Estimated reading time: 10 minutes
As Suid-Afrika soveel entstof en pligsgetroue staatsveeartse gehad het soos die skewe feite en blatante leuens wat tans oor bek-en-klouseer (BEK) versprei word, was die krisis waarskynlik in ’n kits opgelos.
Gereeld word op openbare platforms gevra waarom groot voerkrale hul eie entstof mag aankoop en dit deur hul eie privaatveeartse mag laat toedien. Daar word selfs beweer dat rooivleisheffingsfondse gebruik word om hierdie entstof te finansier.
Hoeveel waarheid steek in hierdie vrae, en kan produsente werklik in hierdie stadium ’n politikus se woord vertrou? Daarom het ons eerder direk by twee groot kokkedore in die land se beesvleiswaardeketting gaan aanklop – dr Dirk Verwoerd, voerkraalveearts by Karan Beef, en Nick Serfontein, eienaar van die Sernick-groep – om te hoor hoe hulle die BEK-situasie sien. En wat van die rooivleisheffing – word dit regtig gebruik om entstof skelm in te voer?
Vals nuus verwar
Volgens dr Verwoerd is daar baie misleidende gerugte oor die Karan-groep en entstof. “Die entstof wat hierby betrokke is, is die Botswana Vaccine Institute (BVI)-entstof – ’n baie swak entstof wat verskeie skraagdosisse benodig om uiteindelik beskerming te stimuleer.”
In September verlede jaar het BVI hul laaste produksielot van die jaar vir die Suid-Afrikaanse regering beskikbaar gestel, bestaande uit 700 000 dosisse. Die regering het egter nie dadelik die fondse gehad om dit te koop nie. Dit is vir dr Verwoerd en sy span duidelik gemaak dat die volgende lot eers teen 26 Januarie beskikbaar sou wees, en hulle kon toe reeds die chaos van die afgelope paar maande voorspel.
“Die SA Voerkraalvereniging (SAVV) en die Melkprodusente-organisasie (MPO) het toe die entstof via die Rooivleisbedryfsdienste (RMIS)-platform aangekoop, met die duidelike bedoeling dat dit as voorkomende enting gebruik sou word – kalwers sou ingeënt en dan gekoop word. Die skraagdosisse sou dan tydens die voerkraalperiode gegee word,” verduidelik dr Verwoerd. Hy voeg by dat daar die afgelope vier maande géén BEK-entstof in Suid-Afrika sou wees as die SAVV en MPO nie die entstof aangekoop het nie.
Senior amptenare versteur appelkar
Dit is egter hier waar die strategiese pap op die grond geval het, het dr Verwoerd gesê. “Ongelukkig het sekere senior amptenare dit teengestaan en die voorkomende inentingsprogram is geblok nadat die entstof aangekoop is.”
Die entstof, wat Karan Beef via die SAVV en RMIS aangekoop het, word nou by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) in Pretoria gestoor en mag slegs tydens of in verband met uitbrekings gebruik word. “Jy moet dus wag tot jou huis brand voordat jy kan optree – en dan op jou eie koste. Ons moet aansoek doen vir elke dosis van ons eie betaalde entstof en dit mag slegs gebruik word tydens ’n uitbreking of op kalwers wat uit ’n uitbreking afkomstig is.”
In enkele gevalle, vertel dr Verwoerd, kon hulle aan kalwers uit kwarantynplase binne die 10km-radius van ’n uitbreking hul eerste inenting op die plaas gee. Veertien dae later – na inspeksie deur ’n staatsveearts – is die kalwers na een van Karan se voerkrale vervoer waar die tweede inenting toegedien is. Die administrasie behels ’n lang ketting van vier of meer staatsveeartse in verskillende provinsies wat elk die aansoek moet goedkeur. “Ten minste een van hulle is gewoonlik met verlof,” voeg hy by. Daarna moet ook gereël word dat staatsveeartspersoneel tydens beide die op- en aflaai van vee teenwoordig is. Die hele stelsel is ondoeltreffend.
“Sekere provinsiale staatsveeartse is behulpsaam en probeer hul uiterste bes om binne ’n gebroke stelsel te funksioneer,” sê dr Verwoerd. “Die rooivleiswaardeketting is soos ’n rivier wat móét aanhou vloei. Daar is ongeveer 200 000 kalwers wat oor die afgelope ongeveer agt maande nie aan voerkrale verkoop is nie weens al die BEK-uitbrekings en drakoniese beheermaatreëls. Dit is geld wat nie in produsente se bankrekeninge beland het nie, en vleis wat nie vier tot vyf maande later via voerkrale by die verbruiker uitgekom het nie. Almal verloor.”
Die pogings deur Karan Beef en al die ander voerkrale om die entstof wat verlede jaar in Oktober aangekoop is te gebruik, is juis daarop gemik om hierdie onderbreekte vloei aan die gang te kry. “Produsente met kalwers in bogenoemde kategorieë, wat tot dusver geen bemarkingsuitkoms gehad het nie, kan Karan Beef kontak. Ons sal probeer om saam deur die burokratiese rompslomp te werk tot voordeel van almal.”
