan. Nadat hy die organisasie vir sewe jaar gelei het, sal die dag-tot-dag bestuur nou in die hande van Roché Jongkind, Elrin Davids en Petrie Maré gelaat word.
Hoewel hy formeel uittree, beplan hy om steeds in ’n adviserende hoedanigheid betrokke te bly. Sy fokus sal basies verskuif na tegnologie en ontwikkeling binne die bedryf. Hy sien veral geleenthede in nuwe stelsels en hulpmiddels wat produsente kan help om doeltreffender te boer. Volgens Van der Vyver bly die kerndoel onveranderd: om produsente se winsgewendheid te verbeter.
Hy sien ook groot potensiaal in genetiese verbetering. “Teling – ons het nog net die buiterand gesien. Dit gaan nog baie verander.”
Die sybokhaarbedryf is ‘n familie
Van der Vyver beskryf die sybokhaarbedryf as heg verweef. “Dit is ’n klein bedryf, maar ons is een groot familie,” het hy gesê. Hy sê die samewerking tussen rolspelers en die vlak van kundigheid onder produsente onderskei die sektor van ander landboubedrywe. – Nikilene Steenkamp, Plaas Media
