BEK-inentingsveldtog onder druk: Entstowwe beskikbaar, maar uitvoering sloer

Share This Post

Estimated reading time: 5 minutes

Bek-en-klouseer (BEK) in Suid-Afrika is steeds nie in sy spore gestuit nie en onsekerheid heers steeds – nie net oor die beskikbaarheid van entstof nie, maar ook oor die inentingsproses self.

Die BEK-bedryfskoördineringsraad (FMD ICC) bied gereelde opdaterings met die nuutste geverifieerde inligting ten einde rolspelers ingelig te hou. Die jongste vrystelling geld vir tot en met 27 Maart 2026 en lig verskeie belangrike kwessies uit.

Read more about biosecurity beyond the farm gate.

Hofuitspraak

Sakeliga, Vrystaat Landbou en die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het die minister van landbou, John Steenhuisen, vroeër vanjaar hof toe geneem om die wetlike gronde vir die verbod op die privaatverkryging van entstof teen BEK te bepaal. Die hof het beslis dat die minister teen 17 April ’n formele skema moet aankondig ingevolge waarvan privaatveeartse ook by die inentingsveldtog betrek sal word.

In sy jongste opdateringsverslag sê die ICC dat die betrokke rolspelers, naamlik die Nasionale Departement van Landbou, die ministriële taakspan en die ICC, dringend byeen moet kom om insette rakende die sogenaamde Artikel 9- en 10-skemas ingevolge die Wet op Dieresiektes te konsolideer en te belyn. Die doel is om deur ’n tegniese, samewerkende proses ’n finale, praktiese en regulatories uitvoerbare skema vir die minister se finalisering voor te lê. Só kan verseker word dat die skema betyds gepubliseer word, in ooreenstemming met die hof se sperdatum van 17 April vanjaar.

Artikel 9 handel oor die beheermaatreëls wat tydens ’n uitbreking toegepas word, insluitend regulasies rakende die beweging van diere en ander risikobeperkende maatreëls. Artikel 10 verwys na die formele skema wat sekere beheer- en implementeringsaksies moontlik maak, onder meer inenting, en wat die praktiese uitvoering van hierdie maatreëls struktureer. Dit gaan dus nie net oor voorkomende inenting nie, maar oor ’n breër, gestruktureerde raamwerk vir implementering.

Volgens dr Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die Nasionale RPO, is dit ’n wesentlike probleem in die land. Boere mag tans nie voorkomend ent nie, maar terselfdertyd kan hulle ook nie hul diere na voerkrale of skoue neem indien die diere nie reeds geënt is nie.

Waar lê die probleem

Hoewel BEK ’n staatsbeheerde siekte is, blyk dit dat provinsiale landboudepartemente nie oor voldoende arbeidskapasiteit beskik om hierdie taak doeltreffend uit te voer nie. Die betrokkenheid van privaatveeartse sal die uitvoering van die inentingsveldtog aansienlik kan vergemaklik.

Hierdie tekortkoming is duidelik te sien in die aantal entstowwe wat reeds ingevoer en aan die onderskeie provinsies beskikbaar gestel is. Volgens inligting wat die FMD ICC tot en met 27 Maart 2026 van Agri SA, sy geaffilieerde liggame en kommoditeitsorganisasies ontvang het, is meer as die helfte van die beskikbare entstofdosisse nog nie toegedien nie.

Dr Maré waarsku egter dat die data wat weekliks ingesamel word kan wissel en nie altyd volledig of foutloos is nie. Gevolglik kan hierdie syfers nie as ’n finale of absolute maatstaf van prestasie beskou word nie.

Stand van entstowwe

Op 20 Maart 2026 het dr BM Modisane, hoofdirekteur van diereproduksie en -gesondheid, ’n brief uitgereik waarin Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) gemagtig word om voort te gaan met die invoer van 1,5 miljoen dosisse BEK-entstof wat deur Biogénesis Bagó vervaardig word.

Die magtiging dui op ’n voorkeur vir entstowwe wat SAT1, SAT2 en SAT3 insluit. Indien dit nie haalbaar is nie, mag entstowwe wat ten minste SAT1 en SAT2 bevat, ingevoer word.

Benewens dit is ’n totaal van ses miljoen dosisse van die Dollvet-entstof reeds vir invoer goedgekeur. Die eerste besending van twee miljoen dosisse word in die derde week van April verwag, waarna die twee oorblywende besendings van twee miljoen dosisse elk sal volg.

Hoe doeltreffend is die inentingsveldtog?

Entstowwe raak dus toenemend beskikbaar, maar wanneer gekyk word na die aantal diere wat wel ingeënt is, wek die syfers ernstige kommer. Volgens FMD ICC is 2 296 037 dosisse reeds deur die provinsiale owerhede ontvang, maar slegs 1 125 880 diere is ingeënt. Suid-Afrika se totale beeskudde bestaan uit 12 470 648 diere, terwyl 1 080 gevalle van BEK-uitbrekings reeds nasionaal aangemeld is. Wanneer hierdie data per provinsie ontleed word, wil dit voorkom asof slegs die Wes- en Noord-Kaap die beskikbare dosisse doeltreffend aanwend. In die Oos-Kaap is 154 651 dosisse ontvang, en is 113 486 diere uit ’n provinsiale kudde van 2 895 096 ingeënt.

Die kommerwekkendste situasie is in die Vrystaat, waar 395 positiewe BEK-gevalle aangemeld is – die hoogste van alle provinsies. Hoewel die provinsie 397 340 dosisse ontvang het, is slegs 86 611 diere ingeënt. Die Vrystaatse beeskudde bestaan uit sowat 1,9 miljoen diere.

In Gauteng is 262 gevalle aangemeld en met die 285 000 dosisse wat ontvang is, is 105 293 diere ingeënt. KwaZulu-Natal, met ’n beeskudde van 2,7 miljoen, het 760 040 dosisse ontvang, maar slegs 445 590 diere is ingeënt.

Limpopo toon op die oog af ’n relatiewe suksesvolle inentingsveldtog. Van die 126 720 dosisse wat ontvang is, is 116 081 diere reeds ingeënt. In Mpumalanga is bykans die helfte van die beskikbare entstowwe benut, met 100 011 diere wat ingeënt is en 197 020 dosisse wat ontvang is.

Daarenteen vorder die inentingsveldtog in Noordwes besonder stadig. Van die 151 420 dosisse wat ontvang is, is slegs 5 662 diere ingeënt. Die provinsie se beeskudde word op ongeveer 1,38 miljoen diere geraam, en 188 BEK-gevalle is reeds aangemeld. In die Noord-Kaap is 18 846 entstowwe ontvang, terwyl sowat 23 000 diere ingeënt is. Die Wes-Kaap, aan die ander kant, het 130 000 dosisse ontvang en reeds al die beskikbare entstof suksesvol aangewend.

Hierdie syfers toon duidelik dat aansienlike pogings aangewend word om entstowwe te bekom, maar dat die knelpunt by die implementering van die inentingsveldtog lê. Die vermoede is dat ’n tekort aan staatsveeartse in die provinsies die tempo van inenting belemmer, en daarom sal die betrokkenheid van die privaatsektor benodig word. Die ander moontlike scenario is dat die rapportering van voltooide inentings nie voldoende is nie.

Dit blyk ook dat die Nasionale Departement van Landbou wel die entstowwe kry en versprei, maar nie oor ’n stelsel beskik om te bepaal hoe vinnig en hoe doeltreffend die veldtog geloods word nie. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 17 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...