Afleggings is ‘n werklikheid
Nick Serfontein, bekroonde megaboer van die Edenville-distrik in die Vrystaat en voorsitter van die Sernick-groep, sê die hele waardeketting van die beesbedryf word negatief geraak. Ook ander landboubedrywe is onder toenemende druk. Volgens hom betree Suid-Afrikaanse landbou ’n donker tydperk en sal boere nou moet kophou.
Die vertrouensindeks
Serfontein sê die landbousakevertrouensindeks wat kwartaalliks deur Agbiz in samewerking met die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) vrygestel word, bied belangrike konteks vir die huidige krisis. Die indeks word al vir 22 jaar gemeet waarvan dit 11 jaar positief en 11 jaar negatief was.
Tot en met 2018 is die indeks hoofsaaklik deur droogtes onder druk geplaas. Ná die uitbreking van Covid-19 in 2020 het dit egter tot sy hoogste vlak ooit gestyg. Landbou was toe die enigste bedryf wat gegroei het – met ’n groeikoers van 15% – en ook die enigste bedryf wat nie werkers afgedank het nie, wat die politici se aandag getrek het.
In 2022, kort ná Covid, het die indeks tot sy tweede laagste vlak ooit gedaal. Volgens Serfontein het dit niks met droogte of die landbou self te doen gehad nie, maar was die gevolg van infrastruktuurverval by Eskom en Transnet, korrupsie, misdaad, veediefstal, ’n disfunksionele dieregesondheidsowerheid en voortdurende onsekerheid oor grondonteiening. Hy skryf die skerp daling aan ’n wanfunksionele regering toe.
Sedert 2024 het die indeks weer begin herstel en teen die middel van verlede jaar verder verbeter, deels danksy goeie reënval in die graangebiede. Dié herstel is egter weer met die uitbreking van BEK ontspoor. Serfontein verwys na die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se syfer van sowat 24 000 BEK-gevalle wat sedertdien aangemeld is.
Enorme impak op landbou
Serfontein sê die landbousakevertrouensindeks bly tans relatief hoog, maar waarsku dat dit by die volgende opname dramaties kan daal, hoofsaaklik as gevolg van BEK en, in ’n mindere mate, midsomerdroogte. Daar word beraam dat sowat ’n derde van die land se beeskudde tans besmet is, maar hy glo, soos baie ander, dat die werklike syfer tussen 70 en 80% lê. Honderde BEK-gevalle word nooit aangemeld nie, omdat plase onmiddellik vir 12 maande onder kwarantyn geplaas word. Beeste mag dan nie verkoop word nie, net geslag word – iets wat hy as “absoluut belaglik” beskryf.
Die gevolge is verreikend: uitvoere word opgeskort, duisende beeste vrek daagliks en die melkbedryf is feitlik tot stilstand geruk. Boere sit sonder inkomste, honderde staar bankrotskap in die gesig, en die emosionele druk is enorm. Werkers word by die duisende afgelê, veeveilings word gekanselleer, en volgens Serfontein kan die situasie jare lank aanhou versleg. Hy beskou dit as ‘n “bloedramp” en verwys na BFAP, wat ’n verlies van sowat R25 miljard in die bedryf oor die volgende tien jaar voorspel.
SA-landbou in die knyp
Serfontein plaas die skuld vir die BEK-krisis reg voor die deur van die Nasionale Departement van Landbou. Reeds in 2016 het die destydse minister, Thoko Didiza, ’n taakspan aangestel om ’n tienjaarstrategie vir dieregesondheid te ontwikkel. In 2021 is ’n tweede taakspan aangewys om die voortgang te evalueer en hul 2022-verslag dui daarop dat dieregesondheid “disfunksioneel en feitlik stukkend” is.
Serfontein waarsku dat hierdie situasie die landboubedryf in ernstige gevaar plaas. Die beesbedryf word swaar getref, terwyl die graanbedryf ook sukkel. Koringboere in die Wes-Kaap en mielieboere landwyd voel die druk, veral aangesien mieliepryse van R5 500/ton in 2022 tot R3 500/ton tans gedaal het – ’n daling van 45% as gevolg van wêreldwye ooraanbod. Intussen styg insetkoste, wat aanplantings teen huidige pryse onvolhoubaar maak.
Hy merk ook op dat die sagtevrugtebedryf onder druk staan, veral weens wisselkoersskommelinge en ongunstige weerstoestande. “Ons betree werklik ’n baie moeilike landboutydperk,” sê hy.
Afleggings in die Sernick-groep
Serfontein sê dat BEK in September verlede jaar op een van hul plase uitgebreek het en kwarantyn ingestel is. Een voerkraal moes volledig uitgeslag word en staan leeg, terwyl twee van die drie gesogte jaarlikse Sernick Bonsmara-stoetveilings gekanselleer is.
Volgens hom bied die groep se geïntegreerde waardeketting ’n mate van beskerming: tans vaar die abattoir, wat vir BEK-slagtings gesertifiseer is, goed, en die voerfabriek funksioneer steeds relatief normaal. Die beesvertakking bly egter onder kwarantyn, terwyl die aanplantings redelik goed vaar. “Ek kan dus nie te veel kla nie, maar ons moes ook koste sny,” sê hy.
Die groep is ook genoodsaak om werkers af te lê, ‘n proses wat vir Serfontein uiters traumaties is. “Dit is baie swaar om mense af te lê wat jare lank vir jou gewerk het. Dit is glad nie maklik nie.” Hy beklemtoon dat BEK die hele waardeketting raak – van voerfabrieke en abattoirs tot koöperasies en moontlik selfs die verbruiker.
Afleggings is ’n werklikheid en Suid-Afrika kan dit nie bekostig nie; met ’n werkloosheidsyfer van 35% sal duisende meer mense sonder werk sit. Hy voeg by dat boere nie hiervoor blameer kan word nie, aangesien hulle eenvoudig nie die inkomste het om hul werkers te betaal nie.
Groter voerkrale en entstof
Serfontein meen dat die invoer van BEK-entstowwe vanuit Turkye en Argentinië – indien dit sou plaasvind – nie ’n doelbewuste poging is om voerkrale te bevoordeel nie. Benewens die BVI-entstof wat die SAVV verlede jaar aangekoop het is voerkrale, uit ’n bestuurs- en regulatoriese oogpunt, relatief maklik om te beheer wanneer dit by BEK-inenting kom.
Hy sê hoewel die regulasies nog nie formeel verander is nie, daar beplan word om dit aan te pas sodat speenkalwers by aankoms in voerkrale ingeënt kan word en drie tot vier maande later geslag kan word. In hierdie verband is daar volgens hom geen wesenlike probleem nie. Die grootste druk lê egter by die melkbedryf, veral in groot Oos-Kaapse eenhede waar BEK reeds vir ‘n tweede keer op dieselfde plase uitgebreek het. Hierdie boere kan eenvoudig nie volhoubaar voort produseer nie. By kommunale boere – wat sowat 45% van die land se beeste aanhou – lei onsekerheid en noodsaaklike verkoop van diere tot verdere verspreiding van BEK.
Serfontein is teleurgesteld in die hantering van die BEK-krisis. Hy glo staatsamptenare ondermyn die ministeriële taakspanne, en dat die kernprobleem onsekerheid is. As ’n boer die regte feite kry, kan ‘n plan gemaak word. Sonder dit spring ‘n boer soos ’n kat op ’n warm stoofplaat rond. Hierdie onsekerheid lei direk tot afleggings en swak beplanning.
Wat nou?
Serfontein sê produsente moet koelkop bly, hul diere in goeie kondisie hou en hul immuniteit versterk terwyl hulle op entstof wag. “Suid-Afrika kan binne 72 uur entstof uit Argentinië invoer – waarom gebeur dit nie?” vra hy.
Hy steun litigasie om entstof direk aan boere beskikbaar te stel. Volgens hom beskik die regering nie oor die kapasiteit om dit doeltreffend te versprei nie en behoort privaatveeartse eerder die taak te hanteer. Serfontein meen vinnige optrede is uiters noodsaaklik, aangesien die virus vinnig versprei en reeds die Noord-Kaap bereik het.
Heffingsgeld vir entstofaankope?
Dewald Olivier, hoof uitvoerende beampte van RMIS, is uitgevra oor aantygings dat dié maatskappy, wat die heffing namens die rooivleisbedryf bestuur, entstowwe aankoop. “RMIS het nog nooit enige entstowwe aangekoop nie. Ons het slegs opgetree – en sal voortgaan om op te tree – as ‘n fasiliteerder vir entstowwe wat deur Artikel 10-skemas verkry word.”
Dié skemas waarna Olivier verwys is spesifiek bedryfsorganisasies soos die SAVV en MPO. “Die statutêre heffing word streng gebruik volgens die prosedures en bepalings van die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte. Die Rooivleis Primêre Groepering (RMPC) verskaf leiding aan RMIS oor prioriteitsareas waar heffingsfondse aangewend moet word. Op grond hiervan ontwikkel RMIS programme en funksies wat dan aan die RMIS-raad vir goedkeuring voorgelê word,” sê Olivier.
Die RMPC verwys spesifiek na die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), die Nasionale Opkomende Rooivleisprodusente-organisasie (Nerpo), die SAVV, en die Rooivleis-abattoirvereniging.
“Sodra die begroting goedgekeur is, skakel RMIS met die betrokke diensverskaffers, met wie ons diensvlakooreenkomste sluit,” sê Olivier. “RMIS rapporteer jaarliks oor die gebruik van die statutêre heffing aan die minister van landbou via die Nasionale Landboubemarkingsraad om volle nakoming te verseker. Daarbenewens dien RMIS sy jaarlikse finansiële state by die ouditeur-generaal in vir oorsig.”
RMIS se jaarlikse finansiële state is op aanvraag van die RMIS-kantore beskikbaar vir besigtiging. – Christal-Lize Muller en Susan Marais, Plaas Media.
Vir meer inligting kontak Nick Serfontein by nick@sernick.co.za, dr Dirk Verwoerd by dirkv@karanbeef.com of Dewald Olivier by dewaldo@rmis.co.za.